Nuusbrief

Nuusbrief (240)

 

Die meeste volgelinge van Jesus dink dat bekering net behels dat ons vra dat God ons sal vergewe. Bekering beteken natuurlik baie meer as net dit.

As Koning Jesus Sy openbare bediening begin en sê waarom Hy as die Seun van God hier op aarde is, is Sy eerste woorde daar in Mat. 4:17: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Hierdie “bekeer” beteken dieselfde as wat daar in Rom. 12:2 gesê word. Naamlik dat ons God sal toelaat om deur Sy Gees en Sy genade ons hele manier om oor dinge te dink en daarna te kyk, te verander.

Sien, om Jesus as Verlosser te ontmoet, is net die eerste tree in jou volg van Jesus. Daardie eerste bekering sit jou by die ingang van ʼn totaal nuwe manier van lewe neer waarin jy leer om Jesus te volg as die Nuwe Koning en Here wat die Koninkryk van die hemel en God se wil ook hier op aarde wil kom realiseer.

Ja, en Hy wil jou gebruik as Sy instrument en as Sy tuinslang. Hy wil jou gebruik as ambassadeur en as getuie van hoe hierdie nuwe werklikheid lyk en as iemand wat vir mense moet wys en vertel waar dit oral begin gebeur het.

Om dit te kan doen, moet jy “bekeer” en toelaat dat daar ook ʼn bekering in jou denke en verstand gebeur.

Dit vra dat God deur die werking van Sy Woord en Gees jou manier van kyk, dink en praat oor dinge, 180 grade sal omdraai en sal verander. Jy moet Hom toelaat om jou om te draai en oor te haal sodat jy in staat kan wees om vanuit hoe Hy oor alles dink en daarna kyk, na die realiteite hier op aarde kan kyk, dink en praat.

Jy moet, soos Hy, nie tevrede te wees voordat dinge hier rondom jou gebeur en lyk soos wat dit in die hemel lyk en gebeur nie.

Hiervoor het ons ʼn totaal nuwe perspektief nodig, ʼn transformasie en vernuwing wat ons gedagtes, emosies, waardes en wilskeuses, ja, eintlik elke deel van ons lewe gaan raak en 180 grade gaan verander.

Sonder hierdie diepgaande bekering, gaan ons heeltyd vassteek en vashaak in ons tipies menslike manier van dink, voel en besluit.

Dit gaan nie noodwendig “sondig” of totaal verkeerd wees nie. Dit gaan net nie deurbreek na daardie nuwe, hoër dimensie, of kom ons noem dit op sy naam, na daardie hemelse dimensie, waar dit wat God oorspronklik bedoel het en wat in Sy hart is, kan gebeur en verwag word om te gebeur nie. Ja, waar ons nie tevrede sal wees voordat die nuwe wêreld en ʼn stukkie hemel op aarde hier rondom ons begin deurbreek nie.

As jy werklik glo dat Jesus en die Gees van die Vader en die Seun werklik in jou is, dan moet jy besef dat hierdie selfde Jesus en die Gees van die Vader en die Seun wat in jou woon, ʼn hele, splinternuwe realiteit met hulle saamgebring het. Om ook in jou, in jou hele lewe, en deur jou, in alles waarmee jy besig is en in almal se lewens rondom jou, moet deurbreek.

Dit is waarom en waarvoor Jesus as die Doper met die Gees, jou met die krag en gawes van die Gees kom salf en toerus het. Sodat jy dieselfde dinge en selfs groter dinge kan doen as wat Koning Jesus hier op aarde gedoen het om die Koninkryk van die hemel ook stukkie vir stukkie hier te laat deurbreek.

Verstaan jy nou waarom ek en jy daaglikse bekering nodig het deur die werking van God se Gees?

Sodat ons heeltyd met hierdie verwagting kan rondloop, so kan dink oor dinge en ook kan besigheid doen daar waar ons in die markplein neergesit is deur God as getuies hiervan.

 

Daar is min dinge wat vir my so hartseer is as ʼn mens wat nie ten volle in beheer is van sy hele liggaam nie. Om te sien hoe iemand se ledemate buite beheer reageer, ja, selfs tot hulle verleentheid, of om te sien hoe liggaamsfunksies onbeheers plaasvind, vind ek hartverskeurend.

Daarom kan ek my net indink hoe Jesus van tyd tot tyd moet voel oor Sy Liggaam, die Ekklesia, wat die meeste van die tyd totaal buite beheer en beserk aangaan.

In plaas daarvan dat ons lewe en heling bedien aan ʼn lewelose en siek wêreld om ons, is ons berug oor stories wat op die agterblaaie van Sondagkoerante en in die Huisgenoot verskyn. Ja, ons word bekend vir die dinge waarteen ons is of waar ons presies die teendeel is van wat ons Here en Koning deur Sy lewe en in Sy woorde verkondig en geïllustreer het.

Jesus word in Sy Woord beskryf as die Hoof van Sy Liggaam, die Ekklesia. Om Sy wil te laat geld of te laat gebeur van dag tot dag in ons wêreld, moet 2 Kor. 1:20 se “Amen” van Sy Liggaam se kant af, Sy wil soos dit reeds geld in die hemel, laat deurbreek en laat realiseer hier op aarde.

Dit wat ons in daardie jare 3 v.C. tot 32 n.C., in die lewe van Jesus en uit die mond van Jesus gehoor en gesien het – genesing, bevryding, empatie, omgee, heiligheid, heerlikheid – kan net hier op aarde realiseer as dit deur ons as die tuinslange hier uitvloei!

Sonder dit is daar gedurigdeur hierdie onklaar openbaring van wat God se wil en hart werklik hier op aarde en in die besigheidswêreld is.

Mense gaan alleenlik bewus word van hoe lief God hulle werklik het, as hulle sien en beleef hoe lief ons hulle het.

Daarom wil ek ʼn bietjie verder gesels oor wat God se wil is en spesifiek soos ons dit in die lewe van Jesus gesien het.

