Displaying items by tag: Eerste aksiestap

 

As die Here dan werklik deur hierdie wêreldwye “pandemie” ook met die Ekklesia of Kerk gepraat het, wat staan ons te doen?

Hoe kan ons tot aksie oorgaan as Koning Jesus se woord vir hierdie tyd werklik is: Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel is besig om in en rondom julle te kom?

Kies om onvoorwaardelik in alles wat jy doen, sê en dink, as ʼn burger van hierdie Koninkryk dit te doen!

Hierdie eerste tree kan vir jou en jou geliefdes ʼn kokon en veilige tuiste skep.

In tye van lugaanvalle en oorlog, het mense na bomskuilings gevlug vir veiligheid.

Alhoewel die was van hande, isolasie wanneer nodig, en verantwoordelike sosiale kontak met mense dalk mag help teen ʼn virale aanval, kan ons nie vrees en angs weg was met seep en water nie.

Dit gebeur eers wanneer ons Koning Jesus se uitnodiging vir die eerste keer of by hernieuwing in geloof aanvaar as Hy vir ons sê: Ek wil vir jou My vrede gee. Kom na My toe en vind by My ware rus en vrede vir jou siel. Moenie vrees nie. Jy en jou geliefdes is veilig hier by My!

Soos die Bybelse Evangelieboodskap vertel, het ons as mensdom van voor ons geboorte af ons konneksie met ons Ware Huis en Hoofkwartier verloor.

Tensy ons ons leë hande in geloof uitsteek en uitroep na God en Sy hulp, gaan Hy Hom nie op ons af-forseer nie! Hy sê immers aan ons: Roep My aan in jou moeilikheid en Ek sal kom om jou te red!

As jy dit nog nooit gedoen het nie, waarom doen jy dit nie nou hier nie?

In Sy Woord beskryf God Homself as hierdie Hemelse Pappa wat heeltyd by die venster staan en uitkyk vir wanneer Sy verlore seuns en dogters tog eendag gaan kies om huis toe te kom!

Hy het vir jou, deur die koms en menswording van Sy Seun, ʼn persoonlike boodskap en uitnodiging gestuur om, asseblief, terug te kom!

Jesus, en net Hy, is ons enigste antwoord en enigste pad terug huis toe!

Geen kerk, geen godsdienstige ritueel, geen gebed aan Maria of watter ander heilige, kan vervang wat Jesus reeds gedoen het en kan en wil doen vir jou nie.

Honderde miljoen mense wat dit reeds gedoen het, getuig opgewonde oor die onmiddellike vrede en liefde wat hulle ervaar het toe hulle in Sy oop, liefdevolle arms ingestap het toe hulle gewaag het om terug Huis toe te gaan.

In plaas daarvan om God te ignoreer of van Hom af weg te hardloop, gaan dadelik na Hom toe terug!

Dan sal jy ook beleef hoe die storms en vlae van vrees en angs onmiddellik sal wegdrywe en hoe jy toegevou word in Sy onvoorwaardelike liefde.

Maar, hierdie stap behels natuurlik baie meer as net dit.

Die Here Jesus het eens die Koninkryk van God vergelyk met ʼn mostertsaad. Alhoewel dit hierdie klein ou saadjie is, word dit hierdie reuse plant wat skadu en skuiling kan bied aan die voëls in die hemel.

Die Koninkryk van God kan gedefinieer word as die gebied waarin God se regering en Woord onvoorwaardelik geld en aanvaar word.

Dit is dus daar waar Jesus Christus die Koning en Here is, en waar mense gekies het om Hom lief te hê en te gehoorsaam as hulle Koning. Daar doen hulle soos wat Hy vir hulle gesê en geleer het, in elke deeltjie van hulle lewe, in hulle huise, besigheid en geldsake. Ja, oral!

In die Koninkryk van God en in ʼn burger van die Koninkryk van God se lewe, geld God se Woord, die Bybel, onvoorwaardelik!

Daarom kan niemand wat waarlik ʼn burger van hierdie Koninkryk geword het, sê: God, ja, maar Koning en Here, nee, nie!

Daarom kan niemand wat iets van die Koninkryk van God verstaan, van Jesus hierdie humanistiese, liefdevolle storieverteller maak wat net mense wil lief hê en net liefde wil gee, sonder enige klem op waarheid en geregtigheid nie.

Ek wil afsluit. Kom, lees saam met my wat Hy vir jou in die bekende Ps. 91 sê.

“Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’

Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte.

Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou 'n veilige skuilplek.

Sy trou beskerm jou aan alle kante.

Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.

Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.

Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word.

Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy doodtrap.

‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.

'n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.’”

Met ander woorde: Aan hulle wat tuis gekom het in Sy huis, in Sy Koninkryk; wat Hom aangeneem het as Verlosser en Here; wat Jesus nie net Verlosser noem nie, maar ook Here; aan hulle belowe Hy Sy spesiale en unieke beskerming teen elke vorm van kwaad en aanval. Ja, ook midde ʼn Corona19-aanval.

Gewone kerke en selfs die Christendom as godsdiens kan nie jou dit waarborg nie!

Kom ek sê dit op ʼn ander manier.

Baie mense het vir Jesus Christus gevra om in hulle te kom woon, en dit is ook reg so. Maar ons moet ook besef dat Hy dan nog ʼn tree van ons vra, naamlik dat ons ook ons plek en posisie “in Christus” sal inneem.

Daarom sê die Evangelie van Johannes en baie van Paulus se briewe: Hy in ons en ons in Hom!

Of, soos Johannes dit sê: Hy sal in ons bly, as ons in Hom bly!

Christus in ons, is ʼn goeie begin, maar die partytjie begin wanneer ons “in Christus” ons plek ingeneem het!

Published in Nuusbrief
Tagged under