God het ʼn kolonie “van nuutgeborenes uit die hemel” hier op aarde kom vestig

Ekklesia in die Grieks Ekklesia in die Grieks

God het ʼn kolonie “van nuutgeborenes uit die hemel” hier op aarde kom vestig

Paulus van Tarsus, het iets verstaan van waarom Jesus Sy mense hier op aarde “ekklesia” genoem het.

Ja, soos in die Grieks en in die tipies Romeinse milieu van destyds, het Paulus as God se eerste-eeuse ambassadeur van die Koninkryk van die Hemel, sy nuwe Koning Jesus se bedoeling met elke lid van die ekklesia hier op aarde so beskryf in Efesiërs 3:9-11 (en ek vertaal dit in my eie woorde):

“Om aan elkeen wat jou pad kruis te verduidelik hoe God, wat die Skepper van alles rondom ons is, vir duisende jare eers net stilgebly het oor wat werklik ʼn misterie is. Maar nou het die tyd aangebreek wat Hy Sy oorspronklike plan en bedoeling wat Hy in Christus Jesus hier op aarde kom doen het, wat Hy in Sy verstommende wysheid uitgedink en beplan het van voor die skepping af, deur die ekklesia bekend gaan maak almal op aarde, maar ook aan elke heerser en outoriteit in hemel en op aarde.

God se plan was om ʼn kolonie van Sy mense oral hier op aarde te vestig wat Sy hart en Sy plan bekend kan maak aan elke mens, maar ook aan die onsigbare demoniese magte wat heers hier op aarde en in die onsigbare dimensie.

Sy bedoeling hiermee is om aan die onsigbare magte van die duisternis te wys hoe mense-wesens wat geskape is na Sy beeld hier op aarde, iets van die realiteit van die Hemel hier op aarde kan laat gebeur, sodat ons oral op aarde plekke en situasies gaan kry waar splinters van die hemel sigbaar word en sodat ons oral “klein kolonies van die hemel” hier op aarde sal kry."

Kom ek probeer vir jou ʼn eenvoudige prentjie van die ekklesia teken:

Wanneer jy in Nederland ʼn huis gekoop het en jou krag en water wil laat aansit, gaan jy na die “gemeente” of munisipaliteit van die dorp om dit te doen.

Ja, dit word regtig “gemeente” in Nederlands genoem!

Soos enige munisipaliteit, is die “gemeente” die mense wat “geroep en aangestel is” om in belang van die plaaslike gemeenskap op te tree en te handel.

Dit is presies wat die begrip “ekklesia” beteken het in die Romeinse gemeenskap van destyds.

Dit was primer ʼn wetlike term en het dus mense aangedui wat gereageer het op die oproep van die Koning van die Hemel om in Sy Naam, en met Sy hart en bedoeling as hulle riglyne, op te tree en “te regeer” (soos Romeine 5:17 byvoorbeeld sê).

En hierdie “regeer” raak elke deel van hulle eie lewens elke dag, maar ook die lewens van elke ander persoon met wie hulle paaie kruis elke dag. In alles wat hulle doen, sê en dink, moet hulle Verlosser en Koning, Jesus, se karakter en hart weerspieël word.

Dit is verder belangrik om te verstaan dat die “ekklesia” familie van Jesus is. Daarom moet alles wat waar is van mense wat werklik “familie” van mekaar en “familie” van Jesus is, in alles waarmee hulle besig is en waar hulle is, met ander woorde, hulle liefde vir mekaar en vir ander, soos Jesus sʼn, die kenmerk wees waaraan hulle uitgeken kan word.

Maar ek wil terugkom na die feit dat die “ekklesia” bo alles bedoel is om in Jesus se Naam en in die naam van die Koninkryk van die hemel, hier op aarde en daar waar hulle is en in alles waarmee hulle besig is, te regeer en te bestuur.

Die oomblik wat die ekklesia nie meer regeer en bestuur in die Naam van die Koninkryk van die hemel nie, het hulle ge-abdikeer van waarom hulle in werklikheid daar is.

Om dus ʼn “dissipel” van Jesus te wees, as lid van die ekklesia, daar waar jy woon, werk, leef en ontspan, gaan dus alles oor dissipline, regering en bestuur waarin die wette van die Koninkryk van die hemel jou riglyn en toets is.

Romeine 5:17 sê mos: “Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang het, ja, Sy gawe van Sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer.”

Die bedoeling waarom ek en jy deur die genade van Jesus Christus aangeraak en “nuut gebore is”, is om dit wat God se oorspronklike bedoeling met die mens was, terug te ontvang en weer te begin heers en bestuur hier op aarde.

Ja, ek weet mense se persepsie van die “kerk” is dat dit ʼn soort hospitaal moet wees, waar daar gesing en gepreek word! Maar dit is waarom dit wat ons as “kerk” sien, so totaal verwyder is van wat God se bedoeling met die ekklesia is!

Ons is bedoel om as konings, ambassadeurs en bestuurders in diens van die Koninkryk van die hemel hier op aarde op te tree.

Terwyl “die kerk” met “geestelike dinge” besig is, is ons bestaansrede en bedoeling “as ekklesia” om elke duimbreedte en elke dimensie van lewe hier op aarde te infiltreer in diens van die Koninkryk van die hemel wat hier op aarde wil deurbreek en gesien en ervaar word.