Displaying items by tag: Joh 13:34,35

Sjoe, ʼn paar van julle het ʼn bietjie geskrik oor wat ek verlede keer gesê het.

Iemand vra toe: Maar sê jy dat ons glad nie meer, behalwe in huise bymekaar moet kom as volgelinge van Jesus nie?

Heb 10:25

Natuurlik nie! Dit sou mos nie Bybels wees as ek dit sou sê nie. Hoor hoe duidelik staan dit daar in Heb 10:25:

“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

Kom ons luister ʼn bietjie saam na wat in die Nuwe Testament alles ekklesia genoem word en hoe die Nuwe Testament praat oor die ekklesia. Dan sal jy ʼn baie meer volledige prentjie sien van hoe die Bybelse “nuwe wynsak” lyk waarbinne God se Gees God se mense daar in die begin, van 32 na Christus, tot so 300 na Christus bedien en gebruik het.

Die Handelinge-gemeentes/ekklesia het hoofsaaklik twee kenmerke gehad wat die gemeenskap aangegryp en na hulle toe getrek het soos motte na lig:

Die eerste kenmerk was natuurlik die manier hoe hulle mekaar liefgehad het en die gemeenskap om hulle liefgehad het.

Dan was daar die tweede kenmerk, naamlik die van die veranderde lewens van die mense wat deel was van hierdie gemeentes. Die gemeenskap het immers hierdie mense geken en gesien hoe hulle voor hulle oë verander het.

As ons Bybelgedeeltes moet nadertrek in die verband, kan die volgende geld as goeie voorbeelde:

Joh. 13:34,35

“Ek gee julle ʼn nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Hand. 2:41-47

“Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.

Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

"Naby-familie" en "vêrlangse familie in Jesus"

Dit is dus vir my baie duidelik dat in die ware Bybelse ekklesia, word ons nie deel van die een of ander denominasie of kerkstruktuur nie. Ons is immers reeds deel van die Liggaam van Jesus op aarde.

Natuurlik het ons “naby-familie” wat bloot die lokale geloof-familie of ekklesia hier in ons onmiddellike omgewing is waar ons as gelowige volgelinge van Jesus familie vir mekaar word en vir wie ons dan ons huis en lewe oopstel.

Daar leer ons om mekaar lief te hê soos wat Jesus ons liefhet. Ons leer wat dit beteken as Hy ten volle in beheer is deur Sy Gees. Waar die Heilige Gees in beheer is, sterf die “ek” en word ons “ons”. Ja, ons word “medewerkers van God”.

Behalwe waar ons as gelowiges in huise of by die werksplek bymekaar kom, het ons ook baie nodig om geleenthede te skep waar ons saam met gelowige volgelinge in ons dorp of stad byeen kan kom op die een of ander wyse.

En ja, selfs ook nog groter byeenkomste, elke nou en dan, waart ons saamkom met gelowiges in ʼn nog groter gebied, of selfs provinsie, of selfs nasionaal en internasionaal.

Hulle is immers ons vêrlangse familie in Jesus met wie ons op allerleie wyses doelbewus “een-wees” en “saam-wees” moet beleef.

Volgende keer gesels ons ʼn bietjie oor frustrasie met “kerk-wees” soos die meeste van ons tans beleef.

Published in Nuusbrief