Frustrasie met “kerk-wees” in die kerkstrukture

Frustrasie Frustrasie

Daar is tans ’n groeiende frustrasie met “kerk” soos ons dit ken.

• In Amsterdam wys ’n studie 100% mense is geïnteresseerd in Jesus maar 99% ongeïnteresseerd in “kerk”.

• Wêreldwyd toon studies aan dat 50% leiers gefrustreerd is met die kerklike praktyke in die gestruktureerde kerke.

'n Derde Reformasie

In Luk. 5:37-39 leer Jesus ons: Nuwe wyn hoort in nuwe wynsakke. Daarom sê iemand: ʼn Derde Reformasie is nodig. In Luther en Calvyn se tyd het ons ’n Reformasie van die teologie gehad, of dit wat ons as gelowige volgelinge van Jesus glo. In Wesley e.a. se tyd, was dit ’n Reformasie rondom ons intieme verhouding met God, wat dan ook in latere jare, ons verhouding met God die Heiliege Gees ingesluit het.

Nou, egter, is ’n Reformasie van strukture nodig, want die ou “kerkstrukture” of ou wynsakke kan nie die groei en vrye werking van Gees in die Ekklesia akkommodeer nie en trek alles skeef!

Dit gaan ook nie help om net na ’n ander denominasie of vernuwings gemeente te gaan nie. Almal het immers presies dieselfde probleem en watter een van die sowat 30 000 hier in Suid-Afrika alleen, is nou eintlik reg?

Die bekende skrywer, Tom Peters, maak daarom die baie radikale stelling: Vernuwing gaan nie die ding doen nie! Ons het eintlik dinamiet nodig en dan sal God se Gees ons weer van vooraf moet wys en leer hoe lyk die wynsak wat kan akkommodeer wat Hy nou wil doen.

Ek glo dat deel hiervan dit is wat ons tans wêreldwyd beleef naamlik dat God se Gees vir God se mense ’n nuwe prentjie van die kerk/ekklesia begin wys.

Daar in Handelinge was "die ekklesia"...

In hierdie proses neem Hy ons terug daar na die oorsprong en die begin van die kerk/ekklesia soos wat ons dit in die gemeentes in Handelinge leer ken het. Daar ontdek ons onder andere die volgende:

Ekklesia-wees is beslis nie ʼn klomp georganiseerde byeenkomste op spesiale plekke nie!

Ekklesia-wees is eerder bonatuurlike geloof- en familie-lewe waar ons elkeen ‘n intieme liefdesverhouding het met Jesus Christus en Hy ons elkeen gebruik deur Sy Gees om mekaar en ander te bedien met Sy krag en genade.

Die woord "ekklesia" word in die Nuwe Testament so gebruik

Die woord “ekklesia” word verder in ten minste vyf verskillende kontekse of betekenisse in die Nuwe Testament gebruik:

Ekklesia is twee of drie gelowiges saam in die Naam van Jesus. (Mat. 18:20)

Ekklesia is gelowiges saam in ‘n huis of gebou van die een of ander aard. (Rom. 16:5)

Ekklesia is gelowiges in ‘n dorp of stad. (Rom. 16:1; 1 Kor. 1:2)

Ekklesia is gelowiges in ‘n bepaalde groter area, soos ʼn provinsie of land. (Op. 1:4)

Ekklesia is gelowiges in die Liggaam van Jesus oor die wêreld. (Heb. 12:22,23)

Volgende keer gesels ons verder.