Displaying items by tag: Elke gelowige se bediening

 

Kom ek herhaal net weer Ef. 4:11 tot 16 hier vir jou, maar in plaas daarvan om hierdie keer te fokus op wat hier gesê word oor die opdrag en roeping van die vyfvoudige bediening, wil ek hê jy moet raaklees wat hier gesê word oor dit wat in elke gelowige volgeling se lewe moet plaasvind met die oog op sy of haar rol en bediening as deel van die Ekklesia:

Ef. 4:11 tot 16 sê dit baie duidelik:

“En dít is die "gawes" wat Hy "gegee het": apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ʼn volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

Sien jy wat hier staan oor elke gelowige in die Ekklesia?

Elkeen van hulle het ʼn “diens”” of bediening in die Ekklesia en in die mate wat hulle dit verrig, word die Liggaam opgebou.

En soos wat elkeen van hulle begin snap wat die ware inhoud is van hulle geloof, in daardie mate leer hulle werklik Jesus Christus ken en hoe om in ʼn meer intieme liefdesverhouding met Hom te leef.

Uiteindelik is dit die hart van geestelike volwassenheid, want gelowiges leer om meer en meer net te fokus op Christus en wat Hy vir en namens hulle gedoen en afgehandel het deur Sy lewe, Sy lyding, Sy kruisiging en Sy opstanding en dit wat Hy besig is om steeds in hulle lewens te doen deur die werking van die Heilige Gees.

In plaas van dat ʼn gelowige geloofsgemeenskap net bestaan uit geestelike babas wat glad nie kan onderskei tussen wat grate is en wat vis is wat aan hulle opgedis word as waarheid nie, sal hulle ʼn volwasse aanvoeling hê vir die Ware Woord en nie maklik op sleeptou geneem kan word deur valse lering nie.

Nee, omdat hulle die Woord ken en geleer het hoe om Koning Jesus se stem en leiding deur Sy Gees en deur die Woord te herken uit al die stemme wat hulle hoor, het hulle gekies om oor te gee aan die beheer van Sy Gees en hoe om te luister na Sy leiding en dit alleen te gehoorsaam.

So het hulle geleer dat Jesus, hulle Verlosser, ook hulle Here en Koning is wat ook die Hoof is van die Liggaam. Sy Woord en wil is wet en ons toets vir waarheid.

In die mate wat ons laag aan Sy voete bly en in totale afhanklikheid wag op Sy genade en krag, groei hulle geloof en dra hulle die vrug van die Gees.

Hulle ontdek hoe belangrik dit is om aktief deel te wees en in verhouding te wees met ander gelowiges in ʼn plaaslike geloofsfamilie. In hierdie proses ontdek gelowiges hulle SHAPE, naamlik hulle Gees-gawes, hulle plek in God se groter prentjie en hart vir hulle, maar ook hoe om hulle vermoëns, persoonlikheid en ervarings langs die pad te gebruik as deel van hulle bediening teenoor ander gelowiges maar ook as deel van hulle getuienis teenoor ʼn ongelowige wêreld rondom hulle.

Omdat Jesus se hart is dat dit alles in elke gelowige se lewe moet gebeur, het Hy die vyfvoudige bediening oral in die Liggaam geposisioneer en toegerus om soos ʼn gesonde bloedsomloopstelsel by elke gelowige, waar hulle ook al hulle bevind, uit te kom en om hulle daar te bedien.

Verstaan jy nou dat die vyfvoudige bediening belangrik is omdat hulle hierdie belangrike rol het in die lewe van elke gelowige!

Published in Nuusbrief