Ek wil die stelling maak dat die genade en liefde wat Jesus bedien het hier op aarde, altyd toegerol was in waarheid.

1 Joh.1:14

In Johannes1:14 lees ons die volgende oor Jesus se bediening daardie drie jaar, van 28/29 n.C. tot 32 n.C.:

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Ons het reeds ʼn paar kere gesels oor die genade wat mense in Jesus se lewe, woorde en handelinge in oorvloed beleef het. Vandag wil ek gesels oor die feit dat dit genade was wat altyd ook ʼn element van “waarheid” bevat het.

Veral in sekere kontekste. Soos as Hy met mense besig was wat beter behoort te geweet het. Soos die tempelleiers van Sy tyd. Wat elke dag met God se Woord besig was en presies behoort te geweet het wat daarin staan.

Of ʼn Petrus, wat duidelik een van die drie leiers was onder Jesus se dissipels, wat geweet het hoeveel keer Jesus geprofeteer het dat Hy uiteindelik Jerusalem toe moet gaan om daar gekruisig te word en te sterf. Tog waag Petrus dit om Jesus in die rede te val en dit selfs te probeer verbied!

Of toe Petrus in sy voortvarendheid, daar in Johannes 18:10, terwyl Jesus gevange geneem is, sy swaard uitgetrek het en die dienaar van die hoëpriester se oor afkap. Dan bedien Jesus genade en genees daardie dienaar se oor (Luk. 22:50,51), maar vir Petrus sê Hy streng: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Net so het Jesus ʼn dag of wat tevore vir dieselfde Petrus profeterend gewaarsku dat hy met al sy bravade, wanneer die tekkie die teer slaan, tydens Jesus se verhoor net voor Sy kruisiging, nie net een keer of twee keer nie, maar drie keer Jesus gaan verloën! Net om direk daarna hom met genade te bedien as Hy vir hom sê: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” (Luk. 22:31,32)

Ek glo hierdie element van waarheid waarin Jesus as Koning en as Seun van God, genade toegerol het, is ook van kardinale belang vir die genade waarmee God wil hê dat ons as Sy volgelinge en as ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel mense ook in die markplein moet bedien.

Ek glo dat hierdie element van waarheid te make het met die feit dat al is ons God en Koning ʼn genadige, liefdevolle, goeie God en Koning, bly Hy steeds ʼn heilige God en Koning. Daarom kan Hy nooit anders as om sonde, die gevolge van sonde, ongehoorsaamheid aan Sy Woord, ongeloof, twyfel en enige optrede wat in stryd is met Sy wil en plan, af te keur en in waarheid te bedien nie.

Een van die duidelikste optredes van Jesus in hierdie verband was toe Hy in daardie laaste week van Sy drie-jarige openbare bediening daardie totale verval op die tempelterrein sien afspeel het. Toe Hy net weer die korrupsie en diefstal van kerkleiers daar gesien en besef dat hierdie wanpraktyk letterlik die worteloorsaak is van die totale armoede onder die Joodse volk, het Hy ʼn sweep gevleg en in waarheid onder hulle ingevaar, banke met geld omgegooi en links en regs geslaan om hierdie mense in diens van Mammon, weg te kry van ʼn plek wat eintlik, in alle waarheid, ʼn plek van gebed behoort te wees.

Maar selfs midde dit alles, sien ons ook die element van genade, as Hy nie die tafels met die hokkies met die duiwe in omgooi nie en eerder die duiweverkopers vra om dit weg te vat! (Luk. 19:45 e.v. en die ander relevante gedeeltes in die Evangelies hieroor).

Sien, reg bly reg en verkeerd en sonde bly sonde!

Joh. 3:16-18

Daarom, al bedien Jesus genade en liefde aan almal, en al sê God se Gees in 1 Tim. 2:4 dat dit God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid sal kom, verkondig Johannes 3:16 tot 18, wat seker die bekendste verse in die Nuwe Testament is, ook hierdie genade toegerol in waarheid as daar staan:

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Ja, al is die Evangelie ʼn genade-boodskap oor die Koninkryk van die hemel wat oral hier op aarde deurbreek, is die waarheid-kant daarvan dat ʼn ewige oordeel en ʼn hel met sy ewige smarte wag vir diegene wat nie uiteindelik gaan buig voor die Koning van alle konings nie.

Friday, 19 August 2022 10:52

God se “Ja” as jy soek na Sy wil

Die vraag wat seker die meeste op almal van ons se lippe as volgelinge van Jesus is, is die vraag: Wat is God se wil in hierdie situasie? Natuurlik geld dit ook op die markplein.

Jesus is God die Vader se “ja” op hierdie vraag. Kyk en luister na Jesus en dan het jy ʼn magdom antwoorde op hierdie vraag in ontelbare situasies.

Jesus is die perfekte en volmaakte prentjie van ons Hemelse Vader en ons Vader se “ja” dwarsdeur die geskiedenis, vir vandag en môre.

Enigiets wat jy dink oor God wat jy nie kan vind of kan harmonieer met die Persoon van Jesus nie, moet jy ernstig bevraagteken.

God die Gees inspireer Paulus daar in 2 Kor. 1:19 en 20 om hieroor te skryf.
“… want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie "ja" en "nee" tegelyk nie. Hy is die "ja" van God, die "ja" op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop "Amen" sê.”

As die Messias wat belowe is, is Jesus die Goue draad dwarsdeur die Ou Testament.

Net so is Jesus ook die Een waaroor die hele Nuwe Testament gaan en waarom alles draai.

Jesus is God die Vader se “ja” aan ʼn mensdom wat wonder of daar hoop is en of alles hier uiteindelik die moeite werd is.

Ja, Hy is Een wat daardie honger en dors wat niks anders kan stil en les nie, uiteindelik volkome kan bevredig.

Dink ʼn bietjie na oor hierdie stellings wat Paulus hier maak.

Oorgesê in my eie woorde, hoor ek onder andere hoe God se Gees hier vir my en jou sê: Wonder jy of al die beloftes wat God in Sy Woord, die Bybel, maak ook vir jou geld? Natuurlik, ja! Jesus is God se “ja” in hoofletters op jou vraag!

