Nuusbrief

Nuusbrief (235)

Thursday, 14 March 2024 08:48

Maak die mense My dissipels (Deel 10)

 

Met die toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in hulle hand, begelei ROETES 4 en 5 op die toep mense om via verskillende Bybelgedeeltes oor verskillende temas, antwoorde op verskillende vrae te kry, soos:

Hoe hanteer ek mense wat nog verlore is en nie vir Jesus ken nie?

Hoe verander dit ʼn mens se lewe as jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here?

Hoe lyk die lewe van ʼn volgeling van Jesus?

As die Here Jesus jou as ʼn leier geroep het of vir jou ʼn posisie van outoriteit êrens gegee het, hoe dan gemaak as jy ʼn volgeling van Jesus is?

ROETE 5 op die toep gee gebruikers geleentheid om 7 roetes saam te stap om te kan luister hoe God deur verskillende Skrifgedeeltes vir hulle wys hoe ʼn ontmoeting met ʼn lewende God in Jesus Christus, jou lewe radikaal kan verander.

• Hoe dit jou verander van iemand wat probeer om God se genade te verdien, na iemand wat ontdek dat jy nou ʼn erfgenaam is van alles wat aan God behoort

• Hoe God ʼn mens kan verander van iemand wat net vir homself lewe, na iemand met ʼn hart vir ander mense

• Hoe God jou kan verander van iemand wat net heeltyd wil hê, na iemand met ʼn oop hand en oop hart

• God verander ʼn alleen-mens in iemand wat ontdek jy het soveel wonderlike familie in Jesus rondom jou

• Dit is net God wat mense verander wat eens net ander mense gebruik het, na iemand wat ontdek het hoe wonderlik is dit om ander om jou te begin dien met wat jy het

• God verander ʼn mens om te ontdek dat jy nie regtig “so arm is as wat jy gedink het nie”, maar dat jy kan waag om te begin gee uit “die oorvloed en rykdom” waarmee die Here jou seën elke dag

• En dan neem die 7de reis mense om te ontdek dat jy nie net ʼn reisiger op aarde is nie, maar dat God jou kan gebruik as ʼn gids in ander se lewe.

So kom ons aan die einde van hierdie kort gebruikersgids oor hoe jy die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, kan gebruik om ander mense rondom jou te dissipel en te leer alles wat Jesus jou geleer het.

Onthou ook van die webblad wat ons gebou het as ʼn verdere hulpmiddel om saam met hierdie Toepassing te gebruik. Hier is die skakel na hierdie webblad: www.journey-of-discovery.co.za

Om jou verder hiermee te help, het ek die volledige handleiding oor hoe jy hierdie Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, kan gebruik om ander mense te dissipel, vir jou as een dokument wat jy nou gratis kan gaan aflaai hier op die NET gaan neersit:

Klik op bl. 2 van die AFLAAI-E-BOEKE,

https://nuwewyn.co.za/index.php/boeke-en-dvd-s?start=20

op my webblad, www.nuwewyn.co.za.

En gaan laai dan die dokument af met die titel, ’n Gids om die JOURNEY OF DISCOVERY – app te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

Nou kan jy op jou beurt, hierdie toep gebruik om vir ander te leer hoe om mense rondom hulle te dissipel en te leer soos Jesus ook vir hulle beveel om te doen.

So kan God dan ook my en jou gebruik om Sy Koninkryk te laat kom en uit te brei daar waar ons woon, leef en werk elke dag!

Wednesday, 06 March 2024 11:43

Maak die mense My dissipels (Deel 9)

 

Op die fondasie van ʼn Bybelse verstaan van wie jy as nuutgebore mens in Christus Jesus is, skoon gewas deur die bloed van Christus (soos gesimboliseer deur die onderdompeling in die water van die doop), maar ook nou gedoop met die Heilige Gees en toegerus met die gawes van die Gees, word elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, verder begelei in die Skrif om te sien hoe lyk die ware Bybelse kerk en wat beteken dit nou om deel te wees van God se familie hier op aarde.

Van die een stop na die ander, word gebruikers begelei om werklik Ekklesia of die ware Bybelse Kerk te beleef soos destyds in die vroeg-Christelike gemeentes, wat die boek, Handelinge, en ander gedeeltes in die Nuwe Testament, vir ons teken.

Dit alles hoor en lees elke gebruiker van die Toep self uit die Woord van God en hoor hulle uit die mond van God self wat die waarheid hieroor is.

Dit is geweldig belangrik dat mense weer die kans kry om by God self te hoor wat die waarheid is. As hulle rondom hulle kyk, na dit wat ons vandag kerk van Jesus noem, en hoe ons vandag kerk hou en doen, dan kan ons so maklik dink dit is wat kerk werklik is en beteken. En hoe geskok is ons nie soms oor wat ons beleef en hoor in wat in gemeentes gepredik en gedoen word nie!

Daarom neem ROETE 3 mense op hierdie Bybelse reis en wys en leer hulle wat die dissipels destyds by Jesus as die Koning self, geleer het oor wat dit beteken om deel te wees van die Familie van God op aarde.

