Nuusbrief

Nuusbrief (239)

Tuesday, 05 December 2023 13:42

Maak die mense My dissipels (Deel 6)

 

Om mense wat nog nooit die Bybel gelees het of nog nooit die God van die Bybel ontmoet of self met hulle hoor praat het nie, te help en voor te berei om Sy Stem te hoor, is nie so ingewikkeld as wat mense dit maak nie.

Wat ’n mens nodig het, is soms net ’n paar vrae wat as’t ware die brug kan wees om hulle voor te berei en gereed te maak hiervoor.

Die MENU wat elke gebruiker van die toep gevra word om af te laai (en wat hulle dan in die een of ander vorm kan uitdruk sodat hulle dit by elke geleentheid kan gebruik), is presies hiervoor bedoel en hiervoor geformuleer.

Onthou, as mense werklik die Lewende God met hulle hoor praat het by ‘n vorige keer, dan kan jy mos nie net sê: Ek het verlede keer dit of dat gelees, en nou weet ek nog iets nie! Nee, want as jy werklik God met jou hoor praat het, gaan dit jou verander of ten minste maak dat jy iets daarmee wil doen of dit vir iemand anders wil vertel!

Die tweede vraag van die MENU is bedoel om die gesprek aan die gang te kry oor geestelike dinge, op so ’n manier wat vir die meeste mense maklik maak om daaroor te gesels.

Vraag 3 en 4 is bedoel om mense geleentheid te gee om ’n bietjie oop te maak oor die persoonlike dinge waarmee hulle tans worstel, en om ook ’n geleentheid te kry om na te dink oor wie daar rondom hulle is wat dalk ook voor een of ander uitdaging tans staan.

Dan neem Vraag 5 en 6 hulle na die betrokke Skrifgedeelte toe en gee hulle geleentheid om erns te maak met wat daar staan en wat hulle hoor die God van die Bybel self sê. Hulle kry ook ’n geleentheid om te sê wat hulle gaan maak met dit wat hulle by Hom gehoor het.

Vraag 6 gaan jou help om nie net ’n hoorder van die Woord te wees nie, maar om werklik oor te gaan tot aksie en om dit wat jy dan gehoor het wat God vir jou gesê het, te gaan toepas en te gehoorsaam in jou lewe!

Vraag 7 gee vir elkeen wat werklik gehoor het hoe God self met jou gepraat het, die geleentheid om te besluit oor wie rondom hom of haar dalk nodig het om te hoor wat jy vandag gehoor het.

So leer die Toep van die begin af elkeen om te gesels oor wat hulle nuut ontdek en gehoor het. Dit is immers mos ‘n bekende leerbeginsel: As jy werklik iets gesnap en verstaan het, begin om dit ook met ander te deel, en maak dit so vir altyd deel van jouself en jou manier van doen!

Wednesday, 29 November 2023 09:58

Maak die mense My dissipels (Deel 5)

 

Ek wil graag nou die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, wat ek spesiaal vir jou gebou het, stap vir stap met jou deurgaan om vir jou te wys hoe jy die inhoud van hierdie toep kan gebruik om elke dag daar waar God jou geposisioneer het tussen mense in jou gemeenskap en by die werk, ʼn getuie van Jesus te wees elke dag.

Die toep, JOURNEY OF DISCOVERY, is immers bedoel as ʼn stukkie gereedskap wat jy kan gebruik in diens van die Koning as Sy ambassadeur en getuie.

Sodra jy klik op die Toep op jou selfoon, wag ’n oomblik dat al die nuutste veranderinge kan aflaai. Klik dan op “START YOUR JOURNEY”.

Op hierdie bladsy word mense verwelkom en gewys hoe dit wat ons met hierdie Toep kan doen, eintlik ’n soortgelyke reis is as wat Jesus met Sy dissipels, en hulle weer op hulle beurt met ander, onderneem het.

(Dit sien en hoor elkeen dan wat kliek op die video-skakel wat ek daar ingebou het).

Dan verduidelik die toep verder waarom al die roetes op hierdie toepassing mense neem na sekere gedeeltes in die Bybel wat hulle dan moet lees om self God te hoor praat met hulle.