As jy dus gewonder het of God altyd ʼn goeie God is en altyd net die beste vir jou in gedagte het, hoef jy nie verder te wonder nie: Jesus is jou beste Antwoord en God se “ja” op jou vraag!

As jy wonder of jy iets kan doen wat werklik ʼn verskil kan maak… in jou eie lewe of... in alles wat rondom jou gebeur... Dan is Jesus en dit wat Hy vir en namens ons gedoen het en wat Hy aan ons belowe het, God se “ja” op ons vrae.

Maar hierdie “ja” vra altyd ook ʼn “Amen” van ons kant af as ons eerste tree in geloof daarop! Vir die regte dinge om hier op aarde te begin gebeur, kan dit net gebeur omdat iemand op aarde “Amen” gesê het op iets wat God in die hemel gesê het.

Daarom word ons “Sy getuies”, “Sy ambassadeurs” en “Sy medewerkers” genoem!

God het presies vir ons gewys hoe lyk Sy perfekte wil in die lewe van Jesus daardie bietjie-meer as 33 jaar hier op aarde! Ons sien God se perfekte wil in die Persoon, Karakter, liefde en krag van Jesus.

Maar sonder die karakter, liefde en krag wat werk in elkeen van ons wat Jesus as Koning, Here en Verlosser bely, is die prentjie van die wil van God onvolledig!

Natuurlik sê ek nie hiermee dat God nie alles wat Hy in die Woord sê op Sy eie kan doen nie. Hy kan die Evangelie baie beter as enigeen van ons aan ʼn verlore wêreld verkondig. Hy kan mense genees en bevry, baie beter as enigeen van ons en sonder ons. God het nie ons nodig nie. Maar Hy het reeds voor die skepping besluit om dit alles nie sonder ons te doen nie.

Daarom is ek en jy, vandag, die generasie wat hierdie God gekies het vir ʼn tyd soos hierdie. Ons is die nuwe generasie volgelinge van Koning Jesus wat iets van die koninkryk van die hemel vandag rondom ons hier op aarde moet laat deurbreek. Ons is die mense wat hier en nou vir mense moet wys wat is die wil en die hart van die God wat ons liefhet en dien.

Daarom is ek en jy die generasie wie se “mind” of “verstand” of “gedagtes”, soos Rom. 12:2 se vertaling die Grieks vertaal het, God wil verander en aan wie Hy Sy wil wil openbaar oor hoe dit lyk as iets van die Koninkryk, en Sy “ja”, vandag hier rondom ons moet realiseer en begin deurbreek.

Of dit nou in jou eie lewe is, en of dit daar in die markplein is.

 

Onthou jy, Meneer of Mevrou, Jongman of -vrou, suksesvol in besigheid, of in die mediese wêreld, of in die onderwys, of in die Landbou-omgewing, wat Jesus gesê het oor hoe hulle jou vandag, môre of oormôre, moet herken as Sy volgeling en as ambassadeur van die Koninkryk van die hemel?

“Ek gee julle ʼn nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh. 13:34,35)

Ja, ek weet Jesus het dit gesê, eerstens, oor ons verhouding en optrede teenoor medegelowiges. Maar moenie vergeet dat Hy presies dieselfde gesê het oor hoe jy ʼn “naaste” ook moet behandel nie! En ja, daardie mense wat elke dag jou pad in die besigheidswêreld kruis, is beslis ook een van hierdie “naastes”!

Oor Jesus het hulle gesê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

En: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” (Joh. 1:14,16)

Daar in Mat. 25 beskryf Jesus hierdie genade wat ons gee, so: “Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.”

In Lukas 16 beskryf Hy dit as dat ons die oneerlike Mammon, geld, so moet gebruik dat ons “daarmee vir ons vriende eendag in die hemel moet maak”.

En in Mat. 7 beskryf Hy dit dat ons moet besef dat daar waar ons met ons geld en besigheid die “koninkryk soek”, is dit asof ons besig is om dit in ʼn Hemelse bankrekening te belê.

Ons het in ʼn vorige gedeelte dit so probeer omskryf in die taal van die besigheidswêreld:

Om op die markplein “die koninkryk van die hemel te soek”, beteken om in elke transaksie wat ons doen, in elke diens wat ons lewer, in elke produk wat ons maak of verkoop, drie dinge van ewe belang te reken:

Eerstens moet ons elke mens betrokke, “liefhê”, deur hulle so te behandel, hulle so te dien en te versorg, soos wat ek behandel, bedien en versorg sou wou word as ek in hulle skoene was. Daarom is dit nie net my belang wat hier tel nie, maar moet almal wat hierby betrokke is op die een of ander wyse, hierby baat en hier wen. Of dit nou ʼn groot saketransaksie is waarmee ons besig is; en of dit hier gaan oor iemand wat ek nuut aanstel; en of dit iets is wat ek by iemand anders koop; en of dit nou ʼn werker daar op my plaas is, vir wie ek opdrag gee of wie ek moet dissiplineer. Elke mens betrokke moet iets van die genade van die koninkryk van die hemel hier op aarde, in hierdie situasie proe en beleef!

Tweedens wil ons in besigheid “wins maak”. Inteendeel, die God wat ons dien, is ʼn God wat op uitkyk is daarvoor en wins beloon. Onthou jy, byvoorbeeld, in die gelykenis van die talente/minas (wat eintlik goue munte destyds was)? Die enigste persoon in daardie gelykenis wat God se toorn geproe het, en alles verloor het wat hy oor aangestel is, was die persoon wat nie wins kon toon agterna nie.

Dit kan egter nooit, in besigheid in diens van die Koninkryk van God, oor eensydige wins of oor wins ten koste van ander gaan nie. ʼn Transaksie waarin een party so benadeel word dat hy of sy kaalgestroop en bankrot agtergelaat word, kan nooit in die Koning se oë reg wees nie.