In die lig hiervan moet hulle dan vir hulleself vrae soos die volgende beantwoord:

Hoe gaan dit wat Jesus ons geleer het, ons hele lewe raak?

Hoe moet dit ons manier van lewe raak en verander?

Hoe gaan dit byvoorbeeld, hoe ons geld en goed in ons lewe hanteer, verander?

As ons werklik glo dat Jesus Christus werklik God is wat mens geword het en wat Sy lewe gegee het sodat ons die Lewe kan ken en dit in oorvloed kan belewe, hoe gaan dit wat ons sê en doen daar by die werk en tussen ander mense beïnvloed?

Kan ons dan enigsins stilbly oor wat Hy in ons lewe gedoen het en hoe Hy ons kom verander het?

En as ons dan oor Hom moet getuig en ander Sy dissipels moet maak, hoe doen ons dit?

Dit alles is wat elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, vir hulleself ontdek met die Bybel op hulle skoot, in ROETE 3.

Saturday, 02 March 2024 11:58

Maak die mense My dissipels (Deel 8)

 

NB: As jy nog nie die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, gaan aflaai het wat ek vir jou en andere gebou het om iemand Bybels te "dissipel" nie, gaan laai dit af deur die volgende instruksies te volg:

Hier is die skakel waarmee jy die toep/app gratis kan aflaai op jou selfoon. https://journey.beezer.com/ Volg dan maar net die eenvoudige instruksies.

Hier is ook die meegaande webblad wat ek en my vriend, Johan Badenhorst van Bloemfontein, ontwerp het om jou verder hiermee te help: www.journey-of-discovery.co.za

Hoe dissipel ek iemand verder?

As ek en jy vandag, in die 20ste eeu, met mense oor Jesus, oor God en selfs oor die kerk praat, moet ons altyd ʼn paar belangrike dinge in gedagte hou.

Dit is belangrik om te onthou dat Jesus self as ʼn mens hier op aarde geleef het van 3 v.C. tot 30 n.C.

Terwyl alles wat God verskillende mense geïnspireer het om oor Hom te skryf in die Nuwe Testament, om en by reeds in die jare 50 tot 70 n.C. geskryf is.

Met ander woorde, tussen my en jou en hierdie gebeure in die Nuwe Testament, lê reeds meer as 1900 jaar.

Hoekom dit vir ons belangrik is om te onthou, is om mooi te dink oor wat sê ʼn mens vir iemand wat sopas vir die eerste keer in hulle lewe werklik van Jesus Christus en die kern evangelieboodskap oor Hom gehoor het. Hoe nou verder? Wat is belangrik om te onthou wanneer ons teenoor so iemand getuig oor Jesus? Wat moet ons sê?

Jesus self het aan ons gesê dat as iemand Hom as Verlosser en Here aanneem in geloof, is dit in werklikheid soos ʼn wedergeboorte wat hier voor ons oë plaasvind. (Kyk maar hoe sê Jesus dit daar in Johannes 3.)

Dit maak van my en jou as’t ware soos die destydse “vroedvroue” wat bygestaan het as ʼn nuwe baba gebore word (want dit het meestal nie in hospitale, waar daar dokters was, gebeur nie).

Die logiese vraag in die lig hiervan is dus of daar iets is wat ons moet doen om te sorg dat hierdie “geestelike geboorte” so natuurlik en so kort moontlik kan plaasvind terwille van die geestelike gesondheid van die nuwe geestelike baba?

Daarom is dit so belangrik om weer te gaan kyk hoe dit in die Vroeg-Christelike gemeentes gebeur het en wat hulle gedoen en gesê het, alles in gehoorsaamheid aan wat hulle by Jesus geleer het om te doen.

ROETE 3

Daarom word elke gebruiker van hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, geleentheid gegee om te gaan kyk hoe die gelowiges in die Vroeg-Christelike gemeentes daar in die begin dinge gedoen en gesê het.

In ROETE 3 word dit opgesom in 7 “STOPS” of bestemmings waar elkeen geleentheid kry om na God te luister en by Hom te hoor wat Hy hieroor in Sy Woord sê.

Kan ek ʼn stukkie persoonlike getuienis in die verband vir jou vertel?

Soos jy weet het ek en my vrou, Hetta, die voorreg om vanjaar, 2024, reeds vir 46 jaar voltyds in diens van Koning Jesus, in Sy Ekklesia of Kerk te wees. Toe die Here my in 1993 opdrag gee om Sy opdrag in Mat. 28:19 te gehoorsaam om mense Sy dissipels te maak, hulle te doop en dan alles te leer wat Hy ons geleer het, moes ek my hele bediening van die vorige 14 jaar (op daardie stadium) in heroorweging geneem en baie krities ondersoek of ek werklik in die tyd gedoen het wat Hy ons opdrag gegee het om te doen.

Jy ken reeds die storie oor my skokkende ontdekking in 1993, toe ek reeds amper 15 jaar ʼn NG Kerk-dominee was. Ja, hoe ek ontdek het dat die “doop” wat ek aan babas van gelowiges bedien het, glad nie ʼn Bybelse doop was nie!

