Displaying items by tag: Herlewing

 

 

Sien jy dit raak?

Vir soveel jare is ek een van honderde profetiese stemme wat profeteer wat God aan ons gesê het, naamlik dat HERLEWING op pad is hier in Suid-Afrika!

Ek is oortuig ons sien dit al vir jare gebeur! Maar in die besonder hierdie jaar, 2023!!

Vriende, God is besig om hierdie stukkende land met sy miljoene stukkende mense aan te raak en om dinge te verander!

Kyk wat het reeds gebeur met die hele GEBEDSBEWEGING wat vir soveel jare stadions volgepak het met derduisende Suid-Afrikaners wat begin bid het vir hierdie land, en wat nou nog steeds in elke dorp en stad, week na week, steeds bly bid.

En dan is daar die MIGHTY MEN-byeenkomste waar derduisende saam getrek het en die Here God duisende manne aangeraak het en teruggestuur het na hulle huwelike en gesinne en besighede om 'n verskil te maak.

En toe, in Januarie vanjaar, raak God 300 manne aan daar by Camp Unity, buite Bloemfontein, en TIME2RISESA kom in beweging.

Tans is dit werklik besig om in elke gemeenskap in hierdie land, van grondvlak af, die Liggaam van Jesus, een gelowige op 'n keer, te verenig en te inspireer om op te staan en om die stukkende mure daar voor jou huis te begin herstel en om te doen wat jy kan en moet doen.

As deel hiervan, hierdie pasafgelope week, op 29 en 30 Augustus 2023, het dr Michael Louis en 'n hele regspan die regering van SA hof toe geneem vir wat seker die belangrikste hofsaak nog ooit in SA gaan blyk te wees. Alles as deel van die voorbereiding om met volgende jaar se verkiesing 'n nuwe regering in hierdie land in plek te sit.

Gaan kyk na 'n video hieroor as jy nie weet waarvan ek praat nie.

https://youtu.be/UyndAlTa3wI?si=ANSJ7sG04zJR57SG

En gaan na ons webblad by www.Time2RiseSA.co.za en kyk 'n video hieroor by https://www.youtube.com/watch?v=2Z1ct-BNPig

WORD DEEL VAN ONS NASIONALE SPAN!

Ja, JY KAN 'N VERSKIL MAAK!

Die tyd is nou!

As dit nie by ons begin nie, wie dan anders? As dit nie nou begin gebeur nie, wanneer dan?

"’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ‘n volk sug as ‘n goddelose mens regeer." (Spr. 29:2)

GENOEGisGENOEG

ENOUGHisENOUGH

Time2RiseSA

Published in Nuusbrief
Tagged under

 

Laaskeer het ons gesels oor die eerste 4 woorde of "gebooie" deur die bril van die Gees.

Kom ons gesels vandag oor dit wat God se Gees vir ons self sê deur die laaste 6 "woorde" of "gebooie".

Dit is God wat ons vir ons ʼn pa en ʼn ma gegee het, en ons onder baie ander gesagfigure se gesag geplaas het, met die opdrag dat hulle ons moet leer wat Jesus vir hulle geleer het. Hy gaan hulle verantwoordelik hou of hulle die verantwoordelikheid teenoor ons nagekom het. Hy gaan ook ons verantwoordelik hou of ons hulle geëer en gerespekteer het as die mense wat God in gesagsposisies oor ons aangestel het.

Met God die Gees in ons, ontdek ons dat alle lewe kosbaar is in Sy oë en dat net Hy self sê het oor lewe en dood.

Met God die Gees in ons wat ons lei, leer ons dat die huwelik tussen een man en een vrou vir God heilig en goed is, en dat ons binne daardie grense mekaar kan liefhê en kan een word, na gees, siel en liggaam.

Met Sy Gees in ons, leer Hy ons om Pappa-Vader te vertrou om in totaliteit vir ons te sorg. Ons hoef niks te steel of te vat wat nie aan ons behoort nie. Sy Gees gaan ons lei om ses dae ʼn week hard te werk terwyl ons Hom vertrou, dat daar uiteindelik genoeg sal wees om ons geliefdes te bedien met wat hulle nodig het, maar ook dat daar genoeg sal wees om ander se nood ook daarmee te bedien. Sodat ook hulle nie nodig het by ander te steel om te hê wat hulle nodig het nie.

