Displaying items by tag: Openbaring

Kom ek sê sommer dadelik, reg aan die begin, dat ek oortuig is dat ons nooit die letterlike Israel en letterlike Jerusalem, en die Joodse twaalf stamme, kan vervang met die Kerk van Jesus nie of wat ook al anders nie!

Moet my dus nie beskuldig dat ek een van die verkondigers is van die sogenaamde “vervangings teologie” nie!

Tog is ek van oortuiging dat daar gedeeltes in die Bybel is, veral in die Nuwe Testament, waar ons terme soos “Israel”, die stad “Jerusalem”, en die verwysing na die twaalf stamme eerder profeties as letterlik moet verstaan om werklik sin te maak teen die agtergrond van die boodskap van die Nuwe Testament en die nuwe verbond.

Kom ek neem nou maar een gedeelte om te verduidelik wat ek bedoel.

Openbaring 21 en 22

Neem jou Bybel en blaai na Openbaring 21 en 22.

Lees dit rustig en hardop deur en probeer om in jou eie woorde oor te sê wat jy hoor die Lewende God self vir jou hier wil sê.

Onthou ook die konteks van hierdie boek. Die hele boek, Openbaring, is ʼn profesie vol profetiese terme en beelde wat spesifiek gekies is omdat die oorspronklike lesers dit sou verstaan met hulle spesifieke agtergrond.

Tog is die boek in geheel ʼn profetiese boek wat bedoel is om gelowiges, in al die eeue wat kom, ongeag wat hulle agtergrond en uitdagings mag wees, te bemoedig in die lig van God se groter plan en besig wees met die hele wêreld.

Daarom skryf ek in my kommentaar oor die Nuwe Testament, getiteld DIE STORIE AGTER DIE STORIE, die volgende oor hierdie gedeelte:

Soos ek laas gesê het, is die Bybel hierdie liefdesverhaal, ʼn Roman per excellance! Dit vertel vir ons die verhaal hoe God die Vader ʼn meesterplan aanmekaar sit om te sorg dat Sy Seun die Vrou van vroue kry, wat Hom met haar hele wese vir ewig sal terug liefhê.

Telkens in die geskiedenis van die mensdom sien ons hierdie goue draad deur alles loop. Sien ons skadubeelde en fyn voetspoortjies oppad na daardie dag… Na hulle troudag!

Reeds met die eerste twee hoofstukke in die Bybel, daar in die begin in Genesis, ontdek ons die begin van die goue draad. Ons sien waar God vir sy nuutgeskape eerste Adam ʼn vrou, iemand uit homself, skep sodat hulle twee “een” kan wees.

Daarom verbaas dit ons nie om hier op die laaste bladsye van hierdie boek, die Bybel, waarin God Homself en Sy hart openbaar, hier in Openbaring 21, uiteindelik, vooruit, die “foto” te kry van die gebeure op daardie finale dag, met die bruilof van Sy Seun en Sy Bruid, nie!

“Toe het ek ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ʼn bruid wat vir haar man versier is.

Toe het ek ʼn harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’

Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’

Verder sê Hy vir my: ‘Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.

‘Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.’

Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. ‘Kom,’ het hy gesê, ‘ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.’

Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ʼn groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God…” (Op. 21:1-11)

Is dit nie aangrypend nie dat die vrou wat uiteindelik die Bruid van die Seun van God gaan wees, geteken word as ʼn “stad”!

Onthou jy ook dat die “vrou” wat “nee” gesê het vir Sy liefde, ook as ʼn stad, as Babel, geteken word?!

Dit is eintlik logies dat dit juis so gesimboliseer moet word, want die Bruid (en die vrou wat nee gesê het) is immers miljoene der miljoene mense! Die Bruid is immers die Ekklesia, elke mens wat êrens in die geskiedenis gekies het om in geloof die evangelieboodskap vas te gryp oor ʼn God wat my en jou, ten spyte van…, so liefgehad het dat Hy Sy Seun gestuur het om Sy lewe te gee.

Sodat ek en jy vry gemaak kon word van alles wat ons verhoed het om Hom lief te hê soos wat ʼn vrou bedoel is om haar Man lief te hê!

Maar soos wat ek en jy deur God se Gees oor en nuutgemaak moes word om gereed te wees vir daardie dag… vir wanneer ons finaal gaan trou… so moet hierdie aarde en hemel oor en nuutgemaak word om die finale dekor en woonplek te kan wees waar ons, as die bruid, en die Bruidegom, vir ewig kan saamwoon.

Daarom hoor ons hoe Paulus daar in Romeine 8, van vers 18 af, vertel hoe die hele skepping al sugtend uitsien na daardie dag… Wat hulle ook finaal verlos sal word van al die gevolge van die sonde van die mens, wat gemaak het dat alles dag vir dag net verder verval en doodgaan.

Ons hoor, ten slotte, hoe Paulus vertel hoe gelowiges sugtend uitsien na daardie dag, terwyl die transformasieproses nog besig is om in ons eie lewe en rondom ons plaas te vind, ter voorbereiding vir daardie dag.

Ja, sê hy, hoor ook hoe die Gees van God met groot versugting saam met ons bid tot op daardie dag wat die Vader die laaste pennestrepe van Sy merkwaardige ewige plan sal trek.

Published in Nuusbrief
Tagged under