
Nuusbrief (88)
Dag 21 – Die Bloed van Jesus het my verlos uit die houvas van Satan. Ek is nie meer ʼn slaaf van sonde nie
Handelinge 26:14-23Ons is besig om die Here self toe te laat om deur Sy Woord, die Bybel, vir ons te wys wat presies gebeur het toe ons in geloof vasgegryp het dat Jesus Christus werklik die Lam van God was wat Sy Bloed vir ons gegee het. Daardie oomblik wat ons dit in geloof vasgegryp het, het merkwaardige dinge in ons begin gebeur. Kom blaai saam met my na dit wat daar in Handelinge 26 staan waar Paulus besig is om teenoor Koning Agrippa te getuig oor sy eie bekering en wat daar gebeur het. Kom ons lees hardop van vers 14 tot vers 23. Probeer om dit in jou eie woorde oor te sê wat die Here hier vir jou vertel. Kyk of jy in die verse kan raaksien wat in jou eie lewe gebeur het toe jy die eerste keer die goeie nuus in geloof vasgegryp het oor wat Jesus aan die kruis en deur Sy Bloed vir jou gedoen het. Hier is wat ek raakgesien het in my eie woorde: • Die een oomblik was dit nog pikdonker in jou lewe en was jy totaal blind vir God en dit wat Hy doen. Die volgende oomblik kon jy sien en was dit lig! • Die een oomblik was jy totaal vasgevang en ʼn slaaf van Satan en kon jy niks anders doen as om te sondig nie. Jy was deur en deur sondaar en niks goed kon uit jou uit kom nie. Selfs jou beste dade en beste bedoelings was deurspek van sondigheid en kon nie God behaag nie. • Maar die volgende oomblik het dit wat Jesus vir jou gedoen het deur Sy lyding, sterwe en opstanding, omdat jy in geloof gekies het om te glo dat Hy dit ook vir jou gedoen het, ʼn sleutel geword wat hierdie boeie en hierdie tronk oopgesluit het. • Jy was in een oomblik ʼn nuwe mens, wat letterlik uit die dood opgestaan het. • Van ʼn totaal verlore sondaar, tot niks goeds in staat nie, het jy verander in ʼn nuwe skepsel, ʼn nuwe Adam, nie meer sondaar nie, maar nou mens van God, geskape na God se beeld, in staat om te doen wat God oorspronklik bedoel het as jou opdrag as mens. • Daarom sal mense om jou duidelik die verandering in jou lewe en optrede sien uit “dade wat by die bekering pas”. Gebruik jou gesprek met die Here in gebed om Hom dankie te sê hieroor en om Hom te antwoord op wat jy gehoor het. |
Dag 20 - Jesus sê dit is soos ʼn nuwe geboorte
Handelinge 2:37-41Die oomblik wat ek en jy in geloof kies om te glo dat Jesus se bloed vir ons gevloei het aan die kruis, gebeur daar iets merkwaardig in ons. Onthou jy wat Jesus vir ons daar in Johannes 3:3,14-16 gesê het? Blaai net weer soontoe en lees dit hardop vir jouself. Probeer om dit wat jy hoor in jou eie woorde oor te sê. Wat ek hoor is die volgende: Dat wanneer iemand “opkyk” in geloof na die Een (Jesus) wat “aan die paal gehang het” (die kruis) en kies om te glo dat Jesus na hierdie aarde toe gekom het om aan die kruis ook vir jou en jou sondes te sterf, is dit asof jy “weer”, vir ʼn tweede keer, gebore word. Jy ontvang letterlik ʼn nuwe lewe (want jy was dood as gevolg van die sonde in jou lewe), wat Jesus “ewige lewe” (ʼn lewe wat vir ewig duur) genoem het. Op ʼn hele paar plekke in die Bybel verduidelik die Here vir ons hoe hierdie geboorte plaasvind. Een van die gedeeltes is daar in Handelinge 2:37 tot 41 waar ons lees van meer as 3000 “nuwe babas” wat op een dag “nuut gebore is” en so deel geword het van die Kerk van Jesus. Kyk en luister saam met my na wat hier staan in die verse oor hoe dit gebeur het. • Nadat Petrus vir die skare vertel het van Jesus wat hulle gekruisig het, terwyl Hy in werklikheid die Here (die nuwe Koning van hierdie wêreld) en die Christus (die Messias wat God in die Ou Testament belowe het, soos daar in Jes. 53), het hierdie mense besef wat hulle gedoen het en besef dat hulle “verlore is”. Daarom vra hulle in vers 37: “Wat moet ons doen, broers?” • Dan antwoord Petrus: “Bekeer julle!” (Wat maar ander woorde is vir: “Draai dan om, verander van mening!” Waar julle voorheen nie wou glo dat Jesus die Here en Verlosser is nie, kies om nou te glo dat Hy wel ook gekom het om ook jou Here en Verlosser te wees!) • Uit wat ons in Rom. 10:9 gelees het, weet ons dat hierdie mense dit hardop met hulle mond gesê het sodat almal kon hoor hulle het hulle “bekeer”. Hulle het hardop iets soos die volgende gesê: “Here, ek is verlore. Maar dankie dat Jesus ook vir my sondes gesterf het aan die kruis. Ek neem Hom nou in geloof aan as my Verlosser en Here!” As die ander gelowiges hierdie woorde uit hulle mond gehoor het, het hulle geweet “hier is nou ʼn nuwe geloofs-baba gebore.” En hulle het hulle geneem na waar daar water was en hulle daar “gedoop in die Naam van Jesus Christus” (vers 38), as teken dat God hulle sondes vergewe het. • Dan het die gelowiges hierdie nuwe bekeerling, na die doop in water, hande opgelê en vir hulle iets soos die volgende gebid: “Here Jesus, U is nie net ons Verlosser en Here nie. U is ook die Doper met die Gees. (Hand. 1:5; 2:33) Doop nou ook hierdie nuwe gelowige met U Gees. Skenk aan hulle die gawes van die Gees wat hulle nodig het om deur U gebruik te word daar waar U hulle geplaas het. (Lees self hoe die laaste gedeelte van vers 38 in Hand. 2 en dan ook die hele vers 39 dit sê.) Ek kan vir jou ʼn hele paar ander gedeeltes in die Bybel wys om vir jou te bevestig dat dit was hoe ʼn “normale geestelike geboorte” in nuwe gelowiges se lewens gelyk het in die Vroeg-Christelike gemeente. En as dit om die een of ander rede nie so gebeur het nie, het die ander gelowiges gou-gou dit “reg gemaak”, want ʼn geboorte wat nie reg en normaal plaasvind nie, veroorsaak erge probleme na die tyd. (Kyk na gedeeltes soos Hand. 8:4 tot 17; 19:1-7). Kom ek