Displaying items by tag: Iets nuuts

 

Markus 1:15, 2 Kor 5 en Gen.2

Ek wil hê ons moet die Here vertrou om deur Sy Gees veral drie Skrifgedeeltes (ja, moenie skrik nie, want een daarvan gaan veral letterlik net ʼn teksvers wees) vir ons oop te breek, in die lig van alles wat Hy reeds vir ons gesê het tot hier.

Jy kan dit natuurlik oor twee dae doen, of net oor een dag. Dit is jou keuse.

As jy nie alleen daar in jou woonplek is nie en daar ook ander saam met jou is, is dit ook ʼn ideale geleentheid om tyd te maak om “twee of drie saam” in die teenwoordigheid van Jesus te wees, waar julle saam dit wat ek hier op jou tafel neersit, kan oordink en oor gesels.

Kom ek sit vir jou in ʼn sin of twee dit wat ek hierdie afgelope paar dae ontdek het terwyl ek nagedink het oor wat Jesus vir ons gedoen het deur Sy lewe, Sy lyding, Sy kruisiging, Sy dood, die drie dae in die graf en Sy opstanding (wat ons sommer alles kortweg saamgevat het met die term “die Bloed van Jesus”).

Ek het gedink aan die volgende:

• Die hart van Jesus se lering en prediking kan ons saamvat in die woorde van ons eerste gedeelte wat jy asseblief hardop moet lees en dan in jou eie woorde moet probeer oorsê, naamlik Markus 1:15. (Onthou dat die uitdrukking “koninkryk van God” in ander gedeeltes, soos in die Ons Vader-gebed, word ook “die koninkryk van die Hemel” genoem.)

• Daar in 2 Kor. 5:17 tot 6:2 word dit ʼn “nuwe skepping” genoem wat Jesus Christus deur Sy Bloed hier op aarde tot stand gebring het, waarvan ek en jy nou Ambassadeurs van geword het na ons weergeboorte (in Joh. 3:14 tot 17 se sin).

• Dit het my dadelik laat terugdink aan die eerste skepping, daar in die begin, en God se plan met dit alles. Voordat die mens deur hulle ongehoorsaamheid (sonde) letterlik God onttroon het (as Koning en Here) en Satan en sy magte gekies het as hulle nuwe heerser op aarde. Deur te kies om hom te gehoorsaam en te vertrou, het hulle die sluise oopgetrek vir sonde, die dood en die hel om stelselmatig alles hier te kom vernietig en te laat sterf.

• Kom ons blaai na Genesis 2 en lees dan verse 4 tot 9, en verse 15 tot 25 (teen die agtergrond van Gen. 1:26 tot 31). Probeer om jou voor te stel wat God in gedagte het met hierdie “nuwe skepping” of “nuwe, herstelde Koninkryk van Hemel” hier op aarde. In ʼn sin het die Bloed van Jesus letterlik soos ʼn skakelaar dit alles “aan die gang gesit”.

• Wat hoor jy sê God vir jou oor wat jou rol en boodskap as “ambassadeur” van hierdie nuwe Koninkryk is?

Kom, wees ʼn bietjie kreatief! Luister en wees sensitief vir die stem van die Heilige Gees en laat Hy jou ʼn bietjie “nuut laat dink” hieroor.

Gesels dan daarna met die Here hieroor in gebed.

Published in Nuusbrief