Displaying items by tag: Hemel

Verlede keer het ons vir mekaar gesê dat die Goeie Nuus oor Jesus, vir diegene wat dit glo, soos ʼn sleutel is wat die hemel vir hulle oopsluit. Wat beteken dit prakties vir my en jou wat dit glo?

Kom ons haal vir mekaar verse en beloftes aan uit die Bybel, die Woord van God, wat vir ons herinner aan wat dit alles beteken.

Johannes 1

In Joh. 1 staan dat toe ek gekies het om die Goeie Nuus oor Jesus se koms, kruisiging, dood en opstanding, vas te gryp in geloof, het die hemel vir my oopgegaan, is die lig vir die eerstekeer aangeskakel in my donker bestaan en ek kon sien…

Voor dit was ek geestelik dood. Skielik het ek begin lewe. Ek is letterlik weer, nuut, gebore!

Ja, ek het steeds dieselfde liggaam en gesig gehad, maar my gees was splinternuut en lewendig!

Van daardie oomblik af het ek nie net oorleef van dag tot dag nie, nee! Vir die eerstekeer het ek iets verstaan en ervaar van lewe en dit in hoofletters.

Voorheen het ek gevoel ek was wees en my lewe doelloos en sonder betekenis. Skielik het ek ontdek ek het ʼn Pappa-Vader, die enigste ware God, en ek is Sy kind.

Toe die goeie nuus van die Evangelie aan my verkondig is, het ek as’t ware ʼn ontmoeting met ʼn lewende Jesus gehad! Met oop arms en hande waarin die spykermerke sigbaar is! Ek het my letterlik vasgeloop teen die lewende God self!

Die Jesus waarvan die Evangelie my vertel het, was toe ek gekies het om die boodskap te glo, nie meer net ʼn klein babaseuntjie wat op 11 September, 3 voor Christus, in Bethlehem gebore is nie!

Nee, toe die hemel oopkliek, het ek die Seun van die lewende God gesien in Sy heerlikheid!

Wat Homself laat verneder het om ʼn gewoon mense-“mier” te word, om in hierdie “miershoop”, aarde, vir ons “ander miere” te kom vertel van ʼn Hemelse Pappa wat ʼn mens-familie wil hê en ons, tog, so liefhet!

Vir ons wat gekies het om die Goeie Nuus te glo, skielik, byna onverwags, alhoewel Hy dit in Sy Woord en beloftes aan ons so belowe het, het die hemel oopgekliek en het God se genade ons lewens begin binne-stroom!

God het ons, soos Hy belowe het, begin seën uit ons skoene uit! Seëning op seëning, dag vir dag, onverdiend en uit genade, net omdat Hy ons liefhet en omdat ons nou Sy kinders was!

Johannes 3

Joh. 3 openbaar dat toe ons die Evangelie begin glo het, het die hemel oopgekliek en het iets van die werklikheid van die Koninkryk van die hemel ons lewens begin binnestroom!

Ons het onverdiend, burgers en ambassadeurs van hierdie nuwe Koninkryk van die Hemel geword en is aangestel om dit en dit alleen hier op aarde te verteenwoordig.

As tuinslange, gekoppel aan die Koning van alle konings as die Kraan, wou die Koning nou Sy genade, liefde, genesing, waarheid, woorde, lewe, deur ons laat stroom na ander, sodat hulle ook die Goeie Nuus kan hoor en iets van die werklikheid van die Koninkryk van die hemel daar in hulle eie lewe en eie nood ervaar.

Wie kies om dit te glo en hierdie Jesus en Sy Woord te gehoorsaam, beleef hoe die hemel vir hom of haar oopgaan en hoe alles wat God belowe het, in jou lewe waar word!

Published in Nuusbrief
Tagged under