Jy sal verstom staan oor die verandering in mense se lewens…

Oor die wêreld, maar ook daar rondom jou, gebeur reeds dinge in mense se lewens wat almal rondom hulle verstom laat staan!

ʼn Paar maande gelede het ek vir Sibu en Hani leer ken, deesdae leiers in City Mission, hier op die Kaapse Vlaktes, tussen die bendeleiers waarvan hulle ook ʼn paar jaar gelede, deel was.

Sibu was die tweede-mees gesoekte bank- en transito-rower in die land, en Hani, ʼn oud-bendeleier en smokkelaar.

Vandag is Sibu, volgeling van Jesus en ambassadeur van die Koninkryk wat elke dag oral op die Vlakte kuier tussen sy oud-vriende wat nog steeds bendeleiers en kriminele is. Daar tussen hulle sit en gesels hy met hulle, met ʼn sensitiwiteit vir die stem van die Heilige Gees.

Dieselfde pad het hy met Hani geloop, nadat dié deur ʼn groep uit die gemeenskap, wat “mob justice” genoem word, met kapmesse en stomp voorwerpe geslaan en gekap is, en verflenter en onherkenbaar vir dood agtergelaat is.

Die verandering in Hani se lewe het begin momentum kry die dag toe hy gewillig was om saam met ʼn klompie van sy vriende, saam met Sibu eenkeer per week bymekaar te kom en “te gesels oor die lewe”.

Daar rondom die Bybel, het God se Gees begin om die DNA van die Koninkryk in Hani in te bou. Tot Jesus self, een nag, Hani kom konfronteer het waarheid: Ja, dat die wins wat hy die vorige naweek gemaak het met die dwelms wat hy verkoop het, bloedgeld was, want die bloed van sovele families en lewens wat hy reeds deur daardie dwelms verwoes het, was op sy hande.

Hy moes kies!

En toe kies hy die Bybel en dit wat daarin staan. Want hy het gekies om Jesus as Verlosser en Koning van sy lewe in geloof te aanvaar en van daardie oomblik af onvoorwaardelik te gehoorsaam.

Vriende, glo jy werklik wat God vir ons in die Woord sê?

Glo jy, byvoorbeeld, dit wat daar in Heb. 4:12 staan, naamlik (en ek haal weer uit die MESSAGE aan):

“For the word of God [is] quick, and powerful, and sharper than any two-edged sword, piercing even to the dividing asunder of soul and spirit, and of the joints and marrow, and [is] a discerner of the thoughts and intents of the heart.”

As jy dit werklik glo, waarom lees jy nie elke dag self die Bybel nie?

En waarom maak jy nie genoeg tyd om saam met jou kinders of kleinkinders, of familie, vriende, mense by die werk of by die skool, te waag om rondom die Bybel te gaan sit en te gaan lees wat daarin staan nie? Waarom waag jy nie om saam met ander, te probeer om God se stem te hoor daar waar julle die Bybel saam lees nie?

En as jy nie weet hoe nie, gaan laai my App/Toep af wat ek spesiaal vir hierdie doel geskep het!

En gaan blaai op my webblad, JOURNEY OF DISCOVERY, rond, en sien met watter vrae kan jy mense “help” om God se stem vir hulleself te hoor.