Om te help dat dit elke keer gebeur, word voorgestel dat elkeen die volgende vrae antwoord terwyl hulle ’n gedeelte lees of daarna luister:

Vraag 1: Wat sê hierdie gedeelte werklik vir ons?

Vraag 2: Wat beteken dit wat hier staan werklik?

Vraag 3: Hoe gaan ek reageer in die lig van wat hier staan?

Vraag 4: Vir wie kan ek gaan vertel wat God vir my gesê het?

Omdat die Bybel so sentraal deel is van hierdie proses, gee die Toep elkeen ’n geleentheid om, as hulle nie reeds self ’n eie fisiese Bybel het wat hulle kan gebruik nie, om via die YOUVERSION- of die BIBLEGATEWAY-toep, dan vir hulle ’n Bybelvertaling van hulle eie keuse te kies wat hulle op die verskillende ROETES op hierdie toep kan gebruik.

Kliek vervolgens op INTRODUCING THE APP.

In ’n kort inleiding word mense daarop gewys dat alles op hierdie toep die eindresultaat is van meer as 5 jaar se navorsing van materiaal wat die Here oor die wêreld al vir jare gebruik het om ongelowiges bekend te stel aan die boodskap van die Evangelie van die Koninkryk.

Natuurlik is die hart hiervan die Evangelieboodskap of Goeie Nuus oor Jesus Christus wat hier op aarde in die land Israel gewoon het in die jare 3 v.C. tot 30 n.C.

Jesus se Lewe en die Goeie Nuus hieroor, is natuurlik ook die goue draad wat dwarsdeur die hele Bybel met sy 66 boeke loop.

Volgende keer gesels ons verder.

 

 

Jesus se GROOT OPDRAG aan ons elkeen is: Gaan maak die mense My dissipels, doop hulle en leer hulle alles wat Ek julle beveel het!

Kan ek jou vra: Maak jy werklik mense dissipels van Jesus, en leer jy hulle dan ook hoe om ander dissipels te maak?

Al is ek baie opgewonde oor die hele TIME2RISESA-beweging waarvan ek en duisende ander oral in ons land besig is, weet ek ook dat as daar nie in hierdie beweging dissipels van Jesus gemaak word, wat ook geleer word hoe om ander dissipels te maak nie, kan ook hierdie wonderlike beweging nie werkiik hierdie land en sy differse gemeenskappe blywend verander nie.

Daarom het die Here my al jare gelede (meer as 5 jaar terug) opdrag gegee om 'n Toepassing of App te bou wat op elke selfoon gelaai kan word, wat mense kan help om van ander dissipels van Jesus te maak, en wat hulle weer help om weer van ander dissipels te maak.

Nou is hierdie Toepassing kant en klaar en is dit beskikbaar vir jou en ander om te gebruik.

Jy en jou vriende kan JOURNEY OF DISCOVERY gratis gaan aflaai op julle fone en begin gebruik om te doen wat Jesus ons opdrag gegee het om te doen!

HIER IS HOE JY HIERDIE TOEPASSING OF APP KAN AFLAAI OP JOU FOON?

Kliek op hierdie volgende skakel:

https://journey.beezer.com/

En volg die instruksies van hoe om dit af te laai op jou "HOME"-bladsy van jou foon.

Begin 'n bietjie rondkyk op die Toepassing en vertrou die Here om vir jou een of twee ander mense te wys met wie jy hierdie JOURNEY OF DISCOVERY kan deel!

Wednesday, 22 November 2023 09:39

Maak die mense My dissipels (Deel 4)

 

Vriende, God praat op baie maniere met ons.

Natuurlik praat Hy deur mense met ons, en veral deur ander gelowige volgelinge van Jesus. Dit is hier waar die gawes van die Gees inpas (waarvan ons lees in Rom. 12:6-8 en 1 Kor.12:7-10) en ook die vyfvoudige bedieninge, soos dié van die apostel, profeet, leraar, pastor en evangelis (Ef. 4:11-16). Dit is dan ook hier waar hierdie briefie van my aan jou inpas.