Daarom kan dit nooit reg wees dat ʼn groot, welgestelde boer, net omdat hy die eienaar is, dink hy doen reg en goed in God se oë as hy sy werkers hulle gewone loon betaal elke maand, terwyl net hy wegstap met die miljoene na ʼn goeie oes nie! Daarom moet daar ʼn stadium kom waar so ʼn boer of hoofaandeelhouer in ʼn groot besigheid, sy bestuurders in daardie boerdery of besigheid, moet beloon met aandele in daardie boerdery of besigheid!

Daarom moet hierdie winsdeling ook uitkring na die verdere opleiding van almal betrokke, en beter voordele, ens.

Dit bring ons derdens, by ons verantwoordelikheid as goeie rentmeesters (wat ek sommer “konings in diens van die Koninkryk van God” noem).

Hier gaan dit oor hoe ons as goeie rentmeesters omsien na alles om ons. Dit gaan hier oor hoe ʼn groot boer elke jaar boer op al sy plase; wat hy gaan plant en wanneer hy gaan plant. Dit gaan ook oor of hy aanmekaar net chemie en kunsmis moet gebruik om sy grond se produksie, teen alle koste, te vermeerder. En dit gaan oor daardie produk wat jy op die rak sit, of daardie middel wat jy as dokter voorskryf aan ʼn pasiënt. Sien, my vraag is: Hoe kan ʼn mediese dokter ʼn antidepressant voorskryf aan ʼn pasiënt as daardie antidepressant se gebruik sekere van sy pasiënte se seksuele oriëntasie kan verander? (En ja, dit staan uitdruklik so in die voubiljet!)

Of hoe kan ʼn onderwyser, net omdat die leerplan wat aan hom of haar voorgeskryf is, onbybelse leuens aan die kinders voor hom of haar leer?

Asseblief, hoor my mooi! Ek probeer nie hier diegene veroordeel nie. Ek is net besig om so hard en duidelik as moontlik dit wat ek in God se Woord lees en ontdek het hieroor deur God se genade, in terme en taal te vertaal wat ons almal weer ʼn slag op ons knieë voor God sal dwing en wat ons sal dwing om met die Bybel op ons skoot, êrens op ʼn stil plek, laat sit by die Koning van alle konings, op soek na Sy wil en Sy hart!

Ons is immers geroep om dinge anders te doen as wat die res van die wêreld om ons dit aan ons elke dag vertel!

Friday, 05 August 2022 16:49

Hoe lyk en werk genade hier op aarde

 

Mat. 6:33 sê hierdie ding so:

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Met ander woorde, elkeen van ons wat kan getuig dat ons Here God in Jesus Christus ons met Sy genade toegevou en totaal verander het, moet met hierdie selfde genade uit die hemel, soos ons Jesus dit destyds gesien doen het in Sy openbare bediening in die jare 28/29 tot 32 n.C., daar in Israel, maar ook omdat Hy ons aangeraak en bedien het met hierdie selfde genade, nou gaan en dieselfde doen soos Hy ons geleer het.

Waar ons dit doen, gaan ons nog meer genade en seën dag vir dag, daar waar dit saak maak en ʼn verskil kan maak, belewe! God belowe dit self aan ons, en Hy kan nie lieg nie!

'n Bediening van genade

Kom ek probeer om op twee maniere oor hierdie “bediening van genade” met jou te gesels. Ek gaan eers, hier tussen ons as gelowige volgelinge van Jesus, dit vir jou sê soos wat ons dit in die Bybel lees. Dan gaan ek dit probeer “vertaal” in ʼn taal waarmee ons daar in die markplein daaroor kan praat met almal daar.

Kom ons begin dan met die eerste. Omdat dit vir niemand van ons onbekende materiaal hierdie is nie, gaan ek vinnig en baie kursories hieroor praat.

Gen. 1:28

Daar is baie Bybelse voorbeelde en gedeeltes wat handel oor wat God se oorspronklike opdrag aan ons as mensdom is. Soos daar in Gen. 1:28:

"Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip."

“Be fruitful” en “multiply” sê die Engels dit. In elke sin van die woord. Of ons nou besig is om te boer of nuwe produkte of patente moet uitdink. Of dit nou die vermenigvuldiging is wat gesien kan word op ʼn balansstaat, en of dit nou gesien kan word in ʼn pasiënt se lewe wat nie vir ewig op ʼn depressant hoef te wees nie, maar dit eerder vir solank nodig gebruik as ʼn kruk om aan al die nodige aandag te gee, en dan die gebruik daarvan stelselmatig kan verminder.

Dit is immers wenslik dat dit so gebeur, want die hormone en biochemie van die brein en die liggaam is in die proses so verbeter en vermeerder dat daardie mens weer kan funksioneer soos wat God dit normaal bedoel het.

Ja, ons oorspronklike opdrag is en bly om as God se ambassadeurs op aarde daardie realiteite en werklikhede soos wat dit in die hemel is (en volgens God se wil dus is), elke dag hier op aarde moet laat gebeur en ʼn werklikheid te laat word.

Rom. 6:16

Ja, ons weet hierdie oorspronklike plan het ontspoor toe die mens sy heersersposisie op aarde prys gegee het en ʼn slaaf geword het van die vyand. Paulus skryf immers daar in Rom. 6:16: “Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is.”

Maar God het reeds voor die skepping ʼn plan van verlossing en restourasie in plek gehad. Jesus sou kom as die nuwe Koning en alles kom terugeis wat in die proses verlore geraak het. God het dit sommer daar in die begin vir die vyand gesê in Gen. 3:15: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Jesus het ons oorspronklike bedoeling hier op aarde kom herstel

Toe die profesie vervul is in die dood en opstanding van Jesus Christus, het God die outoriteit wat die mens weggegee het, teruggeneem en so ons bedoeling op aarde finaal in die bloed van Jesus weer neergeskryf. Nou het ons weer ʼn oop baan om te kan hardloop na die oorspronklike wenpaal met alle mag. Ons, as Sy Ekklesia, is geroep en bedoel om Sy heerskappy en koninkryk op aarde stelselmatig uit te brei soos wat Adam oorspronklik bedoel was om te doen.