Tot my verbasing het ek ontdek dat die Bybelse doop ʼn DOOP VAN GELOWIGE MENSE was wat net bedien kan word as mense, as kinders of volwassenes, gekies het om in Jesus as Verlosser te glo!

ʼn Volgende ontdekking was dat Jesus, my Verlosser en Here, ook die Doper met die Gees was. Wat gevolg is deur my eie “herontdekking” van die gawes van die Gees!

Seker een van die mees ingrypende openbarings was toe God self, deur Sy Woord, vir my wys dat ʼn “normale geestelike geboorte” dus, wat Jesus “wedergeboorte” genoem het, in die Vroeg-Christelike gemeentes, volgens God se Woord, uit vier dinge bestaan het wat alles op Dag 1 in so ʼn nuwe bekeerling se lewe normaalweg plaasgevind het!

Dit alles het ek in ROETE 3 ingebou sodat elkeen wat die Toep gebruik, geleentheid kan hê om net met God se Woord op hulle skoot, self hierdie dinge uit die mond van die Lewende God te hoor!

O, hoe begeer ek dat iemand dit vir my gesê en geleer het toe ek destyds in my eie lewe op 10 Oktober 1969, tot bekering gekom het! Watter verskil sou dit nie aan my geestelike groei veroorsaak het nie as ek reeds op daardie dag in water gedoop kon word en sommer daardie selfde dag deur handoplegging van ander gelowiges rondom my ook gedoop kon word met die Gees en Sy gawes!

Dit alles leer elke gelowige dit nou deur hierdie Toep op hulle eie selfoon!

Thursday, 15 February 2024 11:58

Maak die mense My dissipels (Deel 7)

 

Ek het mos 'n Toep of App vir jou selfoon gebou waarmee jy iemand anders kan dissipel soos Jesus ons geleer het.

Hier is die skakel waarmee jy die toep/app gratis kan aflaai op jou selfoon. https://journey.beezer.com/

Volg maar net die eenvoudige instruksies.

Hier is ook die meegaande webblad wat ek en my vriend, Johan Badenhorst van Bloemfontein, ontwerp het om jou verder hiermee te help: https://journey.beezer.com/

Einde van verlede jaar was ek besig met 'n reeks om jou te help hoe om hierdie toepassing te gebruik om met iemand oor Jesus te praat en hulle te dissipel.

Ek wil graag 'n bietjie verder gaan hiermee. Daarom ontvang jy vandag reeds DEEL 7 van hierdie reeks. (Die vorige dele van die reeks kan jy op my webblad https://nuwewyn.co.za/ onder NUUSBRIEFIES kry.)

Wanneer ek en jy mense wil “dissipel” soos Jesus ons geleer het in Mat. 28:19, kan ons ’n paar roetes (ROUTES op die toep, JOURNEY OF DISCOVERY) gebruik om dit te doen.

Maak die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, oop en dan verduidelik ek hoekom ek juis hierdie Roetes gekies het as opsies.

ROETE 1
Om iemand anders te “dissipel” soos Jesus ons opdrag gegee het om te doen, beteken heel eerste dat ons met hulle begin gesels oor wat God deur Sy Woord, die Bybel, aan ons sê oor Jesus.

As iemand vir jou sou vra om in ʼn sin of twee op te som waaroor die inhoud van die hele Bybel, Ou en Nuwe Testament, handel, dan is die antwoord baie eenvoudig: Die hele Bybel gaan uiteindelik oor Jesus.

In die Ou Testament lees ons oor hoe die God van die Bybel Homself bekend gemaak het aan mense en met hulle ʼn pad begin stap het, alles ter voorbereiding vir die koms van die Messias, God self, wat as ʼn mens na hierdie aarde toe gaan kom.

In die Nuwe Testament, veral in die eerste vier boeke genaamd Evangelies, lees ons dan oor die koms van hierdie Messias, in die persoon van Jesus van Nasaret, wat tussen 3 v.C. en 30 n.C. in Israel gelewe het, gekruisig is, begrawe is, en na 3 dae uit die dood opgestaan het om vir 40 dae daarna Homself lewend te vertoon aan meer as 5000 mense.

Die res van die Nuwe Testament handel dan oor hoe die Persoon, Lewe en Woorde van Jesus, en ʼn daaglikse liefdesverhouding met Hom, die lewe van Sy volgelinge dramaties verander het, en hoe die God van die Bybel Homself as Vader, Seun en Heilige Gees geopenbaar het aan mense en letterlik met hulle op baie wyses gepraat het.

Daarom bestaan ROETE 1 uit ʼn begeleide toer om die kern evangelieboodskap oor hierdie Jesus met elke mens te deel vanuit die Bybel.

Ons eerste vraag aan elkeen met wie ons die Evangelie wil deel moet daarom altyd iets soos die volgende klink: Wat dink jy oor die Jesus waarvan die Bybel ons vertel? Wie is Jesus vir jou en wie was Jesus werklik?