Natuurlik praat Hy ook deur die natuur, die skepping en dinge wat met ons gebeur. Af en toe praat Hy selfs deur ʼn donkie met jou, soos met Bileam die profeet gebeur het! Dit is ook dié dat ek vir my vrou sê: Jy moet selfs af en toe na my, as die donkie in jou lewe, luister! (Grappie!)

Die belangrikste en mees algemene manier hoe God met mense praat, is deur Sy Woord, die Bybel!

Daarom bly die Bybel en dit wat daarin staan – noukeurig en so letterlik as moontlik vertaal, binne die konteks van tyd en verband waarin dit staan en afspeel – ons uiteindelike en finale toets vir wat waarheid is en vir wat werklik van God af is.

Daarom is die hart van die baie suksesvolle Discovery Bybelstudie-metode, wat ook in hierdie Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, gebruik word, om mense geleentheid te gee om na God se stem uit die Woord te gaan luister en so by Hom self te hoor wat Hy te sê het.

Al die vrae wat gebruik word in hierdie metode, is daarop gemik om God self aan die woord te stel en om presies te hoor wat Hy in ʼn betrokke gedeelte vir ons elkeen wil sê.

As elkeen so geleentheid gegee is om mooi te lees en mooi te hoor presies wat in ʼn betrokke gedeelte staan, word die lesers dan uitgedaag om daardie woord toe te pas en te verstaan in die lig van wat in hulle eie lewe aan die gang is.

God en dit wat Hy self in Sy Woord, die Bybel, aan ons sê en openbaar, het dus ook so die laaste en finale woord in elke leser se lewe!

Hoeveel keer sê die Here nie self dit vir ons in Sy Woord nie! Dink maar aan wat Hy self in die volgende Skrifgedeeltes vir ons hieroor sê:

2 Tim. 3:14 tot 16

“Maar jy, bly by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”

Heb. 4:12

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur selfs tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”

Thursday, 09 November 2023 18:24

Maak die mense My dissipels (Deel 2)

 

Elkeen van ons se Groot Opdrag is dit wat Jesus daar in Mat. 28:19 gesê het:

"Gaan dan en maak die mense My dissipels, doop hulle en leer hulle alles wat Ek julle geleer het."

Hier is 'n treffende kort 4-minute YOUTUBE-video hieroor.

https://youtu.be/pJq1N4PiH28

In die JOURNEY OF DISCOVERY-toep, neem ons mense na die Bybel toe, want ons glo immers dat die Bybel God se Woord is!

▪ Die God van die Bybel praat immers deur Sy Woord, die Bybel, en openbaar Homself en Sy wil op baie maniere daardeur.
▪ Al praat God op baie ander maniere ook met mense, bly die Bybel die belangrikste manier hoe die Here self met mense praat en hoe hulle elke keer as hulle daaruit lees, letterlik Sy Stem kan hoor praat met hulle. En as God op enige ander manier met mense praat, is en bly die Bybel en dit wat Hy daardeur gesê het, ons finale toets om seker te weet of dit werklik Hy was wat met ons gepraat het.

Die God van die Bybel praat immers deur Sy Woord, die Bybel, en openbaar Homself en Sy wil op baie maniere daardeur.

 

Al praat God op baie ander maniere ook met mense, bly die Bybel die belangrikste manier hoe die Here self met mense praat en hoe hulle elke keer as hulle daaruit lees, letterlik Sy Stem kan hoor praat met hulle. En as God op enige ander manier met mense praat, is en bly die Bybel en dit wat Hy daardeur gesê het, ons finale toets om seker te weet of dit werklik Hy was wat met ons gepraat het.

Daarom is hierdie toep, JOURNEY OF DISCOVERY, eerstens gebou om mense met verskillende roetes langs met net die Bybel op hulle skoot te neem om self te beleef hoe God met hulle praat.

Hierdie toep is dus nie bedoel om jou, as gelowige, te help met jou daaglikse Bybelstudie of Stiltetyd nie! Nee, daar is soveel ander toepassings wat daarvoor gebou is, soos YOUVERSION of BIBLEGATEWAY!

Die JOURNEY OF DISCOVERY-toep is gebou om jou te help om mense te dissipel, soos Jesus ons opdrag gegee het. Hierdie toepassing is ’n eenvoudige instrument in jou hand om ook op die wyse die Evangelie aan ander te vertel en om hulle te help om via verskillende roetes te ontdek dat God ook met hulle elkeen persoonlik wil praat.

