Print this page

“Maak dissipels van al die nasies”

Jesus het opgestaan Jesus het opgestaan

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Soos ek reeds gesê het, om dissipels te maak van al die nasies, beteken nie net dat ons roeping is “om siele te red nie”.

Nee, dit gaan oor baie meer as net dit.

Mat. 6:33

Dit gaan oor wat Jesus vir ons in Mat 6:33 leer: "Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."

Dit is om, soos Jesus die 72 geleer het om te doen daar in Lukas 10, om uiteindelik vir mense te sê: Die koninkryk van die hemel het ook hier waar julle op aarde is, ingebreek. Verwag dan om rondom julle en in julle eie lewens oral tekens en bewyse te sien van God se hand wat besig is om te werk. Verwag om iets van die realiteit soos wat dit in die hemel is, ook hier te sien gebeur!

Daardie laaste week

Wat ʼn voorreg is dit nie om juis in hierdie tyd weer vir mense te herinner wat werklik veral daardie laaste week van Jesus se aardse lewe as gewoon mens, van daardie Sondag af (met Sy intog in Jerusalem in, soos Lukas 19:28 vertel), die kruisiging op die Woensdag, 9 April 32 n.C., die drie dae in die graf, en dan Sy opstanding, Sondag, 12 April 32 n.C..

As jy ʼn bietjie weer jou onthou van hierdie gebeure wil opskerp, gaan lees tog weer my hele artikel hieroor op my webblad. (Sien hieronder)

Want as ek en jy die volle impak van wat werklik byvoorbeeld, aan die kruis gebeur het op die 9de April 32 nC, en Sy opstanding die Sondag, gaan ons besef watter goeie nuus ons werklik het vir mense!

Ek skud altyd my kop as ek hoor van hierdie groepie en daardie groepie gelowiges wat nou weer hierdie “waarheid” beklemtoon, of nou weer daardie “storie” het om vir mense te vertel, omdat dit dan sogenaamd so “belangrik vir ons geloof” sou wees!

Krap jy dit ʼn bietjie oop, besef jy hoe hulle maar net weer verdwaal het omdat hulle nie by die eenvoud en kern van die goeie nuus van die Evangelie gebly het nie.

1 Kor. 10:31

Wat belangriker het ons om vir mense te vertel as dat Jesus Christus die nuwe Koning is, en dat dit wat Hy daar gedoen het, alles in en om jou totaal kan verander as jy dit werklik begin glo en begin toepas in elke deel van jou lewe.
Sien, om werklik 'n getuie van die Evangelie te word, behels baie meer as om net EE-3 se metode te volg en om iemand na Jesus te lei. Dit is maar net die begin. Want hierdie nuwe bekeerling moet nou gedissipel word en leer om hierdie Goeie Nuus ook daar in sy/haar leefwêreld te implimenteer, sodat, soos 1 Kor. 10:31 dit so eenvoudig uitspel: "Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God."

Hulle moet leer om in elke deel van hulle lewe, Koning Jesus die Koning te laat wees in hulle lewe en om dinge daar te doen soos wat Hy wil hê dit moet gedoen word, maar ook sodat mense iets van die hemel-realiteit daar kan sien waar word.

Daarom is dit vir my merkwaardig om te kyk hoe Jesus Sy dissipels geleer het om dit te doen.

Ja, Hy het sinagoge toe gegaan en mense daar gaan bedien. Maar dit het Hy ook die res van die week gedoen, oral waar Hy gaan en kom. Vir Hom was dit nie net beperk tot 'n uur of twee per week nie. Nee, dit was 'n 24/7-lewensstyl, presies soos 1 Kor. 10:31 dit verduidelik.

Luk. 10 was ook Jesus se bedieningsmetode

Deel hiervan was dat Hy op die markplein sakemanne en -vroue bedien het soos wat Hy Sy 72 dissipels daar in Lukas 10 geleer het om te doen, naamlik om mense te seën (onthou jy hoeveel keer sien ons Jesus bid en hoor ons Hom praat met die Vader oor die mense rondom Hom!). En ons sien hoe Hy by hulle aan huis kuier en saam met hulle en hulle vriende eet en drink. Maar dan sien ons ook hoe Hy, as Hy nood raaksien, dit bedien deur die krag en gawes van die Gees. En dan hoor ons hoe Hy met hulle praat oor die goeie nuus van God se Koninkryk, die Koninkryk van die hemel, wat ook hier op aarde oral begin gebeur en wat dit impliseer en hoe dit dinge en lewens kan verander.

En ons sien hoe Hy dan diégene wat die boodskap begin glo, verder dissipel en hulle weer leer om Sy voorbeeld te volg en ook "dissipels te maak van al die nasies".

Soos Hy gedoen het, moes hulle leer hoe om effektief in te stap onder die nasies, of dit dorpe of stede was, of groepe mense van die een of ander aard, soos volwassenes of kinders, om daar onder hulle 'n nuwe era wat aangebreek het te gaan demonstreer. Ja, om te wys dat die Koninkryk van die hemel (en hoe dit wat daar 'n realiteit is), ook hier op aarde begin gebeur en wat dit implikasies daarvan is.

Daarom kon Jesus kinders seën en so die hemel en alles wat in Sy Vader se hart was, gaan ooptrek en af-gebid op hierdie kinders en hulle lewens.

Maar daarom kon 'n Johannes die Doper vir soldate wat tot bekering gekom het, sê hoe hulle voortaan, as veranderde mense, daar in hulle daaglikse beroep as 'n soldat anders moet gaan optree en lewe.

So kon Jesus 'n tollenaar, wat voorheen deel was van die hele siek en korrupte regeringstelsel van die Romeinse owerheid, waar korrupsie en selfverryking en manipulasie en onreg aan die orde van die dag was, laat begryp dat die implikasies van die Evangelie van die Koninkryk is dat die manier hoe hy voortaan sy werk moet doen, totaal anders gaan wees as voorheen.

Related items