sluit af met ʼn persoonlike getuienis. Die dag toe ek en my gesin (onthou, ek was op daardie stadium reeds vir 14 jaar die dominee in ʼn NG-gemeente) ontdek het wat ek vandag vir jou gewys het uit die Bybel, het ons besef dat die “doop” waarmee ons gedoop is as babas in die NG Kerk, nie die doop van die Nuwe Testament is nie. Die doop van die Nuwe Testament (lees maar bv., Rom. 6:1-14) kan net aan mense wat glo in Jesus as Verlosser en Here bedien word, en daarom kan babas nie met die Nuwe Testamentiese doop gedoop word nie. Daarom is ons hele gesin (ek en my vrou, en ons twee kinders wat toe ook al reeds Jesus aanvaar het as Verlosser en Here) gedoop met water en hande opgelê om so toegerus te word met die gawes van die Gees. Dit is waarvan die Here deur Sy Woord ons oortuig het. As wat ek jou vandag uit Sy Woord gewys het, werklik die Lewende God was wat met jou gepraat het, hoe gaan jy reageer in die lig daarvan? Praat met Hom daaroor in gebed. |
Dag 19 – Die Bloed van Jesus het my vergifnis van al my sondes geskenk
Die Bloed het my sonde weggewas.Jesus het tydens Sy openbare bediening in daardie laaste drie jaar van Sy lewe op aarde allerlei wonders gedoen – wat tussen die jare 29 tot 32 na Christus volgens die nuutste navorsing was. Hy het honderde siekes genees, verlamdes en gestremdes volkome herstel en mense wat demonies besete en vasgevang was, verlos. Hy het selfs dooies weer lewendig gemaak. Hy het ook getoon dat Hy die natuur kon beheer. Maar seker van Sy grootste wonderwerke was dit waarvan ons in vandag se Skrifgedeelte gaan hoor. Lukas 5:17-26, en fokus op vers 21 tot 26Blaai na Lukas 5 en lees hardop wat God self hier vir jou sê, van verse 17 tot 26, maar spesifiek dan dit wat daar in verse 21 tot 26 staan. Probeer om in jou eie woorde vir jouself te sê wat beteken dit dat God jou sonde vergewe het omdat die Bloed van Jesus daarvoor gevloei het. Om jou ʼn idee te gee wat ek bedoel daarmee, kom ek probeer in my eie woorde sê wat vergifnis van sonde vir my beteken... • ʼn Nuwe begin, soos ʼn silwerskoon dagboek met skoon bladsye • God het al my sondes en verkeerde morele keuses wat ek doelbewus en selfs onbewustelik gedoen het, vergewe, vir ewig weggeneem en so deeglik uitgewis dat selfs Hy dit nooit weer gaan ophaal of selfs onthou nie • Al daardie skuldgevoelens en skaamte daaroor kan ek net hier neersit en hoef nie meer een tree verder saam gedra word nie • My verhouding met Hom as Heilige God is volkome herstel en ons is volkome met mekaar versoen • Ek kan nuut begin, oor begin. Ek het ʼn nuwe, beter toekoms wat nou voorlê. Praat hieroor met die Here in gebed. |
Dag 18 – Die Bloed van Jesus het jou vrygemaak
Jesus het opgestaan uit die dood op 12 April 32 n.C.Jesus Christus het opgestaan! Ons Here en Koning lewe! Die afgelope tyd het ons stilgestaan by die kruis en die oop graf van Jesus. Ons het toegelaat dat God self met ons uit Sy Woord, die Bybel, praat oor hierdie gebeure en hoe dit die Joodse fees, die Pesach of Pasga-maal, in totaliteit vervul het en voor ons oë in die geskiedenis laat uitspeel het. Ja, die uittog uit ʼn lewe van slawerny onder die dwingelandy van ʼn demoniese heerser, Farao, was werklik historiese gebeure in die lewe van die Joodse volk en jy kan dit gaan navors uit die geskiedenis. Boonop word dit vir meer as ʼn 1000 jaar jaarliks herdenk deur Jode oral oor die wêreld met die Pasga-maal. Hierdie jaar, 2020 volgens ons kalender, was dit op Woensdag, 8 April, gevier, gevolg deur die fees van die eerstelinge en die sewe dae daarna wat net ongesuurde brood (brood wat sonder gis gebak word) geëet word. Dit het die Joodse volk tyd te gee om hulle lewens te ondersoek in die lig van die boodskap dat hulle deur die bloed van die lam vrygekoop is. As Nuwe Testamentiese gelowiges, glo ons die goeie nuus van die Evangelie oor Jesus! Ja, dat Hy, as die Lam van God, deur Sy lyding, Sy dood, die drie dae in die graf en die opstanding uit die dood, op ʼn volkome wyse elke profetiese simbool in elke Joodse fees, en dus ook in die Pasga-maal en die feeste daarna, vervul het deur die gebeure wat veral in daardie week in die geskiedenis, van die 6de tot die 12de April 32 n.C., plaasgevind het. Ja, dit wat ons met mekaar saam gelees het uit die Bybel oor daardie week, was dus ook nie net ʼn storie, in die sin van ʼn soort feë-verhaal, nie! Dit het ook werklik gebeur! Daarom kan jy oor hierdie gebeure gaan lees in meer as 10 000 ander historiese boeke en bronne behalwe dit wat in die Bybel hieroor staan! Die afgelope paar dae kon ek en jy aan die voete van Jesus, uit dit wat ons in Sy Woord, die Bybel, hardop gelees het, dit as’t ware uit God se eie mond weer gehoor het. Kom, tel Sy Woord, die Bybel, op en lees hardop vandag vir jouself en vir dié wat op die een of ander wyse by jou is, die volgende gedeeltes en dan hoor jy uit die Here se mond wat hierdie gebeure vir jou vandag, in 2020, sê en belowe. Eksodus 13:3-11Lees eers Eksodus 13:3-11. Onthou, die Joodse volk, is vry en is op pad deur die woestyn, weg van die lewe van slawerny van 430 jaar, op pad na die land, Kanaän, ʼn land van melk en heuning, waar hulle eens en vir altyd vry gaan wees. Hoor wat sê God self hierin vir jou oor Homself, oor die mens en spesifiek vir jou vir jou eie lewe. 2 Kor. 5:17- 6:2Blaai nou na 2 Kor. 5:17 tot 6:2 en lees wat sê God hier. Hoor wat sê Hy hierin vir jou oor Homself, en spesifiek oor jou as gelowige wat glo dat Jesus ook vir jou die volle prys betaal het deur Sy Bloed. Dank die Here daarvoor as jy met Hom praat in gebed. |
Dag 16 en 17 – Die gebeure van daardie Saterdag tot Sondag, 12 April 32 n.C.