In ROETE 2 word mense geleentheid gebied om meer as 20 verskillende Skrifgedeeltes te gaan lees en te luister wat God self in die Ou Testament en in die Nuwe Testament oor Homself as die Messias en dan in die persoon van Jesus van Nasaret aan ons gesê het.

Omdat ons immers glo dat God self aan die woord kom wanneer mense die Bybel met ʼn openheid lees, gaan die wonder gebeur dat hulle God in die Persoon van die Messias, Jesus Christus, gaan ontmoet en dit kan hulle hele lewe verander!

Om dit wat in hierdie meer as 20 gedeeltes in die Bybel staan, opsommend saam te vat, eindig ROETE 2 weer met die samevatting van die Evangelieboodskap oor Jesus.

 

Hierdie gedeelte van die profetiese woord vir 2024 gaan seker die kortste deel wees van die woord, maar moenie ’n fout maak nie. Dit gaan seker een van die belangrikste dele wees van die Woord!

Kan ek jou net eers herinner daaraan dat jy die vorige dele van die Profetiese woord vir 2024 en daarna kan kry onder Nuusbriefies op ons webblad by www.nuwewyn.co.za

Die Skrifgedeelte waarop die Here ons aandag vandag vestig, is daardie Woord in Josua 1 en 2.

Gaan lees dit asb., vir jouself!

Toe, gaan doen dit gou, asseblief!

Het jy al gesien hoeveel mense loop deesdae rond met oorstukkies in hulle ore? Ja, sommige loop selfs met hierdie groot luukse oorfone op hulle ore in die straat en in winkelsentrums!

Ek kyk graag F1-reisies. Elkeen van daardie jaers in daardie resies het die heeltyd hierdie klomp stemme in hulle ore.

Vandag wil ek vir jou vra, na watter van die vier stemme wat jy elke dag in jou ore hoor, luister jy?

Luister en glo jy alles wat daardie vrugbare brein van jou aan jou opdis deur die gedagtes en gevoelens wat by jou opkom?

Het iemand al ooit vir jou gesê en geleer hoe om ’n slag baie krities te begin luister na hierdie stem in jou lewe?

Ja, om soos 2 Kor. 10:3 tot 5 vir ons sê, elke gedagte of emosie letterlik by die bors te gryp en vir hulle te vra: Van waar af is jy? Is jy die waarheid? Of kom jy direk uit die hel?

Kan ek vir jou vra: Wat maak jy met daardie tweede stem wat gedurigdeur in jou ore praat? Ja, daardie stem van die mense om jou, jou maats, en die gemeenskap om jou?

In ons kinders en tieners se lewens, praat ons mos hiervan as “groepsdruk”. Maar almal van ons hoor gedurigdeur hierdie stem praat met ons. Deur die TV, sosiale media, koerante, en die mense se gepraat rondom ons by die werk of op straat of by die braaivleisvuur.

Wat maak jy met hierdie stem in jou lewe?

Glo jy alles wat jy hoor of lees? En praat jy lustig saam?

Die derde stem wat elkeen van ons dag vir dag hoor, is die stem van die bose. Ja, jy hoor sy stem gereeld in jou ore!

Die moeilikheid is net dat die meeste van ons nie eers besef dat dit hy is wat praat nie.

Veral nie as hy met ons praat hier van binne af, deur die gedagtes of emosies wat by ons opkom nie!

Ja, hy praat met jou presies soos wat hy met ’n Eva, en ’n Adam, daar in die Tuin gepraat het. (Gaan lees maar weer mooi wat daar in 2 Kor. 11:3 en 4 hieroor staan.)

Die vierde en laaste stem wat met elkeen van ons elke dag praat, as ons stil genoeg word en mooi genoeg luister, is God se stem.

En Hy praat op baie maniere met ons.

Natuurlik praat Hy deur Sy Woord, die Bybel, en elke woord daarin wat korrek vertaal en in konteks verstaan word.

Maar Hy praat ook met ons deur Sy Gees, wat hierbinne in elkeen van ons woon wat gelowige volgelinge van Jesus is.

En dan praat Hy ook met ons deur ander gelowiges.

En deur die gawes van die Gees, soos deur die gawe van lering, wysheid, kennis en onderskeiding van geeste.

Ja, en soms praat Hy met ons deur gebeure, deur die natuur, en soms selfs deur ’n donkie, as ons na niks anders wil luister nie!

Na wie se stem luister jy in jou lewe?

As ek luister na jou storie, en dit wat uit jou mond uit kom, vertel dit vir my baie dinge!

Maar die belangrikste is dat dit my vertel na wie jy luister.

Onthou dan die gebeure daar in Josua 1 en 2.

En onthou hoe, 40 jaar vantevore, die volk, Israel, na die stemme van 10 manne geluister het en geglo het wat hulle sê.

Dit het veroorsaak dat almal bo 20 (Num 14:29), behalwe Kaleb en Josua, gedurende die volgende 40 jaar in die woestyn sou sterf en dat hulle nie die Beloofde land van melk en heuning sou beërwe nie.