God die Gees, as ons nuwe Wet in ons, gaan ons daagliks leer om ander mense se persoon hoog te ag en net van hulle goed te praat. Daarom gaan ons kies om op te staan en te veg vir waarheid en vir wat reg is, en om geen leuens en halwe waarheid uit ons mond te laat kom nie. Ons weet immers dat wanneer ons ou vlees in beheer is, is ons doof vir die Gees se leiding en stem in ons lewe.

Onder die leiding van God se Gees, gaan ons ʼn nuwe vergenoegdheid en vrede beleef, want ons weet Pappa-Vader is in totaliteit in beheer van ons hele lewe. Ja, ook vir vandag! Daarom kies ons ook vandag om te glo dat hierdie God wat ons leer ken het in die Bybel, ʼn goeie Pappa-Vader is. Ons het Hom leer ken en leer liefkry. Daarom maak ons elke dag tyd om op Hom te wag sodat Hy ons kan wys wat Sy perfekte wil vir ons lewe is. Daarom wag ons op Hom, of dit nou is oor watter man of vrou Hy vir my bedoel het vir die huwelik, en of dit nou is oor wat en hoeveel Hy my mee gaan vertrou in geld en goed hier op aarde. Onder die leiding en beheer van die Gees leer ek om nee te sê vir my ou vlees wat net heeltyd meer en van alles van ander wil hê.

 

Published in Nuusbrief
Tagged under

Was die Wêreldwye "MIghty Men"-byeenkoms oor die internet nie 'n belewenis nie!

Ek sê vir so baie mense dat ek glo dat die Herlewing wat die Here my in daardie visioen in April 1997 gewys het, hier rondom ons in Suid-Afrika maar ook wêreldwyd reeds duidelik aan die gebeur is!

Dit is wat ek Saterdag weer tydens hierdie uitsending so duidelik gesien het!

Dit wat God in Joël 2 oor laat profeteer het, en wat op 31 Mei 32 nC, op Pinksterdag, daar in Jerusalem, in vervulling getree het, is hier rondom ons, ook in hierdie dae met die oploop na die viering van Pinksterdag 2020, weer besig om oor en oor te gebeur!

Wil jy nie waag om saam met my die gebed wat ek sedert 2016 profeties proklameer, saam met my bid nie?

Bid asseblief saam met my:

Kom, Gees van God, kom uit die Weste, die Ooste, die Suide en die Noorde, kom bring lewe in hierdie begraafplaas rondom ons! Bring lewe in my eie lewe! Bring lewe in hierdie gesin en familie van my! Bring lewe in my huwelik en in my verhoudingslewe! Bring lewe in my gemeenskap, hier waar ek woon en lewe elke dag!

Gees van God, bring lewe in hierdie land van ons! Bring lewe in my besigheid en in my werk! Bring lewe daar waar ek skool gaan of studeer! Bring lewe in die ekonomie! Gees van God, kom waai deur ons regering en verander diegene wat U aangestel het in posisies van outoriteit!

Bring nuwe lewe! Bring lewe waar daar tans dood heers! Bring genesing waar daar tans siekte heers!

Pappa-Vader, Koning Jesus, Heilige Gees, laat ons U heerlikheid as die Enigste Ware God sien en ervaar oor die hele wêreld vandag!

In Jesus se Naam bid ons dit! Amen!

As jy weer die heruitsending van Saterdag se gebeure wil sien, hier is die skakel daarheen:

Mighty Men Global 2020-video

Ek stuur dit vandag, op Sondag, 24 Mei 2020, uit na elkeen van julle.

Maak tyd om saam met jou geliefdes daarna te kyk.

Kom ons gebruik dit as 'n manier om rondom die Woord, dwarsoor die wêreld, byeen te kom as gelowiges, om te hoor wat God self aan Sy mense wil sê!

Voor ons lê 'n nuwe seisoen!

Kom ons stap hierdie nuwe seisoen in met 'n Woord van die Lewende God wat brand in ons gees!

Published in Nuusbrief
Tagged under