Ons sien dan ook hoe Jesus dit eers aan die eerste 12 van Sy dissipels leer, dan aan nog 70 en aan die 72, en uiteindelik aan elkeen van Sy volgelinge oor alle tye en in alle dele van die wêreld.

Hy sê dit immers in Mat. 28:19 en in Hand. 1:8 baie pertinent sodat daar geen onduidelikheid hieroor kan wees nie.

Telkens gee Hy hierdie selfde opdrag, al sê Hy dit soms net met ander woorde: “Gaan, maak die siekes gesond; vertel aan die mense die goeie nuus; demonstreer aan hulle wie Ek werklik is en wat werklik in My hart vir elkeen van hulle is. Vergroot My Koninkryk hier op aarde.”

Maar om baie redes volg min van Sy volgelinge Sy opdrag uit elke dag van hulle lewens. Hulle val vir die vyand se leuens en glo dat as hulle nie vir hulleself sorg nie, gaan daar nooit genoeg wees nie. Hulle raak betrokke in allerlei argumente oor onbelangrike en irrelevante dinge, en laat hulle gelei word deur hulle emosies, gevoelens en begeertes, eerder as om gelei word deur God se Gees. Hulle dink dat hulle bedoeling hier op aarde is om hulle gawes en talente uit te leef soos hulle goeddink. Maar hulle besef nie dat dit die rede is waarom niks werklik bevredig nie en hulle net nooit vergenoegd voel nie.

Want as ons nie “die koninkryk en die wil van God” eerstens en aktief elke dag “soek nie”, gaan ons nie “totale en al-genoegsame versorging” beleef nie!

Daarom is dit so nodig om na ons Al-Voorbeeld, Jesus Christus, te kyk en te luister na wat God die Gees self vir ons in die Woord, die Bybel, hieroor sê.

1 Joh. 3:8 sê dat deur ʼn intieme liefdesverhouding met God en met Jesus as die Koning, deur 24/7 elke oomblik net te doen wat Hy sê, gaan ons stelselmatig die vernietigingswerk van die vyand afbreek en gaan iets nuuts tot stand kan kom; ʼn nuwe realiteit; iets van die werklikheid soos wat dit in die hemel reeds is.

“En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Joh. 3:8b)

Dit was Jesus, as die Finale Adam, se opdrag soos wat dit die Eerste Adam se opdrag was. En nou is dit ons opdrag.

Kom ek sluit hierdie gedeelte af.

God se bedoeling toe Hy jou gered het uit genade in Christus Jesus was nie net dat jy intussen net moet besig bly tot Hy jou eendag hemel toe gaan vat nie. Sy plan en bedoeling met jou is baie meer en baie wonderliker as dit: Hy het bedoel dat jy God se wil moet demonstreer hier op aarde, soos dit reeds in die hemel is! Jy is bedoel om hierdie planeet aarde, en spesifiek daar wat God jou neergesit het, tussen die mense daar, Sy tuinslang te wees wat Sy hemelse genade, Sy krag, Sy teenwoordigheid en Sy liefde daar laat instroom. Of dit nou is deur ʼn diens wat jy lewer, of ʼn woord wat jy sê, of ʼn transaksie is wat jy daar doen.

 

God se Gees inspireer nie vir spek en boontjies Paulus om die volgende in Rom. 12:1,2 neer te skryf nie:

“En nou doen ek ʼn beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ek wil dit so sê in my eie Afrikaans: Onthou heeltyd terwyl jy as ambassadeur van die Koninkryk elke dag leef en doen wat jy moet doen: As dit nie vir die genade van God was nie, het jy gelyk en gedoen soos daardie mens of sakepersoon wat jy nou so maklik kritiseer of diskwalifiseer!

Daarom, tree genadig op, wees mense genadig, bedien God se genade aan mense, soos wat God jou genadig was en genade aan jou bedien het en steeds bedien.

Daarom kan jy nie besigheid doen, of boer, of onderwys gee, of ouer wees, of jou geld hanteer, of mense behandel, of politiek bedryf, soos wat die res van die wêreld dit rondom jou doen of dit vir jou sê nie!

Vra God om deur Sy Gees vir jou ʼn bril op te sit, en om elke deeltjie van jou brein te week en te bedien met die sappe en realiteite van die koninkryk van die hemel.

Laat toe dat dit nou daar waar jy is, werk en ontspan, stadig maar seker, jou sag maak, binnedring en begin transformeer tot in die kern van wie jy werklik is.

Sodat die mense, byvoorbeeld daar op die markplein, prakties sal beleef hoe hulle deur die genade van God, Sy liefde, Sy goedheid, Sy genesing, Sy seën, aangeraak word sodat hulle hierna kan getuig dat hulle sal nooit weer dieselfde kan wees en na dinge kan kyk nie.

Laat elke persoon met wie jy besigheid doen of onderhandel, voel hulle wen en baat in die proses.

Ja, en laat alles betrokke, of dit nou ʼn bepaalde proses is, of ʼn diens, of die grond, water, ekosisteem of planeet aarde is, soos Rom. 8 dit beskryf, beleef dat die “seuns van God” hier ingestap het en dinge in die Naam van die nuwe Koning Jesus kom aanraak en bedien het.

Laat ek jou net ook waarsku: onthou, alles gebeur letterlik op die voorstoep van die hel, in die teenwoordigheid van baie stukkende, wrede en sondige mense. Daar staan letterlik ʼn leermag demone oral rond wat alles in hulle vermoë gaan doen om hierdie nuwe Koninkryks-realiteit op elke moontlike manier te kelder, te keer, of te laat misluk.

Dan is daar nog daardie stukke stukkendheid in jou eie lewe en in jou eie diepste wese, wat soos ʼn Trojaanse perd deur die vyand gebruik gaan word.