Ons Verlosser het opgestaan uit die graf daardie Sondag, 12 April 32 n.C.Kom ons kry net weer gou ons somme reg. Jesus self het geprofeteer dat Hy vir “drie dae en drie nagte” in die graf sou wees. Gaan lees dit self daar in Mat 12:40 waar Jesus dit gesê het. Dit is dan ook waarom daar aan die soldate gesê is wat Sy graf moet bewaak, dat hulle dit vir drie dae moet bewaak. Lees dit self daar in Mat. 27:63,64. As ons die som van “drie dae en drie nagte in Joodse dae bereken, beteken dit... Woensdagaand van 18h00 tot Donderdagaand 18h00 – Die eerste dag en nag in die graf vir jou en my. Donderdagaand 18h00 tot Vrydagaand 18h00 – Die tweede dag en nag in die graf vir jou en my. Vrydagaand 18h00 tot Saterdagaand 18h00 – Die derde dag en nag in die graf vir jou en my. En dus êrens na Saterdagaand 18h00 en voor Sondagoggend vroeg, het Jesus opgestaan uit die dood as teken dat die Vader dit wat Hy vir en namens my en jou gedoen het deur Sy lyding, Sy dood aan die kruis, die helse smarte en straf wat Hy namens ons gedra het, Sy Bloed wat vir ons gevloei het, die tyd in die graf, ALLES... ALLES... ALLES toegedek, betaal en gedra het in my en jou plek as sondaars - wat niks anders as die hel verdien het nie en wat deur ʼn Heilige God, soos ons was, nie voor Sy oë verdra kon word nie. Maar nou, toegedek deur die Bloed, kan hierdie Heilige God, elkeen wat dit wat Jesus gedoen het, in geloof aanvaar, totaal vryspreek en hulle sonde vergewe. Want hulle straf is gedra en daar is met bloed vir hulle sonde betaal. Luister saam met my na ʼn YouTube-video wat ek hieroor gemaak het. Hier is die skakel daarheen: Video - "Lockdown"- Tot ons seën! Jy kan dit vandag gebruik of môre vir jou (en diegene saam met jou) se saamwees saam met Jesus by die huis. Mag dit werklik julle seën. Stuur dit gerus ook aan na ander as dit jou geseën het. |
Dag 15 – Die gebeure op daardie Vrydag, die 11de April 32 n.C.
Die betekenis van die Bloed van JesusJa, ek weet ʼn groot deel van die Christen-wêreld praat vandag van as “Goeie Vrydag” en herdenk die kruisiging van Jesus asof dit op die Vrydag van daardie week plaasgevind het. Ek en jy weet egter dat Jesus reeds die Woensdag van daardie week gekruisig is. Ja, ja, ek weet, daar word gepraat in die Bybel van ʼn Sabbat net na Sy kruisiging, en dat die tipies normale Sabbat van die Jode gewoonlik van Vrydagaand, 18h00, tot Saterdagaand, 18h00, is. En dit is normaalweg waar. Behalwe wanneer ... Die week waarin die Pasga gevier word, en dit êrens in die normale week val, reël die Tora-wetgewing dat daardie dag ook as ʼn Spesiale Sabbat, of heilige dag, aan God gewy, geag word. En dit is presies wat in hierdie bepaalde week waaroor ons nadink, van die 6de tot die 12 April 32 n.C., die geval was. Daarom was daar in daardie betrokke week 2 Sabbatte. Daarom is daardie dag wat Woensdagaand 18h00, begin het, (9 April 32 n.C. op ons kalender), of 14 Nissan op die Joodse Kalender, waarop die Pasga-maal gevier is, as ʼn Sabbat geag. Dit sou dan ook normaalweg gevolg word deur die normale Sabbat wat Vrydagaand 18h00 tot die Saterdag 18h00 gevier word. Die week waarin Jesus gekruisig is, was so 'n week waar die Pasga-viering in die week geval het en was daar dus twee Sabbatte die betrokke week gewees het. Met dit uit die pad, kom ons dink vandag verder na oor die Bloed van Jesus wat vir ons gevloei het en wat Hy vir ons gedoen het deur vir ons te sterf en drie dae in die graf te wees. Kom ons lees vandag hardop wat daar in Ef. 1:7, maar ook in die lied wat Johannes die Doper se pa, oor Jesus gesing het daar in Luk. 1:68 tot 75 oor wat Jesus (deur Sy Bloed) vir ons sou kom doen het, en dan ook wat in vers 69 tot 79 staan oor Johannes die Doper. Ja, dat hy die getuie en vinger sou wees wat na Jesus die Christus moes wys en moes sê: Daar is die Lam van God, wat in julle plek, deur Sy Bloed, julle sou kom verlos het uit die hand van Satan! Dink ʼn bietjie daaroor na. Wat hoor jy sê Koning Jesus deur Sy Woord hier vir jou? Watter beloftes gee Hy vandag in hierdie gedeeltes vir jou? Antwoord Hom dan in gebed. |
Dag 14 – Die gebeure daardie Donderdag, die 10de April 32 n.C.
