Print this page

Kan jy ‘n dooie laat lewendig word?!

Voor sy bekering is die mens “dood”

Wie gaan jy saam neem as God jou na ʼn begraafplaas stuur om ten minste een van daardie dooies te laat opstaan uit die dood?

Gaan jy iemand saam neem wat die Evangelie goed en mooi vir ander mense kan oorvertel?

Of gaan jy iemand saam neem wat ʼn goeie spreker of prediker is?

En wat gaan jy daar sê? Wat gaan jou boodskap daar wees?

Besef jy nou wat gebeur as iemand werklik tot bekering en tot wedergeboorte kom?

En waarom God deur die Gees in die Bybel vir ons sê dat dit net God se Gees is wat so iemand kan lewendig maak, as’t ware weer gebore laat word, maar hierdie keer as ʼn nuwe mens, lewend gemaak deur God se Gees.

Ef. 2

Dit is wat Efesiërs 2 sê.

“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.

Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Eseg. 37 gebeur voor ons oë

God het deur Sy Gees dit wat daar in Eseg. 37 beskryf word, laat gebeur.

Voor ons oë het dooies, lyke, weer begin lewe.

God het lewe aan ʼn dooie geskenk. Sy Gees het in daardie dooie nuwe lewe gebring. Sy Gees het self in daardie liggaam ingeklim, lewe daar ingeblaas en ʼn gees wat dood was, lewendig gemaak. Hy het ʼn verstand wat dood was, wat nie verstaan het nie, wat nie meer sensitief was en letterlik doof was vir die Skepper van die mens se stem en hart en bedoeling, weer sag en gevoelig gemaak, in staat om nou te hoor.

ʼn Dooie het opgestaan. ʼn Blinde het weer begin sien. ʼn Dowe het weer begin hoor.

Hy het die beeld van God, die kreatiwiteit van ʼn Skepper-god, herstel in daardie mens.

Hy het ‘n mens wat ‘n gevangene was van die god van hierdie wêreld, wat ‘n slaaf en gebreinspoel was, vry gemaak, verlos, genees.

Dit is hoe die Bybel praat oor elke mens wat werklik Bybels tot bekering gekom het.

As ons dit nie begryp nie, sal ons nooit Rom. 7 en 8 verstaan nie.