Displaying items by tag: Draai weg van julle sonde

Romeine 3:23 tot 26

Hoekom moes Jesus die Christus, sondelose Seun van God, Homself verneder om gewoon mens te word om Sy Bloed, Sy lewe, vir sondige, totaal verlore mense te gee?

Natuurlik was dit omdat God hierdie mensdom so liefhet en nie wil hê dat hulle verlore en hel toe sal gaan nie. Die bekende Johannes 3:16 spel dit immers vir ons uit.

Maar wat ons nie genoeg beklemtoon nie, is dat hulle sondige en daarom totaal verlore mense is en was. Hulle was juis totaal verlore en op pad hel toe, na die ewige verderf toe (wat satan en sy demoniese magte se eindbestemming is) as gevolg van hulle sonde en sondigheid!

Om dit te verstaan moet ek en jy verstaan hoe erg God sonde haat!

Ja, ek weet ons praat heeltyd daaroor dat die God van die Bybel ʼn liefdevolle en goeie God is!

Maar in die Bybel openbaar hierdie selfde God Homself as ʼn God wat sonde in al sy vorms haat soos gif! Daarom staan daar in Ps. 5: “U haat al die werkers van ongeregtigheid.”

Hy, as ʼn Heilige God, kan sonde nie voor Sy oë verdra nie.

Telkemale in die Skrif het Hy gesê dat die straf vir sonde (al is dit net een sonde) is altyd die dood.

Kom, lees vandag saam met my hardop dit wat daar in Rom. 6:23 staan.

Probeer om dit in jou eie woorde oor te sê.

As ek dit moet probeer oorsê, sou ek dit dalk so probeer oorsê: Daar is net een straf waarmee God tevrede is as iemand gesondig het, en dit is dat daardie mens, of iets of iemand in sy plek, sterwe en vir altyd hel toe sal gaan.

As jy dit verstaan, sal jy verstaan waarom God daar in die begin, net na die Skepping, toe die eerste mense, Adam en Eva, gesondig het, ʼn onskuldige dier moes doodmaak om hulle sonde te bedek.

Hierdie onskuldige dier het sy lewe (sy bloed) gegee in die plek van die mens wat gesondig het.

Nou kan ons hardop 'n tweede Skrifgedeelte saam lees wat die Here hieroor vir ons sê. Lees Rom. 3:23 tot 26 hardop en probeer om dit in jou eie woorde oor te sê.

Daarom kan die Heilige God ʼn mens wat glo dat Jesus Sy Bloed aan die kruis ook vir jou en jou sondes kom gee het, wat bid dat die Here tog hulle sondes sal vergewe, hulle vergewe en volkome vryspreek van enige straf wat daar regtens op hulle gerus het.

Elkeen wat glo dat dit is waarom Jesus Christus (as die Lam) gekom het, gee God uit genade die geskenk van ʼn ewige lewe. Jy sterf dus inderwaarheid nooit nie, en lewe vir ewig.

Maar dit is ook op grond van die bloed-offer van Jesus aan die kruis, waarom hierdie Heilige God jou as Sy kind elke keer kan vergewe en kan skoon was as jy bewus raak van sonde in jou lewe en kom en in gebed kom bid vir vergifnis.

1 Joh. 1:9 sê immers: “Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Onthou egter, om jou te kan vergewe, het hierdie Heilige God ʼn baie duur prys gekos, naamlik Sy Seun wat Sy lewe, Sy Bloed, moes gee!

Praat hieroor met die Here.

Published in Nuusbrief