Die betekenis van die Bloed van JesusOnthou, die Joodse dag, 14 Nissan, het 18h00, ons Woensdagaand (met ander woorde gisteraand 18h00) reeds begin. En daardie dag het die tipies Joodse gesin saam die Pesach-maaltyd saam gevier. En daardie fees-maal, net soos al die ander Joodse feeste, is volkome vervul in alles wat Jesus Christus, as die Lam van God, vir my en vir jou kom doen het. As die Lam van God, was Hy die Finale en Laaste Lam wat ooit geslag hoef te word. Deur Sy Bloed wat vir ons gevloei het, is ons gered van die dood, soos wat elke oudste seun van die Israeliete daar in Egipte gered is. Deur Sy Bloed en alles wat in die lewe, kruisiging, dood, drie dae in die graf en opstanding gebeur het, is ek en jy eens en vir altyd uit die kloue van Satan, die dood, sonde, en die finale dood, die hel, gered. En dit alles kan ek en jy, so gereeld moontlik, en nie net eenkeer ʼn jaar nie, herdenk en vier deur saam die tekens van die brood en die wyn te gebruik (soos ʼn gedeelte soos 1 Kor. 11:23-34 vir ons teken en verduidelik). Kom, kry jou Bybelvertaling of twee byderhand en lees hardop hierdie gedeelte in 1 Kor. 11:23 tot 34 en luister fyn om te hoor wat hoor jy die Lewende, Opgestane Here vir jou sê. Herhaal wat hier staan in jou eie woorde so volledig as wat jy kan. As hier gepraat word oor Sy Liggaam wat vir jou gebreek is en Sy Bloed wat vir jou gevloei het, gaan alles dus oor die lyding en dood van Jesus in my en jou plek. Alles gaan dus oor die Bloed van Jesus, as die Finale Lam van God, wat soos met die eerste Pesach daar in Egipte, aan die deurposte gesmeer is, en die dood, en die Finale Dood en Straf as gevolg van ons sonde, ons verby sal gaan en geen houvas of gevolge vir ons meer inhou nie. Omdat Jesus in jou plek gely en gesterf en die helse smarte en straf as Middelaar en Verlosser volledig ervaar en gedra het, kan die Heilige God, aan elkeen wat dit vasgryp in geloof, sê: Jy is vergewe, verlos, vrygespreek, genees, nuut, geregverdig en geheilig. Die dood en die Dood (in die sin van die hel aan die einde) het geen houvas of hou geen vrees vir jou in nie. Die afgelope tyd bid ek daarom weer die Bloed van Jesus elke dag oor my en my geliefdes, en elkeen van julle wat deel is van ons Familie in Jesus af. En omdat ek weet hoe dit my troos en versterk, wil ek graag in die volgende dae, tot ten minste Sondag, verder saam met jou nadink oor die betekenis van die Bloed van Jesus wat vir ons gevloei het, en spesifiek wat dit vir my en jou vandag beteken. Kom ons praat met die Here in gebed oor wat Hy spesifiek vandag vir ons gesê het. |
Dag 13 – Die gebeure daardie Woensdag, die 9de April 32 n.C.
Omdat hierdie dag se gebeure so kardinaal belangrik is, gaan ek dit ʼn bietjie meer volledig vir jou uitmekaar haal. Vroeg daardie Woensdagoggend, om 06:00Volgens die Joodse fees kalender was hierdie Woensdag “die dag van voorbereiding” met die oog op die Pasga-maal wat later die aand, na 18h00, sou plaasvind in elke gelowige Jood se huis. So word die Lam van God, Jesus die Messias, “gereed gemaak en voorberei” met die oog op die Finale Pasga wat moes plaasvind. Van 06h00 daardie oggend word Hy van bakboord na stuurboord gestuur om getoets, verhoor en uiteindelik gevonnis te word om te sterf aan ʼn kruis, soos die ergste van erge misdadigers in daardie tyd. Die Kruisiging, daardie Woensdagoggend om 09:00 Woensdagmiddag om 15:00Van 12h00 tot 15h00 daardie betrokke Woensdag was dit vir drie ure donker ( Mat. 27:45 e.v.). Na 3 ure van “hel”, hoor ons Hom sê: “Dit is volbring”. Alles wat nodig was om die heilige God in staat te stel om mense se sondes te mag vergewe, was gedoen. Jesus, die Perfekte, Sondelose Lam van God, se bloed het gevloei terwille van ons sonde. Die oorwinning is behaal en daarom kon Hy met vrede Sy lewe oorgee aan die Vader. Drie-uur daardie middag, gelyktydig met die tyd wanneer die lam keelaf gesny en geslag moes word vir die Pasga later die aand (Eks. 12:6), sterf Jesus, die Lam van God, aan die kruis. Die Lam het die volledige offer gebring en daarmee die Ou Wet volkome vervul. En so, met Sy dood, het ’n Nuwe Testament met ’n Nuwe Verbond en Wet in werking getree. Vroegaand (voor 18:00) daardie WoensdagJesus se liggaam word van die kruis afgehaal en begrawe in die graf (Mrk. 15:42). (Moenie verlei word deur die Nuwe Afrikaanse vertaling van “Dit was Vrydag” nie. Dit staan nie in die Grieks nie. Gaan lees maar in die 1953-Afrikaanse Vertaling of in van die Engelse Bybelvertalings oor wat presies in die oorspronklike Grieks staan). Hierdie is natuurlik ook ʼn wonderlike geleentheid wat jy (en jou huismense, of wie ook al saam met jou is) saam die brood en die beker kan gebruik en die dood van Jesus aan die kruis, en Sy bloed wat vir jou gevloei het, kan gebruik. (Kyk wat staan in 1 Kor. 11:23-26 in die verband.) Praat ʼn bietjie met die Here in gebed oor wat Hy vir jou spesifiek gesê het vandag. |
Dag 12 – Die gebeure van die 8ste April 32 n.C.