Daarom vra ek weer vir jou: Na wie en watter stemme luister jy?

 

Die Here fokus ons aandag op daardie woord in Jes. 60:1 tot 5. Ek haal dit vir jou uit die Amplified vertaling aan:

Arise [from spiritual depression to a new life], shine [be radiant with the glory and brilliance of the Lord]; for your light has come, _
And the glory and brilliance of the Lord has risen upon you.
For in fact, darkness will cover the earth
And deep darkness will cover the peoples;
But the Lord will rise upon you [Jerusalem]
And His glory and brilliance will be seen on you.
Nations will come to your light,
And kings to the brightness of your rising.
Lift up your eyes around you and see;
They all gather together, they come to you.
Your sons will come from far away,
And your daughters will be looked after at their side.
Then you will see and be radiant,
And your heart will tremble [with joy] and rejoice
Because the abundant wealth of the seas will be brought to you,
The wealth of the nations will come to you.”_

Maar dan ook op daardie woord in Deut. 34:8 en 9 waar die volgende in die NIV staan:

_“The Israelites grieved for Moses in the plains of Moab thirty days, until the time of weeping and mourning was over. _

Now Joshua son of Nun was filled with the spirit of wisdom because Moses had laid his hands on him. So the Israelites listened to him and did what the Lord had commanded Moses.”

Sien jy wat staan hier?

Hoor jy wat die Here vir ons in hierdie 2 verse sê?

Moses is dood.

En die mense van God het daarom gehuil en getreur vir 30 dae!

Toe kom God en sê: Dit is nou Tyd om op te staan en om Josua te volg in die nuwe seisoen in; in die Beloofde Land in!

Dit is ook wat ek hoor God vir elkeen van ons kom sê in hierdie nuwe seisoen. Veral in daardie tye wat ons Moses, ons leier, ons droom, dit wat ons gedink het die antwoord is, skielik sterf en stomp eindig!

Ek hoor hoe die Here vir my en jou hierdeur sê: Ja, daar gebeur in almal van ons se lewens hierdie slegte en tragiese dinge. Daarom is dit ook vir ons nodig, as ’n noodsaaklike deel van ons gesond-word, om daaroor te huil en te treur. En die tyd wat ons elkeen nodig het hiervoor, mag verskil.

Maar dan, vir ons lewe om te verander en vir ons om aan te gaan en om die rol te speel binne God se groter prentjie, het ons ’n nuwe perspektief en ’n nuwe Woord van God in ons lewe nodig.

Ja, ons het nodig vir die Lewende God, vir die Koning van alle konings, om vir ons te wys en te sê waarom Hy nou, in hierdie seisoen, besig is ons lewens!

Daarom, hoor die Woord van die Here vir jou en jou lewe, maar ook vir die mense om jou; ja, selfs vir jou dorp of stad, of vir die area en land waar jy tans woon! Hoor hoe God sê: Dit is nou tyd om op te staan!

Ja, heelwaarskynlik voel jy nog nie gereed daarvoor nie. Dit is gewoonlik so. Maar God is nie hier besig om met jou te praat oor wat en hoe jy voel nie; of waarvoor jy gereed voel nie. Nee, God is besig om vir jou dinge te wys van Sy kant af; met Sy perspektief! Hy is besig om met jou hier oor geloof en oor ’n nuwe manier hoe jy daarna kan kyk, te praat. Sodat jy weer hoop kan kry en nuwe hoop kan hê.

God sê vir jou: Dit is tyd… Dit is tyd om op te staan. Dit is tyd om op te hou huil en te treur en te kla oor wat weg is, of wat verkeerd is.

Ja, natuurlik gaan jy nog nie hierbinne voel dat jy reg is om op te staan en of om op te hou treur en kla nie.

Onthou altyd hoe God my en jou verander. Onthou Rom. 12:2.

“... Be transformed and progressively changed [as you mature spiritually] by the renewing of your mind [focusing on godly values and ethical attitudes], so that you may prove [for yourselves] what the will of God is, that which is good and acceptable and perfect [in His plan and purpose for you].”

Vir jou om te verander, en om op te kan staan om te kan doen wat jy moet doen, het dit weer tyd geword dat jy mooi moet hoor wat God besig is om te sê in hierdie seisoen.

Jy het nodig om weer ʼn slag al Sy beloftes aan jou oor die jare te gaan afstof en om daarmee te begin erns maak.

Ja, jy het nodig om op te staan en om daardie vyf sentimeter domino in jou lewe ʼn stoot te gee; of daardie klein tree te gee in die regte rigting!

Ja, dit is jou manier om op te staan en om te begin ingaan in die Beloofde Land wat God aan jou belowe het! Ja, dit het weer tyd geword om God se beloftes in geloof vas te gryp en om in geloof te kies om te glo dat God in die detail van jou situasie betrokke is en dat Hy reeds alles gereed gesit het wat jy mag nodig hê op jou pad vorentoe. Ja, dat Hy ook in jou lewe en vir ons almal in hierdie seisoen, al die Josua’s wat ons mag nodig hê klaar opgerig het en klaar gereed gemaak het vir ʼn seisoen soos hierdie! God het reeds alles gereed gemaak wat nodig is om Sy beloftes te laat realiseer vir jou, jou familie, en hierdie generasie!

