(Leestyd: 1½ tot 2 minute! Ja, regtig, niks langer nie!)

Vir almal van ons, as jong bekeerlinge, was die wonder en die genade dat Jesus ons gered het, dat Hy vir ons, stukkend en sondig soos ons was, gesterf het en ons aanvaar het toe ons in geloof na Hom toe gekom het, net wonderlik!

Daarom was dit so maklik om elke dag net vir Hom te lewe en Hom te probeer gelukkig maak.

Hoe langer ons Hom probeer gelukkig maak het, het ons self, in die lig van alles wat ons self in die Bybel gelees het en wat ons by ander, veral daar waar ons “in die kerk was”, gehoor en geleer het, begin om lysies te maak van dinge wat God gelukkig sal maak as ons dit doen en so leef.

Die moeilikheid was egter, hoe hard ons ook al probeer het om alles op daardie lysie te doen, hoe minder het ons gevoel dat ons werklik God gelukkig gemaak het of dat ons werklik geslaag en goed genoeg was!

Daarom het die meeste van ons gedink: Miskien probeer ek nie hard genoeg nie!

Dan kom ons weer en weer tot bekering en kom ons weer en weer om ons lewe opnuut aan God oor te gee en toe te wy.

Tog, as ons eerlik sou wees, moes ons erken dat ons heeltyd bly voel het dat ons misluk. Ons was net nie goed genoeg en gehoorsaam genoeg nie!

Dan belowe ons weer vir die Here dat ons volgende keer dit reg sal doen en meer gehoorsaam sal wees…

En ons bedoel dit werklik. Tog, misluk ons maar net weer ʼn keer.

Ons hele Christelike lewe was hierdie konstante val en opstaan, bekering en dan weer daardie gevoel van ek is net nie goed genoeg nie. Ek het weer misluk. Oor en oor en oor!

Ken jy hierdie gevoel? Het jy dit ook al beleef en ervaar in jou lewe as volgeling van Jesus? Ken jy dit?

Ek wil waag om te sê dat alle volgelinge van Jesus, die een of ander tyd, dit ervaar en hierdeur gaan.

Almal van ons probeer om op te hou sondig, maar dit werk net nie! Want die een of ander tyd, midde hierdie worsteling, ontdek ons daardie iets in ons self, wat ons verhoed om die soort lewe te leef wat jy werklik wil leef.

As jy dit herken, moet jy weet, is jy in baie goeie geselskap! Want jy is presies waar Paulus was en wat Paulus beskryf het daar in Romeine 7.

Volgende keer gesels ek verder hieroor.