Lukas 22Vandag dink ons na oor die gebeure daardie Dinsdag, 8ste April 32 n.C. in Jesus se aardse lewe. Die vorige dag, laat-middag, het Jesus en sy dissipels na sy vriende in Betanië vertrek. En omdat Jesus en sy dissipels nie in Jerusalem self was nie maar in Betanië, ’n klein dorpie net buite Jerusalem, was dit toelaatbaar (volgens die Tora-wetgewing) dat hulle ’n dag vooraf, die Pasga-maal kon saam vier en eet. Later daardie aand word Jesus gevange geneem in die tuin van Getsemane, wat lê op die pad van Betanië na Jerusalem toe. Die twee gedeeltes oor al twee die gebeure daardie dag, kry ons albei in Lukas 22. Lees eers Lukas 22:14 tot 23 oor waar hulle die Pasga-maal saam geëet het. (Jy kry ook ander gedeeltes in die Nuwe Testament wat hieroor vir ons iets vertel, soos Mat. 26:17-35; Joh. 13:36-38; en 1 Kor. 11:23-34). En lees dan Luk. 22:39-53 oor die gebeure daar in Getsemané hardop vir jouself. (Mat. 26:36-46 vertel ons ook hiervan). Nadat jy die gebeure probeer oorvertel het in jou eie woorde, luister mooi na wat die Here vandag vir jou hierin probeer sê. Sjoe, ek weet nie van jou nie, maar ek het sommer ʼn klomp dinge waaroor ek met die Here wil praat na alles wat ek by Hom in hierdie gedeeltes gehoor het! 'n Belangrike Bylaag om die res van die week se gebeure te verstaanJa, ek weet ʼn groot deel van die Christen-wêreld praat vandag van as “Goeie Vrydag” en herdenk die kruisiging van Jesus asof dit op die Vrydag van daardie week plaasgevind het. Ek en jy weet egter dat Jesus reeds die Woensdag van daardie week gekruisig is. Ja, ja, ek weet, daar word gepraat in die Bybel van ʼn Sabbat net na Sy kruisiging, en dat die tipies normale Sabbat van die Jode gewoonlik van Vrydagaand, 18h00, tot Saterdagaand, 18h00, is. En dit is normaalweg waar. Behalwe wanneer ... Die week waarin die Pasga gevier word, en dit êrens in die normale week val, reël die Tora-wetgewing dat daardie dag ook as ʼn Sabbat, of heilige dag, aan God gewy, geag word. En dit is presies wat in hierdie bepaalde week waaroor ons nadink, van die 6de tot die 12 April 32 n.C., die geval was. (En heel merkwaardig, vanjaar, 5780 op die Joodse Kalender, val 14 Nissan, die dag waarop die Pasga-maal gevier word, weer op 'n Woensdag, môre om presies te wees.) Daarom was daar in daardie betrokke week, 2 Sabbatte. Want die dag, 14 Nissan, waarop die Pasga-maal plaasvind, is ook as 'n Sabbat geag. En dit sou dan normaalweg gevolg word deur die normale Sabbat wat Vrydagaand 18h00 tot die Saterdag 18h00 gevier word. Die week waarin Jesus gekruisig is, op ons Kalender, wat op Sondag, 6 April begin het, was so 'n week waar die Pasga-viering ook in die week geval het. Daarom was daar dus twee Sabbatte die betrokke week gewees het. |
Dag 11 (Maandag) – Kom ons onthou die gebeure van die 6de en 7de April 32 n.C.
Lukas 19:28-44Hierdie week wil ek jou herinner, hier in ons stilword-tyd, met die Woord van die Here, die Bybel op ons skoot, waar ons luister na Sy stem, aan daardie week van die 6de tot die 12de April 32 n.C. in Jesus se lewe hier op aarde, wat die geskiedenis van die wêreld onherkenbaar en vir ewig verander het. Vandag gaan ek jou neem na twee Skrifgedeeltes waarin die Here jou met jou kan praat. Die eerste gedeelte is Lukas 19:28 tot 44. Jy ken nou al ons manier van luister na die Here se stem as ons met die Bybel besig is. Neem een of twee goeie Bybelvertalings en lees hierdie gedeelte hardop terwyl jy fyn luister om presies te hoor wat die Here hier vir ons sê. Probeer om dit dan in jou eie woorde so volledig moontlik oor te vertel. Wat hoor jy sê die Here Jesus vandag vir jou deur hierdie gedeelte? (So klein bietjie agtergrond: Dit is ook belangrik om te onthou dat op hierdie spesifieke Sondag van daardie spesifieke week, is 'n lam wat gebore is in die Bethlehem-distrik, gekies en in Jerusalem ingebring van die Olyfberg af deur die "skaap-poort", wat presies dieselfde pad was wat Jesus die betrokke Sondag Jerusalem binnegekom het op Sy triomftog! Soos wat Hy die stad binnegekom het, het die mense geskreeu: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Red ons, Seun van Dawid! So is Jesus dan met groot akklamasie aangewys as die beloofde Messias en het die skare so hulle Lam vir die betrokke Pasga gekies! Die Lam moes eers deur die geestelike leiers ondersoek word, want leer die Torah, dit moes sonder gebrek en vlekloos wees om geskik te wees om as lam vir die Pasga geslag te word. Daarom lees ons ook hoe Jesus, na Sy intog in Jerusalem in, eers na die tempel toe gegaan het om daar te leer. Terwyl Hy daar was, het die Fariseërs, Sadduseërs en ander wetsgeleerdes gekom en met allerhande moeilike vrae Hom probeer uitvang en as ’n leuenaar probeer uitwys. Maar hulle kon geen fout by Hom vind nie.) Johannes 2:13-22As jy nog ʼn bietjie tyd het, kom ons dink ook oor die gebeure van daardie Maandag, die 7de. Blaai na Johannes 2:13 tot 22 en lees dit hardop. Onthou terwyl jy lees, die volgende: Volgens die instruksies in die Torah-wetgewing, moes elke vorm van kwaad uit elke huis verwyder word vir die viering van die Pasga later die week. Daarom het elke Joodse moeder met ’n kers in haar huis rondgesoek vir enige vorm van kwaad of onreinheid. Dit is so merkwaardig dat Jesus juis daardie Maandag na die tempel toe gegaan het en al die geldwisselaars daar uitgejaag het (Luk. 19:45 e.v.) om so die "kwaad" uit "die huis van Sy Vader" te verwyder. Dink ʼn bietjie na oor wat Jesus vandag sou doen as Hy op hierdie dag dit wat ons “kerk” noem, sou binnestap. Wat sou Hy vandag kom uitgooi en verander het? Hoe raak dit jou lewe? Wat sê die Here vandag vir jou persoonlik hierdeur en hoe gaan jy in gehoorsaamheid daarop reageer. Praat met die Here daaroor in gebed. |
More...
