Displaying items by tag: Glo

Ja, ek weet dit is nie “soeker-vriendelike taal” om oor God se oordeel en die hel te praat as ons besig is om oor die Evangelie van Jesus as “goeie nuus” te praat nie.

Maar miskien moet ons ophou om ons “slimmer” te hou as wat ons Here en Koning ons aanvanklik geleer het.

Ek lees juis weer vanoggend daar in Lukas 10, toe Hy die 70 uitgestuur het, hoe Hy vir hulle sê dat as hulle ʼn tyd in ʼn dorp of stad deurgebring het en die mense daar met die goeie nuus bedien het, en tog, nieteenstaande, mense daar die boodskap nie sou glo of aanvaar nie, hulle die stof van hulle voete moes afskud en wegstap, want God se oordeel oor daardie stad bly dan alleen agter as ʼn verskriklike werklikheid!

Dit kan ook nie anders nie!

Vir God om sondaars genadig te wees, het gekos dat die Seun van God Homself moes verneder en ʼn mens word! Het gekos dat Hy as ʼn misdadiger gereken word, moes ly en sterwe, drie dae in die graf moes deurbring, voordat Hy deur die Vader opgewek is en nou die Verlosser en Here kon wees!

Nou kon Hy Sy Bloed en alles wat Hy daardeur vir die mens gedoen het, na die mens toe uithou uit genade, omdat Hy hulle so liefhet!

Maar slegs hulle wat met die leë hande van geloof hierdie geskenk van genade aanvaar, aanneem, se lewens word daardeur verander en word gered. Die res bly onder God se oordeel as gevolg van hulle sonde en omdat hulle nie dit wat Jesus gedoen het in geloof wou aanvaar nie.

Kom, ons lees vandag hoe die Lewende God dit self vir ons in die mees gememoriseerde gedeelte in die Bybel vir ons sê.

Ja, jy is reg! Kom ons lees vandag Johannes 3:16 tot 21 hardop. (En as jy dalk nog ʼn vertaling of twee byderhand het, lees dit ook daarin.)

Probeer om alles wat hier staan in jou eie woorde oor te sê.

Moenie vergeet om ook hardop vir jouself te sê: Al het Jesus Christus Sy lewe en bloed gegee vir sondaar-mense om nie verlore te gaan nie, gaan mense steeds hel toe en verlore omdat hulle nie dit wat Jesus gedoen het namens en vir hulle, wou aanvaar in geloof nie!

Wat ʼn verskriklike en tragiese werklikheid!

Gebruik jou tyd in gebed om met die Here hieroor te praat en om sommer te bid vir daardie mense in jou familie en vriendekring wat nog nie gered is nie.

Published in Nuusbrief
Tagged under