Daarom sê God se Gees daar in Efesiërs vir jou: Jy is in oorlog! Want hoe kan dit anders op die voorstoep van die hel wees, waar ʼn vyand besig is om te veg om sy eie behoud! Die vyand weet immers dat dit letterlik sy laaste stuiptrekkinge dié is, want die eindtelling is reeds op die telbord!

 

Ek moet eerlik wees: Toe ek die Here gevra het om vir my deur Sy Woord en Gees iets te leer oor hoe om prakties die Koninkryk van God te soek en te sien gebeur op die markplein, het ek aanvanklik gedink dit gaan gebeur in groot besigheidstransaksies of nuwe patente wat God aan my en ander gaan openbaar.

Natuurlik kan dit ook daarin gebeur.

Tot my verbasing egter, veral terwyl ek na Koning Jesus se voorbeeld en strategie gekyk het daardie drie of wat jare, van 28/29 tot 32 n.C., was wat my oog veral gevang het, hoe Jesus, soos in Sy gelykenis oor die goeie herder, uitgereik en moeite gedoen het met daardie een mens in die skare, soos daardie vrou van Mat. 9:20, wat vir 12 jaar aan bloedvloeiing gely het en wat oor die jare al haar geld uitgegee het in haar soeke na genesing.

Kan ek jou herinner aan die konteks? Lukas vertel vir ons in hoofstuk 8, dat Jesus op pad was na die huis van Jaïrus, ʼn raadslid van die sinagoge, wie se dogtertjie baie siek was. Rondom Hom was hierdie skare mense wat nuuskierig saamgestap het om te sien en te hoor wat Hy gaan sê en doen in hierdie geval. Dan, midde al hierdie gedruk en gedrang van die honderde om Hom, voel Jesus daardie een hand wat aan die soom van Sy kleed versigtig vat en dan los.

Kom ek haal vir jou die gebeure aan soos God se Gees Lukas, die mediese dokter, gebruik om dit te vertel.

“Jesus vra toe: Wie het My aangeraak? Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.

Maar Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.

Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

Toe sê Hy: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!” (verse 45-48)

Weet jy wat het ek die afgelope tyd by die Here in die verband gehoor en geleer uit praktiese oefeninge wat Hy oor my pad gebring het die laaste maand?

Ek het geleer hoe belangrik elke mens vir God is, en veral daardie mense wat die een of ander nood het waarmee hulle worstel, waarvoor hulle, met hulle bronne en antwoorde, geen haar af kon maak nie.

Soos daardie opgeleide verpleegster van 62 jaar oud, wat ook ʼn sussie in Jesus was, wat die afgelope jare bejaardes tuis versorg het, maar in die proses totaal verarm en self siek geword het. Skielik, toe sy haar oë uitvee, sit sy met haar paar besittings op straat, letterlik in ʼn nagskuiling waarin, kan jy glo, haar eie broer haar gesit het!

En die Here sê dan: Jy het mos gehoor wat Ek vir jou in Mat. 25, van vers 34 af, geleer het oor hoe dit lyk wanneer die Koninkryk van die hemel hier op aarde kom in hierdie geval! Klim in jou kar, gaan haal haar daar uit en begin haar help om self versorg te word!

Of, nou die dag, toe die Here my aandag vestig om ʼn baie suksesvolle sakeman, 85 jaar oud, wat tans deur ʼn baie moeilike tyd in sy besigheid gaan, te gaan help. Die laaste sowat 20 jaar stap hy as gelowige, ʼn pad saam met ʼn 70-jarige gelowige vrou, en help en versorg hy vir haar. Sonder dat hy dit opmerk, begin die eerste tekens van demensie, veroorsaak dat sy nie so gereeld as wat nodig is, haar bloeddruk-pilletjies drink nie. Hy sien toe iets is nie reg nie, en neem haar na ʼn spesialis, wat onmiddellik raaksien dat sy ʼn paar ligte beroerte-aanvalle gehad het en dadelik opgeneem moet word in ʼn versorgingskliniek.

Toe hy die aand by die huis kom, wag haar vervreemde kinders hom in, val hom aan en begin hom slaan, omdat, sê hulle, hy hulle ma van hulle vervreem het. Na drie ure se teistering, gooi hulle hom letterlik twaalfuur daardie nag, uit op die straat, uit die woonstel waarvan hy die huur betaal, met net die klere aan sy lyf.

Drie dae later bel hy my en vertel my die storie. Onmiddellik herinner die Here my aan Mat. 25 en sê: Jy het My mos gevra hoe dit lyk om prakties My Koninkryk te soek en My wil. Hier is jou kans om instrument in My hand te wees!

Ek moet bely, terwyl ek gedoen het in albei hierdie gevalle wat ek beleef het God se Gees lei my om te doen, het ek gestrompel en gestruikel en honderde foute gemaak! Maar een ding het ek in hierdie hele proses geleer: Hoe belangrik elke mens in God se oë is! Maar ook wie my naaste is, wat ek moet liefhê soos myself en vir wie ek moet behandel soos wat ek graag behandel sou word as ek in hulle skoene was!

Ek wil jou net weer herinner aan die woorde van Jesus daar in Matteus 24:14 waar Jesus die volgende sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Met ander woorde, sê Jesus, as julle met die nasies of ongelowige wêreld gesels, soos daar op die markplein waar julle besig is om besigheid te doen en dienste te lewer, gaan julle nie die een teks na die ander vir hulle aanhaal nie. Nee, wat daar ʼn impak gaan maak, is wanneer julle prakties aan hulle kan illustreer – in die manier hoe julle besigheid doen en hoe julle as My volgelinge ʼn verskil maak in hierdie wêreld – hoe anders dit lyk waar ons praktiese dinge begin doen soos ons by Jesus as die Koning geleer het om dinge te doen.

Daar waar ons Sy strategie begin volg en by die wortel van al die onreg, korrupsie, misdaad en armoedesake begin uitkom en dit begin aanspreek en daar dinge anders begin doen as die res van die wêreld om ons, breek iets anders deur en sien mense iets anders.