Jy kan dus hierdie toep vir mense gee wat jy weet nie die Here ken nie, om op hulle fone af te laai en dan wys jy hulle hoe hulle dit kan gebruik.

Natuurlik is hierdie toep nie die Alfa en Omega nie! Nee, dit is net bedoel om 'n eenvoudige stukkie gereedskap te wees om mense te help om ander dissipels van Jesus te maak!

En die wonder is dat dit op enige slimfoon verniet afgelaai kan word.

Thursday, 02 November 2023 08:42

Laai die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, af

 

 

Jesus se GROOT OPDRAG aan ons elkeen is: Gaan maak die mense My dissipels, doop hulle en leer hulle alles wat Ek julle beveel het!

Gaan kyk 'n bietjie na hierdie 4 minute-video hieroor:

https://youtu.be/pJq1N4PiH28?si=F5P_ngKFhRwNPZFe

Kan ek jou vra: Maak jy werklik mense dissipels van Jesus, en leer jy hulle dan ook hoe om ander dissipels te maak?

Al is ek baie opgewonde oor die hele TIME2RISESA-beweging wat in ons land aan die gang is, weet ek ook dat as daar nie in hierdie beweging dissipels van Jesus gemaak word, wat ook geleer word hoe om ander dissipels te maak nie, kan ook hierdie wonderlike beweging nie werkiik hierdie land en sy differse gemeenskappe blywend verander nie.

Daarom het die Here my al jare gelede (meer as 5 jaar terug) opdrag gegee om 'n Toep/App te bou wat op elke selfoon in hierdie land gelaai kan word, wat mense kan help om van ander dissipels te maak, en wat hulle weer kan help om weer van ander dissipels te maak.

Vandag is dit weer my voorreg om vir jou te sê: Hierdie Toep of app is kant en klaar!

Jy en jou vriende kan dit GRATIS gaan aflaai op julle fone en begin gebruik om te doen wat Jesus ons opdrag gegee het om te doen!

JOURNEY OF DISCOVERY is 'n stukkie gereedskap wat op jou foon afgelaai kan word en wat jou in staat stel om ander mense dissipels van Jesus te maak, wat ook weer dit kan gebruik om ander te dissipel.

HIER IS HOE JY HIERDIE TOEP/APP KAN AFLAAI OP JOU FOON?

Kliek op hierdie volgende skakel:

https://journey.beezer.com/

En volg die instruksies van hoe om dit af te laai op jou "HOME"-bladsy van jou foon.

Begin 'n bietjie rondkyk op die Toep en vertrou die Here om vir een of twee ander mense te wys met wie jy hierdie JOURNEY OF DISCOVERY self kan beleef!

Van volgende weekk af gaan ek in hierdie briefies vir jou leer hoe om hierdie toep te gebruik in jou bediening na buite toe!

Thursday, 02 November 2023 08:38

Maak die mense My dissipels (Deel 1)

 

In hierdie en die volgende aflewerings gaan ek jou leer hoe om die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

Die afgelope 23 jaar, week na week, het ek deur hierdie nuusbriefie, NOG ’N SLUKKIE NUWE WYN, die waarheid van God se Woord aan derduisende in meer as 1150 aflewerings oopgebreek! Maar dit wat ek in die volgende paar aflewerings aan jou gaan bedien, gaan jou in staat stel om self die Hemel vir een of twee of drie mense oop te sluit!

Ek wil begin deur jou te herinner aan daardie eerste dag in jou lewe wat jy die Stem van die Lewende God gehoor praat het met jou! Onthou jy nog daardie dag?

Ek het nou die dag beleef hoe die Here my herinner het aan 5 sulke dae in my lewe wat ALLES in my lewe verander het! Dit wat ek daardie 5 dae uit die mond van God self gehoor het, het ALLES IN MY LEWE VERANDER! En dit het gemaak dat ek vandag is waar ek is en besig is waarmee ek besig is!

Maar dit is ook die dinge wat maak dat ek vandag gereed is as ek vandag moet sterf!