Dag 9 en 10 - Waag om te bid (Deel 1 en 2)
Deel 1Ons Skrifgedeelte wat jy weer hardop in een of twee goeie Bybelvertalings moet lees , is Mat. 6:9-14. Probeer in hierdie eerste deel om verse 9 en 10 in jou eie woorde oor te sê. Onthou jy, deel van die profetiese woord vir hierdie jaar was die woord: “Waag om te bid...” Die Here het vir ons gesê: Daarom wil Ek julle uitdaag om te waag om te bid en te vra wat julle ook al nodig het in My diens as My Ambassadeurs, daar spesifiek waar en waarvoor Ek jou geroep het. Om julle te help fokus in hierdie nuwe seisoen, luister na hoe Ek die dissipels van ouds geleer het om te bid. Bid daarom elke dag gefokus die “Ons Vader”-gebed, want dit is in besonder My hart vir hierdie seisoen! "Ons Vader wat in die hemel is...Bid, “Pappa-Vader, Koning Jesus, Heilige Gees... U is beslis ons Vader in die hemel...” Dink vir ʼn oomblik ernstig hieroor na... Wat beteken dit vir hierdie dag... en hierdie week... en hierdie seisoen vir jou en dit wat jy glo My hart vir jou is? Vind daarin jou rus en vrede. "Laat U Naam geheilig word..."Bid dan, “Laat U Naam geheilig word ...” Stof vir nadenke terwyl jy dit bid: Here, U is die Een wat ons loof en prys! U is die Een wat ons dien en eer as die Enigste, Ware God! U het U self aan ons met verskillende Name bekend gestel en ons uitgedaag om U met daardie Name aan te roep in geloof en U daarmee te loof en te eer. Vandag wil ek spesifiek U loof en eer in geloof as ... Jahwe Jireh – die God wat voorsien; Jahwe Rapha – die God wat genees; Jahwe Shalom – Die God van vrede; Jahwe Nissi – Die God wat my banier van oorwinning is; Jahwe Shammah – Die God wat altyd teenwoordig is. "Laat U Koninkryk kom! Laat U wil geskied! Soos in die Hemel ..."Bid dan verder: “Laat U Koninkryk kom! Laat U wil geskied! Soos dit in die hemel reeds ʼn werklikheid is, laat dit asseblief ook hier op aarde, in ons lewe en rondom ons, gebeur!” Stof vir nadenke hieroor: Koning Jesus, U is lankal reeds gesalf en aangestel deur die Vader as die Nuwe Koning ook vir hierdie seisoen, in elke duimbreedte rondom ons. Daarom verdien net U ons onvoorwaardelike lojaliteit. Daarom kies ons maar net weer om U alleen te volg in elke deeltjie van ons lewe, elke sekonde van hierdie en elke volgende dag. Daarom kniel ek hier aan U voete neer om U stem ook vir vandag te hoor. Lei my met U stem ook in hierdie dag. Wys vir my wat U spesifieke wil is vir elke ding wat vandag op my wag. Gees van God, lei U my met U stem. U is my Wet en my Kompas. Daarom is ek ook vandag hier om U Woord te lees soos U dit self in die Bybel as U geïnspireerde Woord aan ons geopenbaar het. Dit is my enigste vas en seker toets vir waarheid. Dankie vir U Gees in ons, wat ons as U volk lei in die volle waarheid! Ons kies om ook vandag, elke sekonde van die dag, U ambassadeurs te wees. Ons kies ook om onverskrokke te doen en te sê wat U ons aansê om te doen en te sê! Dankie dat U sal doen wat U belowe as ons in gehoorsaamheid doen wat U sê. Ons is ook vandag U konings, priesters en profete ... wat U aangestel het om U tuinslange te wees wat mense rondom ons, in U Naam, in diens van U Koninkryk, te bedien met U Woord, U liefde, U genade, U voorsiening, U wonder-krag, U almag!) Deel 2Ons Skrifgedeelte waardeur die Here met ons praat, is steeds Mat. 6:9-14. Lees dit weer in een of twee goeie Bybelvertalings om te hoor wat die Here hier vir ons wil sê. Probeer om in hierdie tweede deel dit wat in verse 11 tot 14 staan in jou eie woorde oor te sê. "Gee ons vandag ons daaglikse brood!"Bid dan verder: “Gee ons vandag ons daaglikse brood!” En terwyl jy dit bid, sê sommer ook vir die Here die volgende hardop: Ons is immers U kinders, U seuns en dogters. Dankie vir die deure van die hemele wat oopstaan met alles wat ons vandag nodig het om te doen wat ons moet doen! Ons is algeheel van U versorging afhanklik! U is ons Totale Voorsiener ook in hierdie dag, hierdie week ... hierdie seisoen! U belowe dit immers aan ons daar in 2 Kor. 9:8; Fil. 4:19; en Mat. 6:25-33. Daarom bly ons U vertrou... al sê alles rondom ons... en wat ons kan sien met ons oë en bedink met ons verstand ... wat ook al! Dankie dat U ook ons deur seer en pyn en swaarkry geleer het hoe nodig ons U het... maar ook hoe nodig ons mekaar het. Dankie dat U ons geleer het om werklik mekaar lief te hê en na mekaar om te sien... soos wat bloedfamilie nie eers na mekaar omsien nie! Wys vir my waar U my vandag wil gebruik om vir iemand anders, uit dit waarmee U my seën, te seën!) "Vergewe ons ons sondes..."Bid dan verder: “Vergewe