 

Skrifgedeelte: Lees Rigters 6 en 7

Julle ken die verhaal van hoe God Homself aan ’n boer, Gideon, waar hy bang-bang besig was om koring in die geheim uit te wan (kyk 6:11), geopenbaar en geroep het.

So openbaar God Homself ook in ons tyd aan sovele mense. Skielik weet hulle net: God het my geroep om in ’n tyd soos dié ’n verskil te maak! Soos in ’n Gideon se geval, kan jy nie jouself indink hoe dit moontlik kan wees dat Hy juis jou wil gebruik nie.

Maar dan, soos wat jy baie versigtig begin doen wat jy moet doen, openbaar God stelselmatig dat dit waarvoor Hy jou wil gebruik, niks met jou of wat jy kan doen of wat jy tot jou beskikking het, te make het nie.

Alles wat hier moet gebeur, gaan uit en uit God se werk wees! Sodat Hy uiteindelik al die lof en eer sal kry!

Moet ek jou herinner aan die tye wat jy, soos ’n Gideon, gaan twyfel of jy werklik by God self gehoor het en of jy werklik Sy stem gehoor praat het met jou?

Onthou dan hoe Gideon, selfs nadat hy in geloof begin doen het wat God hom aangesê het om te doen, telkens maar weer begin twyfel het en vlieswolletjies uitgesit het om net seker te maak of hy reg gehoor het.

Al wat ek weet is dat die God wat werklik ons hart en persoonlikhede ken, in Sy genade, selfs ons vlieswolletjie-toetse beantwoord! Sodat ons kan weet dat dit wat ons in ons hart en gees gehoor het, werklik van God self af was!

Is daar dinge in jou lewe, in jou gees, waaroor jy eens so seker was dat dit van God af was, waaroor jy nou twyfel?

Word stil en gaan maak maar net weer seker of jy werklik God se stem gehoor het.

En jy sal maar net weer ontdek, soos ’n Gideon, dat die God wat ons geroep het, se genade ook vir jou genoeg is en dat Hy Homself met graagte oor en oor aan jou wil kom openbaar.

Wie na Hom in opregtheid en eerlikheid roep en soek, sal ontdek dat Hy getrou is aan Sy Woord en Sy vele beloftes aan ons, en dat Hy Homself deur jou sal laat vind! (Kyk maar wat staan daar in Jer. 29:11 tot 14; Luk. 11:9,10; Fil. 4:6,7).

As dit wat in jou hart en gees is, werklik van God af is, sal Hy dit bevestig as jy met opregtheid vra.

Dan sal Hy ook oral langs die pad bevestig dat dit wat hier moet gebeur, en waarvoor Hy jou wil gebruik in die proses, ten diepste alles van Hom afhang en alles deur Hom sal gebeur! Ja, Hy wil jou gebruik en ander, maar uiteindelik gaan dit alles maar net Hy wees wat dit maak gebeur!

Telkemale gaan Hy vir jou en die paar mense om jou, aansê om stil te word en te luister. Sodat julle kan hoor, soos ’n Gideon daar in Rigters 7, dat Hy dit nie gaan doen en gaan laat gebeur soos julle in julle menslikheid gedink het dit gaan gebeur nie.

Nee, soms gaan Hy jou aansê om 22 000 van die 30 000 te laat gaan! En om selfs ’n bietjie later, 9 700 van die oorblywende 10 000 ook te laat gaan.

Totdat daar net 300 man oorbly!

Natuurlik gaan jou broek aan die bewe raak!

Daarom gaan God jou, in Sy genade, self verseker dat dit Hyself en Sy stem is wat jou aangesê het om dit juis so te doen!

Al moet Hy ’n droom van iemand uit die kamp van die vyande gebruik om jou te verseker dat wat hier aan die gebeur is, God self is wat aan die werk is! Ja, dat die klein ronde garsbroodjie (= ’n Gideon, of jy, in jou situasie), wat Hy hier wil gebruik om Sy Koninkryk hier op aarde in hierdie situasie te laat gebeur, maar net Hy is wat in die detail betrokke en besig is!

Kyk net weer ’n slag mooi na die prentjie van die “garsbroodjie” van die droom! Onthou dan waar alles begin het: By ’n Gideon wat besig was om koring daar in die parskuip, bang-bang uit te wan!

Onthou hoe koringare destyds geslaan moes word, sodat die koringkorrels uit die are op die grond kan val en die kaf die lug kan optrek en deur die wind weggewaai kan word.

Dan word daardie koringare gemaal tussen twee reuse swaar maalstene, tot dit fyn meel was. En dan word daardie meel gemeng met water en olie en gis, en geknie en geknie!