Ja, dit is ook die dinge wat maak dat ek met tevredenheid kan terugkyk oor my lewe van sowat 70 jaar en kan sê: Ja, dit was nie alles volmaak en perfek nie, maar dit was goed genoeg! Dit maak dat my lewe tot hier werklik die moeite werd was!

In die volgende aflewerings wil ek jou help om vir ten minste een ander mens die hemel oop te sluit en om daardie mens te help om self, met net die Bybel op hulle skoot, die stem van die enigste ware God te hoor praat met hulle!

Ja, ek weet dat daar van julle is wat al iemand anders na Jesus toe gelei het. Maar kan ek jou vra: Het jy daardie mens ’n dissipel van Jesus gemaak?
Dink net ’n bietjie hieroor na.

Om iemand anders ’n dissipel van Jesus te maak, beteken immers om aan iemand die Evangelieboodskap oor Jesus te vertel op so ’n wyse dat hulle werklik beleef dat God self met hulle praat en dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met hierdie God van die Bybel self het.

Daarom moet hulle ontdek dat hulle verlore sondaars is wat op pad is hel toe.


Daarom het hulle nodig om die Goeie Nuus te hoor oor God wat hulle so liefgehad het dat Hy Sy Enigste Seun, Jesus Christus, gestuur het aarde toe om in hulle plek, vir hulle sonde, Sy lewe te gee, sodat hulle, as hulle kies om dit te glo, die Ewige Lewe kan hê en nie verlore sal gaan nie.

Daarom moet daardie geestelike nuutgebore babas, op dieselfde dag van hulle bekering, gedoop word met water, en gedoop word met die Gees.

En dan moet hulle aan die hand geneem word en geleer word wat Jesus ons alles geleer het.

Sodat God hulle ook kan gebruik om weer op hulle beurt, ander mense dissipels van Jesus te maak. Wat weer, op hulle beurt, van ander dissipels kan maak.

Dit is waarom die Here my 5 jaar gelede opdrag gegee het om hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, vir jou te bou en vir jou VERNIET beskikbaar te stel.

Thursday, 26 October 2023 09:44

Die Finalé in Jesus se lewe op aarde!

 

Vandag wil ek jou laat fokus op daardie laaste tonele, wat ons seker met reg die Finalé in Jesus se lewe op aarde kan noem!

Hierdie laaste, finale tonele breek aan met Sy kruisiging, Sy begrafnis en dan, as die Grand Finale, met Sy Opstanding uit die dood na drie dae!

Midde al hierdie gebeure, speel daar in die Allerheiligste van die Tempel die ondenkbare af!

Gaan lees ’n bietjie hieroor daar in Mat. 27:51 en verder.

Kan jy glo, die Gordyn in die Tempel, tussen die Heilige en die Allerheiligste, word van bo tot onder geskeur, want God self het dit uit die hemel geskeur!

Wat ’n Finalé!

Op hierdie wyse sê God self kliphard dat die hele destydse wêreld dit kan hoor: Die finale skakel in die ketting is gebreek! Daar is geen nut meer vir ’n tempel nie! Van nou af kan ek en jy direk na God en Sy troon gaan en met Hom praat!

O, hoe relevant is hierdie boodskap nie ook in ons tyd nie!

Daarom kan ons nooit tevrede wees as mense net na allerlei kerkgeboue toe stroom om God se stem daar te hoor nie!

Daarom kan ons ook nie tevrede wees as net die Christelike godsdiens of Christelike waardes aan mense om ons gegee word om so hulle bloot godsdienstige mense te probeer maak nie!

Nee, hierdie finale gebeure vertel vir ons dat die pad na die Lewende God, Skepper van hemel en aarde, ja, na Hom as ‘n Vader in die hemel, nou vir elke mens oop is! En Jesus Christus en die boodskap oor Sy lewe, dood en opstanding uit die dood, is die deur na hierdie God en ’n intieme liefdesverhouding met Hom toe!

Daarom moet ons nou eerder aan mense die Goeie Nuus van God se Koninkryk vertel! Ja, van die Koninkryk van die hemel wat ook hier op aarde gekom het in Jesus Christus!