Daar begin hulle iets prakties en sigbaar sien van hoe lyk dit werklik as hemel hier op aarde en spesifiek in besigheid begin deurbreek.

Kom ek probeer hierdie andersheid ʼn bietjie prakties vir jou te teken.

Rondom jou in die sakewêreld, is die meeste besigheidsmanne en vroue, in plaas van om God te dien en lief te hê, doodgewoon slawe van Mammon. Sonder dat hulle dit eers besef, volg en dien hulle hierdie demoniese gees en word elke besigheidsbesluit of -aksie daardeur beïnvloed of gemanipuleer.
Natuurlik gaan dit nou nie help om vir hulle dit in hierdie Bybelse taal te sê of te vertel nie. Nee, ons sal dit in ʼn ander, meer verstaanbare taal moet vertaal vir die sakewêreld om dit daar enigsins ʼn impak te laat hê.

Ons moet vir hulle help om raak te sien dat daar beter en meer suksesvolle maniere is om besigheid te doen as die soort besigheid wat die tipiese Westerse kapitalisme vir besigheidsmanne en vroue op universiteite en in besigheidskole, en deur die finansiële instellings, vir hulle leer. Want hierdie soort kapitalisme wat alles en uitsluitlik deur wins en ʼn winsmotief gedryf word, is net nie volhoubaar nie en is juis die rede vir soveel van die uitwasse en vrot vrugte wat ons rondom ons sien, en wat die meeste van ons naar maak!

Soos wat ons laas in Engels dit vir mekaar gesê het: “It was all about greed and hoarding and maximizing self-interest at the expense of others.”

As ons dus ander vrugte en uitkomste wil sien, kan dit nie net oor wins alleenlik in goeie besigheid gaan nie. Dan moet ten minste drie dinge, as ewe belangrik gereken word in elke stukkie besigheid wat ons doen, naamlik:

Eerstens moet dit altyd oor die mense betrokke gaan. Daar moet in elke besigheidsbesluit rekening gehou word met almal betrokke se behoeftes en belange, en hoe om dit op die beste manier te dien.

Daar moet heeltyd gevra word hoe ons vir almal betrokke op die beste wyse kan sorg, na hulle behoeftes kan omsien en kan sorg dat alles so gedoen word dat almal betrokke wen en deel in wat hier op die tafel is.

Tweedens, ja, moet dit gaan oor wins en hoe ons waarde kan toevoeg. Daarsonder is daar tog nie sprake van werklike besigheid nie!

En derdens, moet dit vir ons almal gaan oor hoe om in dit waarmee ons hier besigheid gaan doen, op die beste manier om te sien na planeet aarde, haar ekosisteme en bronne wat geraak word deur dit wat hier op die tafel is.

Sien, die oomblik wat ons hierdie soort taal begin praat, is ons werklik besig om Koninkrykswaardes en koninkrykbeginsels te vertaal in ʼn taal wat die gelowige en ongelowige wêreld op die markplein kan verstaan en dit vir hulle, besigheidsgewys, ook begin sin maak.

 

Reeds met Sy openingsrede ter aanvang van Sy drie-jaarlange verskyning op die openbare verhoog, in die jare 28/29 tot 32 nC, maak Koning Jesus Sy agenda en beleid bekend.

Luister hoe staan dit daar in Mat. 4:17: “Van toe af het Jesus begin preek en gesê: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.’"

Onthou, tot op hierdie oomblik was Satan en sy magte in beheer van planeet aarde. Sonde het gefloreer in sovele vorms, en armoede, siekte, agteruitgang en verslawing in vele vorms was van die gevolge.

Aan die wortel van alles het gierigheid en selfsug gelê. Wat alles maar net simptome was van die liefde en dien van ʼn ander god in jou lewe, naamlik die demoniese gees, Mammon!

Sommer gou-gou het Koning Jesus juis hierdie wortel aangevat om so al die korrupsie, ellende en onreg aan te spreek.

Daarom hoor ons hoe Jesus oor hierdie gees praat en hoe hierdie gees byvoorbeeld geld as sy instrument gebruik.

Luister byvoorbeeld na die volgende:

In Mat. 6:24 sê Jesus: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

In Luk. 16:9 sê Hy: “En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.”

En in Luk. 16, vers 11 en 13 dan: “As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?” En: “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

As ʼn mens dan in die Evangelies begin rondblaai en begin kyk na wat Jesus alles hier op aarde in daardie drie jaar gedoen het, ontdek jy die volgende:
Jesus was baie doelgerig en strategies in die manier hoe Hy die korrupte ekonomie van Sy tyd aangespreek en hanteer het. En ek glo, dit is hierdie selfde strategie wat ons vandag nog kan volg as ons werklik ʼn verskil wil maak.

Om werklik ʼn verskil te maak het ons meer nodig as om net mense morele en etiese waardes te leer. Ja, natuurlik is dit ook van belang, maar om werklik ʼn verskil te maak moet ons iets op die tafel sit wat alreeds bewys het dat dit werk. En watter beter voorbeeld om vir mense te wys hoe Jesus dit self in die stukkende wêreld van Sy tyd in Israel gedoen het!

Die realiteit rondom ons, in 2022, is ʼn markplein wat gedryf en gemanipuleer word deur ʼn ekonomie waar gulsigheid/gierigheid en self-gerigtheid die dryfkrag en wortel in feitelik elke besigheidstransaksie is. Kyk maar net rondom jou in ons tipiese Westerse kapitalistiese ekonomie waar alles maar net oor wins gaan.

Wat het Jesus dan fisies en prakties daar op die grond gedoen om ʼn verskil te maak? Wat het Hom gedryf en gemotiveer?

Om jou te help om dit te ontdek, hoef ons maar net terug te gaan na bv., Matteus 4:17 toe, want dit was die hart van alles wat Hy vir die leiers van Israel gaan sê het, naamlik, bekeer julle, verander wat julle doen, want ʼn nuwe Koning is nou hier op aarde aan bewind! Daarom kon dinge nie maar net voortgaan soos altyd nie. Daarom was die status quo op die markplein en in die gewone lewe nie meer goed genoeg nie. Dinge moes verander, want ʼn nuwe Koning is nou aan bewind!