Dan moet dit staan en rys, om maar net weer, ’n bietjie later, afgeknie te word, voordat dit in ’n pan, in die vuur!!!, gesit word en teen ’n hoë temperatuur gebak word om uiteindelik ’n ronde gaar garsbroodjie te kan wees!

Waardeur moes jy nie alles gaan – veral gedurende die laaste twee of drie jaar – om uiteindelik nou gereed te wees vir dit waarvoor God jou wil gebruik om Sy Koninkryk daar rondom jou te laat sigbaar word en deurbreek nie!

 

God wil jou ook in 2024 en volgende jare daaraan herinner dat Jesus die Koning van alle konings hier op Aarde is!

Sy Woord is hier wet.

Sy Woord trek hier die strepe wat saak maak.

Hy maak sekere deure oop en sekere deure bot toe.

Hy sê: Dit is reg en dit is verkeerd. Dit is aanvaarbaar. Dit is onaanvaarbaar.

Ja, natuurlik is en bly Sy karakter suiwer Liefde. Maar Hy is ook ’n heilige God.

Natuurlik is daar by Hom oorvloedige genade. Maar Hy is ook die Enigste Weg, die Enigste en Volledige Waarheid.

Elkeen wat Hom sou aanvaar as Verlosser, gaan ook ontdek dat Hy die Here en Koning is.

En alleenlik hy of sy wat dit glo en aanvaar, ontdek dat daar in hierdie Jesus en in ’n verhouding met Hom Lewe en dit in oorvloed is!

Waar Hy Koning is, is Sy Woord die Aller- en Volle waarheid. Hy het dus altyd die laaste woord!

Daarom was Jesus se boodskap hieroor van die begin af (kyk maar in Mat. 3:14): Bekeer julle. Die Koninkryk van die Hemel is nou ook hier op aarde.

Daarom leer Hy Sy volgelinge om elke dag die volgende te bid:

Ons Vader wat in die Hemel is.
Laat hier op aarde waar word wat reeds in die hemel waar is, soos...
Laat U Naam ook hier geheilig word!
Laat U koninkryk ook hier kom!
Laat U wil ook hier geskied!

Jesus onderhandel nooit met ons hieroor nie!

Daarom het Jesus tydens Sy lewe hier op aarde, nooit mense hiervan probeer oortuig dat Hy die nuwe Koning was nie.

Daarom kan die ware Kerk van Jesus nooit 'n plek wees waar almal welkom is soos wat hulle is nie.

Daarom kan die ware Kerk nooit 'n “ruim huis” wees waar daar ruimte vir almal se menings is nie.

Nee, hier word jy selfs dood uitgedra as die Koning midde ’n herlewing die erns van sonde en die gevolge van sonde wil beklemtoon in die midde van die ware Bybelse Ekklesia. (Hand. 5)

Sien, Jesus se koms as die Nuwe Koning, het alles hier kom verander op aarde!

Ja, selfs die ou verbond en ou testament, moes verander en plek maak vir 'n Nuwe Verbond en 'n Nuwe Testament met nuwe bepalings wat nou geldig is, want die Koning het so gesê.

Daarom het die Wet en Tien gebooie, ja, die hele Tora, nou slegs ‘n Tugmeester na Christus, die nuwe Koning, toe geword!

Nou was die Wet en die Tien gebooie daar om ons te oortuig van sonde en hoe vasgevang ons elkeen in sonde is, sodat ons kan verstaan en kan insien hoe nodig ons juis Jesus as Verlosser, maar ook as Koning in ons eie lewe het!

Jesus Christus is die nuwe Koning, wat nou aan die regterhand van die Vader sit en regeer.

Hy is ook die Salwer met die Gees, wat die Gees van die Vader en die Seun gestuur het om nou in elkeen van Sy mense te kom woon om hulle te lei en te leer. Maar ook om hulle bonatuurlik te salf en toe te rus met die gawes van die Gees wat hulle in staat stel om te doen wat Jesus gedoen het, in Sy Naam, as Sy getuies, as ambassadeurs van Sy koninkryk en koningskap.

Kom ons gesels gou oor die olifant in die vertrek sodra iemand praat van “profesie” of ’n “profetiese woord”.

Ek weet nie of jy ook een van diegene is wat dadelik sinies of selfs ongelowig word die oomblik wat iemand sê of skryf dat hy of sy ’n profetiese woord vir jou het nie.

Natuurlik verstaan ek dit, want daar is baie snert daarbuite wat as profesie of as ’n profetiese woord opgedis word.

Dit mag egter nooit Bybelse gelowiges vooraf negatief of sinies maak teenoor enige profesie of profetiese woord nie.

Vat jou Bybel en gaan lees maar net weer ’n slag 1 Kor. 12 tot 14, ja, al drie hierdie hele hoofstukke, en hoor presies wat God self in Sy Woord sê oor die gawe van profesie en hoe Hy elke gelowige (as hulle gewillig is) juis in hierdie gawe van die Gees wil gebruik in ander mense se lewens!!!

Ware profesie en egte profetiese woorde is dus volgens God se Woord, een van die belangrikste gawes van die Gees waardeur God self met mense wil praat en hulle wil bedien.