En as hulle dit aanvaar en glo, kan ons hulle terug na die markplek toe stuur om in die Naam van hierdie Koning te gaan besigheid doen.

Daarom moet ons ook hierdie nuwe bekeerlinge alles leer wat ons by Jesus geleer het. Om ook so die kultuur rondom ons in die besigheidswêreld te verander!

Dit is immers wat Jesus ons beveel het om te doen: Gaan maak mense My dissipels en leer hulle alles wat Ek julle geleer en gewys het.

Dit beteken dan ook dat ons hulle moet leer hoe om ander weer dissipels te maak, en hoe om hulle te leer om ook weer van ander dissipels te maak.

Onthou dat Jesus ons belowe het dat Hy heeltyd by ons is. Om ons elkeen te gebruik om te doen wat Hy gedoen het.

So het Jesus vir ons ’n strategie gewys hoe om die Babiloniese sisteem wat ons rondom ons sien, aan te vat en om dit te vervang met ’n ander kultuur, die kultuur van die Koninkryk van die hemel.

Dit sal ook beteken dat ons die derduisende oppad, wat honger en dors is, kos sal gee.

Maar nee, dit beteken nie om ’n boodskap van voorspoed aan almal voor die voet te verkondig nie!

Nee, verkondig eerder die boodskap van die Koninkryk, van God se genade wat genoeg is en van ’n God wat vrygewig is in Sy gee!

Vertel hulle van ’n God wat wil seën en gee sodat ons genoeg kan hê om ook mildelik vir ander te gee waar daar nood is.

Dit is die soort boodskap en goeie nuus wat nou nodig is op aarde.

Want ook vandag moet mense die Goeie Nuus hoor oor ’n Koninkryk van die hemel wat besig is om hier op aarde deur te breek!

O, hoe smag die wêreld nie al vir honderde en honderde jare na hierdie boodskap nie!

 

Onthou, waarmee ons besig is! Ons is besig om met die oë van iemand uit besigheid na Jesus en Sy lewe te kyk as ’n voorbeeld vir hoe ons in die besigheidswêreld, in Jesus se Naam, elkeen ’n verskil kan maak.

Vandag wil ek met jou gesels oor hoe Jesus die Romeinse owerheid aangevat het wat in Sy tyd op aarde, agter die skerms die trom geslaan het!

Kan jy dink hoe al hierdie verdrukking en onreg wat in die tyd van Jesus op aarde aan die gang was, ’n weerstand en opstandigheid onder janalleman laat opbou het!

Oral het mense en groepe begin opstaan en opstandig geword! En die Romeinse owerheid het gereageer met hulle tipiese brutale geweld en plase en huise afgebrand en links en regs mense voor die voet doodgemaak!

Maar terug na Jesus en die gesin waaruit Hy gebore is.

Onthou, Jesus se ouers was een van die brandarm gesinne in Nasaret. (Daarom het hulle net ’n paar duiwe gebring as offer met Sy besnydenis op 8-dae oud.)

Uit die geskiedenisboeke se vertellings weet ons dat sowat 5 kilometer van Nasaret af, in die klein dorpie, Seforest, in die jaar, 7 n.C., toe Jesus 10 jaar oud was, was daar hierdie opstand onder die dorpie se inwoners. En ons lees hoe die Romeinse soldate gekom en meer as 2000 mans in die openbaar gekruisig het terwyl almal van daardie omgewing gedwing was om toe te kyk!

Tussen hierdie mense het Jesus ook dus heelwaarskynlik gestaan.

Kan jy dink hoe al hierdie dinge Jesus se lewe geïmpakteer het!

Daarom het Jesus in Sy hele openbare bediening gefokus op die godsdienstige tempelleiers wat lustig met hierdie brutale Romeinse owerheid saamgewerk het.

Jesus was dus so besig om al hierdie koninkryke in beheer, wat mense se lewens hel gemaak het in diens van Satan en sy magte, uit te daag en aan te vat.

’n Nuwe Koninkryk met ‘n nuwe Koning in beheer, was nou hier op aarde!

En soos daardie Klip of Rots waaroor Daniël geprofeteer het, sou hierdie nuwe Koninkryk hier op aarde, stadig maar seker, elke ander koninkryk uitdaag en uiteindelik platvee!

