Print this page

’n Nuwe Bybelse ervaring van kerk/ekklesia-wees

'n Nuwe ervaring 'n Nuwe ervaring

Ek glo deel van wat God tans wêreldwyd vir Sy kinders sê is om Hom toe te laat om ons te help om die Nuwe Testamentiese DNA van die ekklesia weer te herontdek.

Soveel mense vandag het probleme met wat ons “kerk” noem.

God is besig om ons te leer dat daar niks fout is met die “kerk” of “ekklesia (soos ek eerder daarvan wil praat), soos Hy dit oorspronklik bedoel het nie. Ons het probleme met wat die meeste mense “kerk” noem en hoe ons vandag “kerk hou” in die verskillende “kerk”-strukture.

Dit is tyd dat ons God toelaat om ons prentjie van die “kerk” te verander sodat ons kan terugkeer na Sy oorspronklike prentjie daarvan soos ons in die Handelinge-gemeentes in die Bybel dit gevind het.

Gesels jy met volgelinge van Jesus oral rondom jou, hoor jy hoe elkeen op verskillende wyses in verskillende woorde vir jou probeer vertel dat hulle na “meer” as wat hulle tans in wat ons “kerk” noem, soek! Hulle weet almal hier diep binne God het iets anders en iets “meer” in gedagte as dit wat ons rondom ons tans belewe.

Voordat ons mense kan uitstuur na oral waar die Here hulle ’n platform gegee het, moet hulle eers self werklik Bybelse ekklesia-wees beleef en ervaar om ook daar te gaan “ekklesia” wees. Anders maak hulle maar net weer dieselfde foute as in die verlede.

As ’n antwoord op soveel gebede deur die eeue vir nog “… arbeiders in die oes” (Mat. 9:36), is gelowiges oral besig om hulle self aan te meld om op die een of ander wyse betrokke te raak by die insameling van die groot oes van môre.

Hierdie “nuwe geslag gelowiges” is nie meer tevrede met ’n skadelose soort Christendom of blote “lidmaatskap” van die een of ander “kerk” of “sending”-organisasie nie.

Nee, deur die werking van God se Gees in hulle, het hulle die begeerte om net so radikaal en effektief te wees soos die eerste groep volgelinge van Jesus daardie eerste 300 jaar in die vroeg-Christelike gemeentes (van 32 tot 330 n.C.).

In Lukas 10 lees ons hoe Jesus Sy dissipels en “72 ander” opdrag gee om vir die eerste keer uit te gaan op ’n spesiale sending, naamlik: om “vrede” te gaan bedien aan mense in hulle huise. As hulle dan in respons op hierdie boodskap, mense vind wat reageer op hierdie “vredesboodskap”, moet hulle daar, in die huis van daardie mens of mense, tussen die mense rondom hulle, verder gaan “ekklesia” wees.

Hierdie profetiese aksie van Jesus om “arbeiders uit te stuur in die oes” bevat soveel eenvoudige maar kragtige beginsels en dinamiek.

Vir jare is hierdie beginsels geïgnoreer en vervang met allerlei menslike “kerk”-bou-formules en evangelisasie-strategieë, wat duidelik nie werklik baie vrugte afgewerp het nie.

Dink net daaroor: in sowat 300 jaar se tyd het die vroeg-Christelike gemeentes, met die beperkte middele tot hulle beskikking, die hele bekende wêreld van destyds met die evangelie deursuur! Ja, tot op die hoogste vlak in die destydse “wêreldryk”, die Romeinse Ryk. Soveel so, dat selfs die destydse keiser van die Romeinse Ryk, Konstantyn die Grootte, tot bekering gekom het en Jesus aangeneem het as Verlosser!

Vandag, in die jaar 2021, vertel sendingorganisasies ons dat God se ware Ekklesia, met al die wonderlike middele tot ons beskikking, slegs sowat 10% van die wêreld se bevolking effektief met die evangelie bedien het, sodat hulle as werklik gelowige Bybelse volgelinge van Jesus geklassifiseer kan word (d.w.s. sowat 700 miljoen van die sowat 7 miljard mense op aarde).

Dit, terwyl daar oral op aarde soveel “huise” is (in Lukas 10 se taal) wat maar net “ontdek moet word” waar God se vrede tog so verwelkom sou wees! Dink net wat kan gebeur as daardie “huise” gevul word met God se teenwoordigheid en deel word van ’n wêreldwye netwerk van sulke “huise”.

Die oogmerk van hierdie gesprek oor ʼn “nuwe wynsak” is om as’t ware ’n apostolies-profetiese virus te versprei, naamlik daardie DNA wat God daar in die begin self in die harte van Sy volgelinge in die eerste gemeentes vasgelê het. Probeer ʼn mens hierdie “virus” verwoord, kan jy dit beskryf as Sy begeerte dat niemand verlore sal gaan nie, maar dat hulle Hom sal ontdek as hulle liefdevolle Vader wat van dag tot dag hulle wil lei deur Sy eie stem.

Volgende keer gesels ons verder oor die nuwe wynsak.

Related items