1 Kor. 14:3 sê verder vir ons wat God se bedoeling met profesie en profetiese woorde is. Daar staan, en ek haal uit die Ampified Bible aan terwille van ’n beter verstaan:

“But [on the other hand] the one who prophesies speaks to people for edification [to promote their spiritual growth] and [speaks words of] encouragement [to uphold and advise them concerning the matters of God] and [speaks words of] consolation [to compassionately comfort them].”

Tog is die Here baie bewus van hoe die vyand juis om hierdie rede, baie keer juis deur valse profesie en valse profetiese woorde, as ʼn leuenaar gaan kom om mense te bedrieg en te belieg. Daarom gee die Here self aan ons ook 1 Tess. 5:19-23 in die verband:

“Do not quench [subdue, or be unresponsive to the working and guidance of] the [Holy] Spirit.

Do not scorn or reject gifts of prophecy or prophecies [spoken revelations—words of instruction or exhortation or warning].

But test all things carefully [so you can recognize what is good]. Hold firmly to that which is good.

Abstain from every form of evil [withdraw and keep away from it].

Now may the God of peace Himself sanctify you through and through [that is, separate you from profane and vulgar things, make you pure and whole and undamaged—consecrated to Him—set apart for His purpose]; and may your spirit and soul and body be kept complete and [be found] blameless at the coming of our Lord Jesus Christ.

Faithful and absolutely trustworthy is He who is calling you [to Himself for your salvation], and He will do it [He will fulfill His call by making you holy, guarding you, watching over you, and protecting you as His own].”

Daarom, deur die ware Bybelse gawe van profesie, kom die Here dus soewerein en fokus ons aandag op spesifieke Skrifgedeeltes en Skrifwaarhede, wat om die een of ander rede vir daardie seisoen belangrik vir ons as gelowiges is om mee erns te maak in ons nadenke en ons rol in die Here se groter plan in ’n tyd soos dié.

Daarom sluit ek af met ...

Spesifieke Skrifgedeeltes wat baie relevant is vir 2024 en daarna

Gaan lees asseblief hierdie Skrifgedeeltes en vra die Here om self eers met jou uit hierdie gedeeltes te praat.

Mat. 4:17
Joh. 1:11-14
Rigt. 6 en 7
Dan. 3 en 4
Op. 4 en 5
Jes. 6
Op. 20 en 21 en 22
Mat. 28:19
Hand. 1:8
2 Kor. 5:18-21
2 Kor. 6:1-3

Ek wil hierdie eerste deel van die profetiese woord afsluit met hierdie woord:

Alles wat rondom ons en in ons eie lewe afspeel in hierdie seisoen, moet deur die bril en in die lig van hierdie Skrifwoorde verstaan en gesien word.

Dit is van lewensbelang dat ons in hierdie seisoen oral waar ons kom en met wie ons praat en waarmee ons besig is, sal beklemtoon dat die hart van die Evangelieboodskap of Goeie Nuus wat ons het om aan die wêreld om ons te vertel, in die eerste plek ‘n Boodskap is dat Jesus die Koning ook op planeet Aarde is.

Ja, natuurlik is Hy die Verlosser wat Sy lewe gegee het as versoening vir ons sonde! Maar bo alles is Hy die Here en die Koning.

Johannes beklemtoon die merkwaardige waarheid dat daar vir elke mens wat dit waag om na Hom toe te kom, oorvloedige genade en onvoorwaardelike liefde sal wees!

Maar ook Waarheid en niks anders as die volle waarheid nie!

Kou ’n bietjie hieraan!

 

 

Kan jy glo dat dit alweer Desembermaand 2023 is!

Vir meer as 47 weke het ons saam gekuier oor die digitale media-tafel en slukkie vir slukkie geproe aan die NUWE WYN wat die lewende God self aan ons kom bedien het gedurende hierdie jaar.

Vandag is die laaste keer dat ek met jou in 2023 gaan gesels. As ek vroeg volgende jaar, 2024, weer met jou begin gesels, gaan ek aan jou die PROFETIESE WOORD VIR 2024 EN DAARNA wat die Here aan my gegee het, begin bedien.

Daarom, dé! Hier is my afskeidgeskenk vir 2023 aan jou en jou geliefdes!

Dit is 'n PADKAART EN 'N HANDLEIDING oor hoe om die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, te gebruik.

Gaan laai die geskenk asb. af deur op die volgende skakel te druk:

https://nuwewyn.co.za/index.php/boeke-en-dvd-s?download=24:n-gids-om-die-journey-of-discovery-app-te-gebruik-om-mense-dissipels-van-jesus-te-maak&start=20

Ek wil voorstel dat jy aan die hand daarvan die Here self sal innooi om hierdie feestyd self met julle te praat en julle te bedien!

Gebruik die 5 ROETES op die App en laat Hom toe om self aan julle die wonderlike Evangelieboodskap te bedien wat in hierdie feestyd oor die hele wêreld herdenk en gevier word.

Page 1 of 17