Daarom was Jesus se eerste woorde in die openbaar: Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel is naby, is hier!

Die Goeie Nuus en waarheid hieroor, sou nuwe lewe aan mense bedien en hulle werklik begin vrymaak!

Daarom moes daar ook aan die geestelike leiers in Sy tyd gesê word: Bekeer julle! Julle is slange uit die hel! Bekeer julle van al die onreg waarmee julle besig is! Stop die korrupsie! Hou op om julle eie mense dood te maak.

Daarom het Jesus selfs met die sweep onder hierdie leiers ingeklim en ook die tempel aangevat, want die tempel en sy personeel was immers intrinsiek verweef met hierdie korrupte en siek sisteem!

Maar daarom het Jesus Hom ook toegespits op die belastinggaarders, want hulle moes die taks namens die sieklike Romeinse owerheid insamel.

Maar daarom het Jesus ook oral om Hom janalleman gevoed en kos gegee.

Let ook op die skaal en wyse waarop Jesus dit gedoen het.

Hy het nie net bloot vir hulle elkeen iets gegee om te eet nie. Nee, Hy het dit op ’n skaal gedoen dat hulle iets van God se soort oorvloedige genade en Sy soort ekonomie en vrygewigheid kon sien en beleef!

En dan het Hy ook oral mense genees en vry gemaak van die demoniese magte wat hulle gebind het.

Sodat hulle nie meer nodig gehad het om na die tempel (en die “genesers daar”) te hoef gaan nie!

Wednesday, 11 October 2023 18:51

Weer ’n keer oor Jesus!

 

Ons is besig om met die oë van ’n besigheidsman of -vrou te kyk na Jesus en Sy lewe hier op aarde, as ’n voorbeeld vir ons as Sy volgelinge in die markplek.

Om Jesus en die verskil wat Hy destyds gemaak het, mooi te verstaan, moet ons as’t ware oor 2000 jaar se geskiedenis terugklim om iets te verstaan van die wêreld waarin Jesus daardie 33 jaar hier op aarde geleef het!

Dit was seker een van die mees brutale, bloeddorstige, gewelddadige en korrupte tye in Israel se geskiedenis in daardie tyd!

Negentig present van die bevolking was brandarm en leeggesuig deur godsdienstige leiers en priesters “in diens van God”, maar wat agter die skerms blote pionne was van ’n groter politieke mag!

Kinders was oral besig om te sterf van honger.

En boonop was daar ‘n droogte in die land, want God kon nie seën wat in daardie land aan die gebeur was nie!

Mense kon ook nie eers meer met hulle tiendes hulle tempelbelasting betaal nie, want hulle het niks gehad om mee te betaal nie. Boonop het die priesters hulle laat dink dat dit wat hulle nog het en nog bring, ook nie goed genoeg was nie, en daarom omgeruil moes word vir iets beter (maar ook duurder!)

So het janalleman op die strate van Israel net armer en armer geword en dieper en dieper in die skuld geraak “by die tempel”.

Ja, die tempelpersoneel het lustig geld geleen vir die wat nie genoeg gehad het nie, net om môre en oormôre alles te kom vat wat hulle nog oorgehad het, omdat hulle nie hulle skuld kon betaal nie. En dan is janalleman gedwing om daardie lande te bewerk vir die priesters en die “tempel-sisteem” vir ’n absoluut skandelike minimumloon!

Ouers kon dalk nog vir hulleself iets koop om te kon eet, maar dan was daar net nie genoeg ook vir die kinders nie!

So het van die ouers hulle kinders begin verkoop net om te kan oorleef! Ja, seks-handel was reeds in Jesus se dae een van die grootste kriminele besighede!

Dit is ook waarom Jesus so op kinders en God se wil en plan vir kinders gehamer het!

Hier was dus ’n land en sy mense wat geboelie en verslaaf was juis deur ‘n godsdienstige sisteem wat hulle met hulle lewe vertrou het!

Ek wonder in my stilligheid hoeveel mense word vandag nog besteel en belieg deur godsdienstige sisteme wat hulle met hulle en hulle kinders se lewens vertrou!