Displaying items by tag: Mat 28:19,20

Sunday, 14 March 2021 09:55

Ons opdrag in Mat. 28:19 en 20

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Verlede keer het ons mekaar herinner aan die manier hoe Jesus ons daar in Lukas 10 geleer het om mense in die gemeenskappe, die werksplek, by die skool en daar waar jy woon en leef, te bedien.

Onthou jy nog wat Hy ons geleer het om te doen?

Eers moet ons hulle begin seën (wat maar net beteken dat ons met ons God oor hulle moet begin praat, deur vir hulle te bid en te vra dat Hy hulle sal seën).

Dan moet ons tyd met hulle begin spandeer deur saam met hulle te kuier. Sodat hulle ons kan leer ken en iets van ons andersheid kan sien en hoor met hulle eie oë en ore.

Deurentyd moet ons sensitief wees vir die stem van die Heilige Gees wat ons bewus gaan maak van nood en seer wat Hy deur ons in die mense se lewens wil bedien.

Eers dan daarna, wil Jesus hê ons moet mense van Jesus se koms en Sy Koninkryk vertel.

Sien, wanneer mense God gesien werk het, is hulle oop en gereed om te hoor van wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het, en wat Sy oorwinning en opstanding werklik vir ons beteken.

Ons noem baie keer die opdrag van Jesus daar in Mat. 28:19 en 20 die Groot Opdrag. Maar lyk vir my, ons kan nou, in die lig van die "nuwe wyn" wat aan ons hieroor bedien is, dit eerder Die Groot Vennootskap noem.

Volgens Matteus 28, vers 19 en 20, stuur Jesus Christus, die Nuwe Koning op aarde, ons en elkeen wat glo dat Hy die nuwe Koning hier op aarde is, uit om in Sy Naam, in die lig van die oorwinning wat Hy oor Satan en sy magte behaal het, as Sy afgevaardigdes en ambassadeurs, om oral waar ons kom die goeie nuus te vertel.

Kom ek sê dit anders: Die Goeie Nuus oor Jesus Christus is nie dat Hy net gekom het om "siele" te red nie. Ons word ook nie deur Hom uitgestuur net om "siele" te red nie. Nee, die Goeie Nuus oor Jesus Christus en wat Hy kom doen het, is baie wonderliker as net dit!

Kom ek sê dit in terme van die boodskap oor die Koninkryk wat gekom het, so:

Die Koninkryk van God gebeur nie net daar waar "siele" gered word nie! Nee, die Koninkryk van God kom hier op aarde wanneer mense besef Koning Jesus het Sy lewe aan die kruis gegee sodat "nasies" gered kan word en sodat alles hier op aarde kan verander en kan nuut word.

Die wonder van dit alles is dat ek en jy God se boodskappers, verteenwoordigers, ambassadeurs, hiervan is!

Ons word uitgestuur, in Koning Jesus se Naam, op grond van die totale oorwinning wat Hy reeds aan die kruis oor Satan en sy magte behaal het, om met outoriteit in Sy Naam, te verklaar: Die vyand wat julle gevange hou, is 'n verslane vyand.

Ons is God se vennote, om op grond van wat Jesus gedoen en vir ons gegee het, met Sy gesag as ons Oppergesag agter ons, wat letterlik alles "back" wat ons in Sy Naam sê en doen.

Tot alles gedaan is wat Hy van voor die grondlegging van die wêreld reeds beplan het.

Published in Nuusbrief
Tagged under