ons ons sondes, soos ons ook ander wat teen ons sondig, vergewe!” En bid die volgende hardop agterna: Gees van God, wys ons in U genade as daar mense is wat ons nie werklik vergewe het nie! Wys vir ons enige bitterheid of waar ons maar nog nie reg gemaak het met iemand uit ons verlede nie! Here, ons is steeds onder konstruksie en nog so stukkend! Gees van God, dankie dat U belowe dat U sal klaar maak waarmee U begin het in ons lewe! Genees ons, Here, selfs daar waar ons dit so diep gaan wegpak het in ons senuweestelsel, dat ons dit soms nie meer eers kan onthou nie! "Laat ons nie in versoeking kom nie..."Bid dan ten slotte: “En Vader, laat ons nie bo ons kragte versoek of getoets word nie, maar verlos ons van die bose!” En terwyl jy dit bid, dink sommer oor die volgende daar aan die voete van die Here: In die lig van wat God se Gees aan ons daar in Jakobus 1 openbaar, weet ons, dat God ons nooit versoek nie. Nee, ons word versoek deur daardie stukke van my “ou vlees”, begeertes, gewoontes, of daar waar ek nog verkeerd dink oor dinge, of ou, onverwerkte emosionele pyn en seer, wat êrens diep weggepak lê in my wese, wat die vyand telkens “wil raak steek” of net weer wil aktiveer. Daarom het ons so nodig om oop en sensitief te wees vir die stem van die Gees en om gewillig te wees om onmiddellik in ons spore om te draai as dit nodig is, of ons “te bekeer”, of van gedagte te verander. Daarom het ons nodig om gedurig “vervul te wees en onder die beheer te wees van Sy Gees”! Daarom het ons nodig om elke dag opnuut onsself aan te trek met die volle wapenrusting, sodat ons “staande kan bly”! Om te bid, “Laat ons tog nie bo ons kragte versoek of getoets word nie”, moet ons verstaan in die sin wat daaroor gepraat word in 1 Kor. 10:11-13. Hoor hoe word die verse in Engels vertaal: “Now these things happened to them as examples and were written down as warnings for us, on whom the fulfillment of the ages has come. So the one who thinks he is standing firm should be careful not to fall. No trial has seized you except what is common to man. And God is faithful; He will not let you be tested beyond what you can bear. But when you are tested, He will also provide an escape, so that you can stand up under it.” (1 Corinthians 10:11-13) En “Verlos ons…” moet ons verstaan in die sin van Jesus wat ons daagliks verlos en daar is as ons Enigste Ware Hoop! (2 Kor. 1:10) Hy het ons eens gered uit die tronk van die duisternis waarin ons Hom nie geken het nie en slawe van sonde en die duisternis was. Nou is ons vra en burgers in Sy Koninkryk. (Kol. 1:13, 2 Pet. 2:9) Om dus te bid, “Verlos ons van die bose!”, (tou ponerou, in die Grieks), kan ons soos volg verstaan: “Israel failed to enter the promised land (God’s rest) because of their evil (ponera) heart of unbelief”. (Hebrews 3:12, 19) En, “Today, if you hear His voice, do not harden your hearts as you did at Meribah, in the day at Massah (Massah mean testing) in the wilderness, where your fathers tested and tried Me, though they had seen My work. For forty years I was angry with that generation, and I said, “They are a people whose hearts go astray, and they have not known My ways.” So I swore on oath in My anger, “They shall never enter My rest.” (Psalm 95:7-11) If we want to enter God’s rest, as the Book of Hebrews states further, quoting Psalm 95:7-11 above, “See to it, brothers, that none of you has an evil (ponera) heart of unbelief that turns away from the living God.” (Hebrews 3:7-12) So, we see that it was because of their unbelief that they were unable to enter. Therefore, while the promise of entering His rest still stands, let us be careful that none of you be deemed to have fallen short of it. For we also received the good news just as they did; but the message they heard was of no value to them, since they did not share the faith of those who comprehended it.” (Hebrews 3:19-4:2) There’s a promise of entering God’s promised land of rest that’s available to us, but we need to do something to obtain it. In the Biblical example of the Israelites, the thing that prevented them from entering their promised land was their evil heart of unbelief. Based on all the reasons above, I believe when we pray ‘deliver us from the evil’ in the Lord’s Prayer, Jesus meant for us to be asking God to rescue us from the evil heart of unbelief that remains within each of our hearts. Walk by the Spirit, and you will not gratify the desires of the flesh. (Galatians 5:16)” |
Dag 8 – Daarom kan ons met vrymoedigheid bid: Ons Vader wat in die hemel is ...
