Jesus het aanmekaar “besigheid” gepraat!

Alhoewel Jesus ook ʼn paar keer met groot skares gepraat het (gewoonlik teen ʼn berg), waar Sy stem lekker kon dra, het Hy die meeste van Sy tyd tussen gewone mense, in huise en rondom die eettafel gebruik om “die goeie nuus” aan hulle oor te vertel.

Daar in Matt: 11:19 praat Hy juis hieroor as Hy sê:

“Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’”

Ek wil erkenning gee aan Ed Silvoso wat vir my, in sy boeke, “Anointed for Business”, en sy nuutste, “Ekklesia”, gehelp het om raak te sien hoe baie Jesus “besigheid gepraat het” in sovele van Sy gelykenisse en leringe.

Kom ek noem ʼn klompie van Sy verwysings en beelde wat kom uit…

• Die konstruksie-bedryf (Matt. 7:24-27)
• Die wynbedryf (Luk. 5:37-38)
• Boerdery (Mark. 4:2-20)
• Skaapboerdery (Matt. 18:12-14)
• Bestuur en arbeidsaangeleenthede (Matt. 20:1-16)
• Familie-boerderye (Matt. 21:28-31; Luk. 15:11-32)
• Onregverdige oorname (Luk. 20:9-19)
• Wins op belegging (Matt. 25:14-30
• Oes-opbrengs (Mark. 13:27-32
• Bestuur-kriteria (Luk. 12:35-48)
• Navorsing/ondersoeke (Luk. 14:25-35)
• Bankrotskap (Luk. 15:11-16)
• Waagkapitaal (Luk. 19:11-27)

Het jy ook opgemerk hoeveel van Jesus se wonderwerke het mense juis daar in hulle gewoon daaglikse “markplek-behoeftes” geraak?

Soos toe Hy die water in wyn verander het by die tipiese Joodse huwelik wat dae lank geduur het – waar mense se respek en reputasie in die gemeenskap en in die markplek op die spel was – Joh. 2:1-10.

Of die keer toe Hy ʼn seuntjie se kospakkie vir die dag, bonatuurlik vermeerder het en duisende mense kos gegee het. (Matt. 14:13-21)

Dan praat ons nie eers van die strategiese inligting wat Hy gegee het wat tot twee uitsonderlike visvangs gelei het daar in Joh. 21:6 en ook in Luk. 5:1-14 nie.

En dan was daar die keer toe Petrus nie genoeg geld gehad het om sy belasting te betaal nie, toe Jesus daar in Matt. 17:27 vir Petrus gestuur het om gou te gaan visvang en die presies bedrag wat nodig was, uit die eerste vis wat hy uittrek se bek uit te haal!

Dit was nou uitsonderlike, bonatuurlik wyse besigheidsadvies!

Ek wil afsluit met ʼn stukkie, dalk skokkende statistiek vir sommige mense:

Sestien van die 38 gelykenisse wat Jesus vertel het, het oor geld gegaan; en meer as een uit elke tien sinne uit vertellinge oor Jesus se leringe in die Evangelies, het Hy oor geld gepraat!

Ek kan in my verbeelding sien hoe ʼn paar van hierdie besigheidsmanne en -vroue wat heeltyd kla oor hoeveel keer daar oor geld gepraat word “in die kerk” sommer lekker verstik aan hierdie slukkie nuwe wyn!

Daarom wil ek jou uitdaag om rustig aan Jesus se voete te gaan sit en toe te laat dat Hy jou manier van dink hieroor, ʼn bietjie kan “detoks” met Sy waarheid hieroor.