Die Koninkryk van die hemel het hier op aarde ingebreek en aangebreek. Daarom, bekeer julle en begin dinge anders doen as in die verlede!

As die koninkryk van die hemel regtig hier op aarde aangebreek het, kan ons nie meer dinge doen soos wat die besigheidskole, ekonomie-klasse, banke en ander finansiële strukture al die jare ons geleer het nie!

Dan kan ons ook nie deur dieselfde dinge as die res van die besigheidswêreld en besigheidsmanne en -vroue gemotiveer en gedryf word in ons besighede nie. Daar moet nou ander redes wees en ander motiewe agter alles wees in wat ons daar doen.

Volgende keer gesels ons verder.

 

Kom ek vertel vir jou wat ʼn besigheidsman my vertel het toe hy die Bybel deur die bril van besigheid begin lees het en hoe dit sy hele lewe omgedop het.

Hy vertel hoe hy homself gaan afsonder het en begin het om in die teenwoordigheid van God, met net die Bybel op sy skoot, die Bybel begin lees het.

Hy het besluit om terug te gaan na die begin en om die Bybel van Genesis 1 af te lees deur die bril van ʼn besigheidsman en in die lig van wat daar in daardie tyd in terme van besigheid gebeur het.

Soos ek, het hierdie sakeman geworstel daarmee oor hoe om die goeie nuus oor die koms van die Koninkryk van die hemel hier op aarde, op so ʼn manier op die markplein prakties uit te leef dat dit die aandag van ongelowige sakemanne en vroue om hom te trek.

Daar staan immers in Matteus 24:14 die volgende: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Met ander woorde, ons sal vir die nasies van die wêreld, soos in ʼn hof, feitelike getuienis kan lewer van die werklikheid dat die Koninkryk van die hemel hier en hier en hier op aarde deurgebreek en ʼn duidelike verskil gemaak het wat werklik “goeie nuus” vir almal, gelowiges en ongelowiges, gaan wees!

Hy het geworstel met die feit dat dit wat ons uit die Bybel vir mekaar leer, nie altyd gemanifesteer word in die lewens, huwelike, gesinne en besighede van volgelinge van Jesus nie. Ons lyk net soos die wêreld om ons.

Verder het hy oral rondom hom gelowiges gesien en gehoor wat bid vir deurbrake, maar dit nie altyd kry nie. En dit ten spyte van wat tog baie duidelik in God se Woord gesê en belowe word!

Net so het hy ook duisende gesien wat gesaai en gesaai het, maar tog nie werklik enige oes of bitter min oes op die saad wat hulle gesaai het, gesien en ervaar het nie. Dit het hom ernstig gekwel, want die God van die Bybel kan tog nie lieg nie, en Sy Woord en beloftes is tog altyd waar.

Daarom het dit hom ook laat huiwer om ongelowiges uit te nooi na byeenkomste van gelowiges, omdat daar so min getuienis was dat die Woord en die beginsels van die Woord werklik effektief en waar is in die lewens van die gelowige mense om hom.

Daarom het hy self in die Woord begin delf om uit te vind hoekom dit dan so is, en hoekom hy in sy eie lewe nie altyd genoeg vertroue het dat sy eie geloof werklik ʼn verskil kan maak in die markplek op ʼn Maandagoggend nie.

Hy het besluit om letterlik alles wat hy geleer het in die kerk eenkant toe te skuif en om net vas te gryp aan wat hy by God hoor terwyl hy die Bybel lees.

Hy het ook verder moeite gedoen om presies agter te kom wat in God se hart was en waarom Hy sekere dinge vir ons in Sy Woord laat opteken het en wat Hy daarmee vir ons wou sê.

Natuurlik moes hy ook in die proses rekening hou met presies wat die omstandighede was toe daardie Skrifgedeelte neergeskryf is, en wat deur die skrywers se kop gegaan het wat God se Gees gebruik en geïnspireer het om daardie gedeeltes neer te skryf.

Terwyl hy hiermee besig was, getuig die sakeman, het hy merkwaardig wonderlike dinge ontdek!

So het hy byvoorbeeld ontdek dat daar nie soseer fout was met wat die kerk geleer het oor hierdie gedeeltes nie, maar hy het wel ontdek dat dit geleer en gepredik is vanuit ʼn moreel-etiese hoek, naamlik wat ons moet of nie moet doen nie. Maar dit het nie werklik die realiteite waarmee elke gelowige daar in die markplek geworstel het, aangespreek nie. Dit was asof die kerk in Engels met die gelowiges gepraat het oor wat reg en verkeerd is, terwyl almal daar in die modder en gemors op die markplein in Russies praat en leef.

Hoe hou ʼn mens van Maandag tot Vrydag kop bo water? Wat nog te sê daarvan om die lewe te leef en die seën te beleef waarvan God in Sy Woord ons belowe.

In die loopgrawe van die besigheidswêreld word ons geleer dat daar net een manier is om te oorleef en dit is om alles moontlik te doen om so gou moontlik ryk te word en soveel moontlik soveel geld te maak, al kos dit wat! Alles is aanvaarbaar, solank jy net nie uitgevang word terwyl jy die verkeerde doen nie. Al beteken dit dat jy op ʼn paar mense moet trap in die proses.

Luister ʼn mens mooi na wat ons mekaar leer oor goeie besigheid, gaan dit uiteindelik net oor jouself en wat jy bymekaar kan maak, en vir hoe lank moontlik jy dit kan vashou sonder om dit uit te gee.

Hoe sê ons dit in Engels: “It was all about greed and hoarding and maximizing self-interest at the expense of others.”

Wat in die kerk meestal geleer en verkondig word, spreek nie hierdie dinge werklik aan nie. Ons word nie geleer hoe om daar in die loopgrawe prakties anders te wees, prakties anders te dink en anders te doen nie. Ons word nie geleer om ʼn blywende verskil daar te begin maak nie.