Hy is jou Pappa-VaderEk wil hê ons moet vandag begin waar ons gister geëindig het, naamlik daar op die Here as ons Hemelse Pappa, se skoot met Sy arms om ons. Ja, ek weet dat dit dalk vir party van ons makliker is om ons dit voor te stel en om dit “te kan sien” terwyl dit dalk vir ander van ons moeilik is om dit “te sien” of selfs om dit te ervaar. (En ek gaan nie vandag gesels oor waarom dit vir party van ons maklik en vir ander moeiliker is nie. Kom ek sê net dit: daar is redes waarom dit so is. En miskien moet jy ʼn slaggie met iemand wat jy vertrou hieroor gaan gesels.) Maar vandag wil ek vir jou vra om te kies om dit te glo wat hierdie God vir ons in Sy Woord sê. Jy het immers reeds agt dae tot hier saam met my gestap met die Bybel as geïnspireerde Woord van God as ons toets vir waarheid. In my eie lewe het ek geleer dat om te glo wat God in Sy Woord sê, is altyd ʼn keuse wat ons moet maak. Al voel ons nie so nie. Al kan ons nie dit “voel” en “ervaar” wat ons gekies het om te glo nie. Daar kom tye in ons lewe wat ons kies om dit wat God in die Bybel vir ons sê te glo, omdat dit juis die God van die Bybel is wat dit vir ons sê, en Hy kan nie lieg nie! Ek kies om te glo dat wat Hy sê, is die waarheid. Of ek dit nou voel of ervaar of nie! Daarom wil ek vandag weer hê jy moet dit wat die Here vir jou in Johannes 1:12 en 13 gister gesê het, weer kliphard lees. Ek sê dit altyd so: Ek moet dit wat God vir my in die Bybel sê kliphard vir myself lees sodat my gees en my siel (wat immers my brein, my emosies en my wil is) en my liggaam dit baie duidelik kan hoor! Ja, daarom moet ek soms sekere verse ʼn hele paar keer vir my gees, siel en liggaam hardop lees! En weet jy wat die wonder daarvan is: Ek het ontdek dat as ek dit lank genoeg, aanmekaar, vir myself so herhaal, dan gebeur daar mettertyd iets in my: Ek begin mettertyd ook iets beleef van die wonderlike Bybelse waarheid wat ek pas hardop gelees het! Ja, ek begin om te voel en te beleef dat ek werklik God se kind is! En ja, dat ek as’t ware op Sy skoot kan sit en selfs Sy arms om my kan voel! Daarom kan ek met vrymoedigheid ook begin bid soos Jesus ons geleer het... “Ons Vader wat in die hemel is ...” (Mat. 6:9 tot 13) |
Dag 7 – Om ʼn kind van God te wees
Hy is jou Pappa-VaderEen van die eerste dinge wat ek vir iemand sê wat tot bekering gekom en Jesus Christus aangeneem het in geloof as Verlosser en Here, is: Welkom in die familie van Jesus! Van hierdie oomblik is jy kind van die lewende God en is Hy jou Vader! Die verse in die Bybel wat dit uitdruklik sê, is bv., Johannes 1:12,13. Vat jou Bybel en lees dit asb., hardop vir jouself (en wie ook al saam met jou bymekaar is op welke wyse). As jy dalk ook een of twee ander vertalings van die Bybel byderhand het (soos op jou YOUVERSION-app/toep) lees ook hierdie vers daaruit hardop. En probeer dan dit in jou eie woorde, so volledig as moontlik, oorsê, ja, dat selfs ʼn klein kindjie van 6 jaar oud dit sou kon verstaan. Kom ons dink ʼn bietjie oor wat dit nou vir jou beteken as jy ʼn “kind van God” geword het toe jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here. Omdat die Bybel ons Riglyn en Toets vir die waarheid is, gaan ek vir jou die verse gee waar dit staan, en dan moet jy dit self gaan hardop lees om te hoor wat God, wat nou jou Vader-Pappa in die Hemel geword het, ook daardeur vir jou wil sê. • As jy Sy kind is, is Hy, die Enigste, Lewende God, nou jou Vader – Daarom leer Jesus jou om Hom so te noem as jy bid, in Mat. 6:6 tot 13. • As jy Sy kind is, is jy deel van Sy familie hier op aarde. Daarom noem Jesus jou Sy “broer” (of “suster”), soos daar in Lukas 8:21 • Daarom het ons ook as gelowiges mekaar se “broers” en “susters” geword, want ons het nou deel van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, se “familie” geword. Dit staan natuurlik op baie plekke. Kyk maar net na 1 Kor. 11:33, 14:26. • En omdat ons “familie in Jesus” of ʼn gesin is, gaan daar ook geestelike “vaders” en “moeders wees. Soos daar in 1 Tim. 5:1 staan. • En daarom gaan die belangrikste kenmerk in hierdie “familie van Jesus” wees, hoe ons mekaar en God elke dag lief het. Kyk wat staan in Joh. 13:34,35; 1 Kor. 13; en 1 Joh. 3:1,11,18. Raak ʼn bietjie stil, maak selfs jou oë toe en “sien” die Here wat self daar by jou en in jou is. Sien as’t ware hoe jy as Sy kind “op Sy skoot kan sit” en in Sy oë kan kyk as jou Hemelse Pappa. Voel hoe Hy Sy arms as’t ware om jou sit en jou styf teen Hom vasdruk. Gesels dan sommer dan met Hom in gebed oor dit wat jy ervaar. |
Dag 6 – Hoe word ek deel van die “Kerk van Jesus”
Wat beteken dit om jou te "bekeer"Vandag gaan ons kyk na drie gedeeltes in die Bybel waar die Here aan ons sê hoe enigiemand deel kan word van die ware “Kerk van Jesus”. Maar laat ek net jou eers herinner aan iets baie belangrik wat ons gister uit God se eie mond gehoor het oor die "Kerk van Jesus". Miskien het jy dit self gister ontdek, naamlik dat dit wat die Here in Sy Woord "kerk", of "Ekklesia" in die Grieks, noem, is iets totaal anders as wat ons in gewone Afrikaans gewoonlik "kerk" noem. As Jan Alleman van "kerk" praat, dan bedoel hy een of ander gebou of geboue of groep gemeentes met 'n spesifieke naam, waaraan gelowiges gekies het om te behoort of deel van te word om die een of ander rede. Ons woord "kerk" dui dus gewoonlik op iets wat mensehande gebou of gemaak of aanmekaar gesit het. Wat dus myle weg is van dit wat die Here in Sy Woord "Kerk" of "Ekklesia" noem! Sy Kerk, die Kerk van die Here Jesus, is gelowige mense wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Here, wat Hom volg en Hom gehoorsaam. En bymekaar kom, mekaar liefhet en Sy getuies en instrumente van Sy liefde in hierdie wêreld is. Dit bring ons by vandag se vraag. Maak die Bybel oop en lees die volgende verse hardop deur (en probeer om elke keer in julle eie woorde oor te sê wat daar staan): Johannes 3:16 tot 18 Johannes 3:3-6, 8,9,14 (vers 14 se beeld kom uit Numeri 21:4 tot 9) Romeine 10:9-13 Dink oor die volgende belangrike vrae: • Is jy werklik deel van die Kerk van die Here Jesus? Hoekom sê jy so? • Wil jy nie in ʼn paar sinne iets oor daardie dag/tyd vertel wat jy deel geword het van die Kerk van Jesus in jou lewe nie? • Hoe sou jy vir iemand hiervan kan vertel wat dit nog nie in hulle lewe beleef het nie? Kom ons bid saam hieroor. |