Nog ʼn keer oor “vestings”

vestings vestings

 

Ek wil nog ʼn keer gesels oor hierdie “vestings” waarvan ons lees in 2 Kor. 10:3-5.

Maar hierdie keer wil ek gesels oor die “vestings” van die vyand in wat ons glo as kinders van God en in die “kerk” of ekklesia van Jesus.

Ja, die vyand kan letterlik vestings in wat ons glo oor jare bou, as ons nie gereeld met net die Woord van God op ons skoot, en met ʼn geestelike openheid en sensitiwiteit vir die stem van God se Gees, dit wat ons glo, bedink en van nuutsaf deeglik ondersoek nie.

Ja, dit is ook wat ek deur hierdie bediening van “nuwe wyn” en ondersoek van “die wynsakke” in hierdie Woordbediening week na week saam met jou wil doen.

Ek wil jou help om in die lig van die Woord weer opnuut te ontdek wat werklik die waarheid is en wat niks anders is as ʼn “vesting van ʼn klomp leuens” wat die vyand oor jare in dit wat ons glo, gebou het.

Dink byvoorbeeld, oor wat in die sogenaamde “Christ in me, international”-bediening en groepe geleer word oor wie Jesus sou wees. (Ek het ʼn hele paar weke hieroor geskryf, sal baie van julle onthou.) Ja, hoe hulle, met vers en kapitel, vir mense probeer oortuig dat Jesus die Christus, nie werklik God was wat mens geword het nie, maar net ʼn mens was, wat God gekies het en bonatuurlik toegerus het (gesalf het), om bonatuurlike dinge te doen en te sê. Ja, om dieselfde redes glo hulle ook nie dat die Heilige Gees werklik God is nie. Nee, hulle glo dat die Gees net die Krag van God is wat opereer.

Maar kom ek kom ʼn bietjie nader aan ons.

Die meeste van ons het groot geword in die NG Kerk of een van die ander 4 gereformeerde kerke.

In hierdie 5 gereformeerde kerke word daar vir mekaar die volgende gesê: Daar waar ons sien hoe ʼn baba of suigeling besprinkel word met water, (wat die “verbondsdoop” in hierdie kerke genoem word), sien ons voor ons oê hoe dit wat die Bybel “wedergeboorte” noem, gebeur!

Ons sien letterlik voor ons oê hoe daardie baba wat besprenkel word, net daar deel word van die ware Bybelse ekklesia, en dus voor ons oê “gered word”!

Daarom word daar geglo in die teologie van hierdie kerke, dat hierdie “gedooptes”, nie weer met ʼn EE3, of ander bekeringsboodskap bedien hoef te word en tot bekering hoef te kom nie. Nee, ons hoe hulle maar net die waarhede van die Woord meer volledig te leer (deur 12 jaar van kategese), sodat hulle in hulle “belydenisjaar”, rondom 16 jaar oud, belydenis van geloof kan aflê omdat hulle nou werklik verstaan wat die Bybel werklik oor hulle sê.

(En moet asb., nie vir my sê dit is nie wat in die NG Kerk en die ander 4 gereformeerde kerke geglo word nie! Ek sal mos weet, want ek was self ʼn NG-dominee vir 14 jaar!)

Gaan lees maar net weer ʼn keer die Formulier wat tydens die besprenkeling van babas gelees word, en dan sal jy presies verstaan wat hierbo staan! En dan sal jy verstaan waarom, by die sogenaamde “Belydenis van geloof”, daardie jongmense, as deel van die sermonie, hulle hande deur die water van die doopbad “vee” as hulle voor gaan staan om “belydenis van geloof” af te lê.

Miskien glo jy nog steeds dit wat in die gereformeerde kerke hieroor geleer word, en glo jy glad nie dat dit in werklikheid ʼn “vesting van die vyand” is nie.

Daarom gaan ek vir jou volgende keer presies wys hoe die vyand gereformeerde gelowiges van die 21ste eeu nog steeds met hierdie leuens belieg en bedrieg.