Displaying items by tag: Pappa

 

Almal van ons het moeilikheid en probleme! Almal van ons het uitdagings waarvoor ons nie antwoorde het nie en ons wonder of ons dit gaan kan deurtrek!

Daarom wil ek jou ʼn baie persoonlike vraag vandag vra: Wat doen jy wanneer die druk hoog raak en jy alles in jou vermoë doen om jou nie te begin bekommer nie?

My uitweg is om te gaan sit by die voete van Jesus, met Sy Woord in my hande, en soveel verse en Bybelgedeeltes hardop vir myself, vir my gees, siel en liggaam te lees oor die fet dat ek werklik ʼn Pappa in die Hemel het!

Die Evangelie van Matteus het een van die wonderlikste hoofstukke in wat ek en jy kan gebruik om elke vrees en bekommernis in die verband aan te spreek en wat vir ons presies vertel waarop ons moet fokus gedurende so ʼn tyd. Kom ek haal so ʼn paar verse daaruit vir jou aan.

Ja, ek weet jy ken dit, maar kom, lees elkeen van hierdie verse hardop saam met my, een of twee keer, en dan vertel jy vir jou gees, siel en liggaam presies wat die lewende God self vir jou in hierdie verse sê en belowe.

Matteus 6:25,26

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

Die eerste tree uit bekommernis, angstigheid en vrees oor môre en oormôre is om te weet, regtig te weet en te glo dat God werklik jou Hemelse Pappa is. Om as’t ware Sy arms om jou te voel en te weet dat Hy jou liefhet. Het Hy dan nie jou so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun, Jesus, gegee het om vir jou te sterf nie. Dit het Hy juis gedoen sodat geen mens op aarde ooit weer hoef te dink dat jy bloot ʼn weeskind is en dat daar niemand is wat werklik vir jou omgee en jou lief het nie. Nee, elkeen wat in Jesus glo en Hom aanneem as Verlosser, kan weet dat jy ʼn seun of dogter van die enigste ware God is!

Hy het verder Sy Gees gestuur om in die lyf van elkeen van Sy kinders te kom woon om dag vir dag jou te herinner hieraan en om self met jou te praat en jou te lei deur Sy stem. (Johannes 10:3-5; Rom. 8:9-16)

Fil. 4:6-9

Daarom hoef ons ons nie meer oor enigiets te bekommer nie, sê Fil. 4:6-9.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.”

Sien jy, dit is die dinge waarop jy weer moet leer om op te fokus!

Kom ek som op: Weet jy wat doen ek as ek op ʼn dag agterkom ek is af en negatief en bekommerd oor iets?

Ek stap uit en begin hier onder my olyfbome in die tuin rondstap. In ernstige situasies gee ek dan myself 5 minute om my te bekommer en te kla en te bid en na God uit te roep oor wat ook al aan die wortel lê van my angs of vrese of bekommernis daardie dag.

En dan kyk ek op hemelwaarts en begin my Hemelse Pappa loof en eer en dankie sê vir ten minste 3 groot dinge wat Hy in die afgelope 48 uur in my en my gesin se lewe gedoen het.

En dan begin ek vir hom dankie sê vir Sy liefde en al Sy beloftes aan my en my geliefdes.

Ja, ek herhaal van daardie beloftes, een na die ander, hardop, aan my gees, my siel en my liggaam. En ek hou aan daarmee totdat ek myself uit enige negatiwiteit of bekommernis gepraat het in geloof!

Vir dié van julle wat wil vra hoe dikwels gebeur dit in my lewe, wil ek verseker: Nee, dit gebeur nie baie nie, maar dit gebeur wel!

As dit gebeur, dan is dit wat hier bo staan, my Modus Operandi!

Published in Nuusbrief
Tagged under