Print this page

Ekklesia is die familie van Jesus hier op aarde

families families

Ja, die Ekklesia word oral in die Nuwe Testament God se familie genoem, God se “nuwe familie van seuns en dogters”.

As jy dus ʼn beskrywing soek van wie ons as die nuwe mens-spesie van God hier op aarde moet wees en wat ons onsself moet noem, dan kan ons nie ʼn beter naam of term gebruik as “familie van God, en van Jesus” nie.

Dit beskryf dan ook presies waaraan mense ons as lede van hierdie Ekklesia sal herken. Naamlik dat ons werklik “familie van mekaar” is, al is dit net die bloed van Jesus wat ons “familie” van mekaar maak. Ja, dan sal mense ons herken as deel van die Ekklesia, aan die manier hoe ons mekaar liefhet soos wat Jesus ons liefgehad het. (Joh. 13:34,35)

Alles in die Ekklesia gaan dus oor verhoudings.

Waar hierdie nuwe soort liefdesverhoudinge plaasvind, is dit die bewys dat ons hier te make het met nuwe, weer-gebore mense, met die Lewe, Gees en Jesus self in hulle en tussen hulle.

Weet jy wat het ek ontdek? Ek het ontdek dat ek eers werklik vry was om ander lief te hê soos ek myself liefhet, toe ek besef het wie ek werklik as “nuwe weer-gebore” mens en kind van die lewende God was!

Kom ek probeer dit ʼn bietjie “nuut”, as “nuwe wyn”, hier aan jou bedien.

Om ‘n merk in hierdie wêreld te maak, hoef ek nie altyd die beste te wees nie. Ek maak my merk in hierdie lewe deur net kind van God te wees. My lewe is ‘n sukses omdat ek God se kind is.

Die oomblik wanneer ek hierdie Bybelse woord vasgegryp het as “my waarheid”, en as my “Happy and safe place”, maak dit ‘n mens werklik vry om te lewe!

Om werklik te glo die God van hemel en aarde is in Jesus Christus my Vader, my Pappa in die Hemel, is dit die begin van ʼn nuwe manier van lewe. Is dit die begin van hierdie nuwe lewe as een van die Ekklesia, een van God se nuwe mens-spesie hier op aarde!

Dink saam met my aan ‘n dogtertjie wat bo-op ‘n muur staan. Haar pa nooi haar uit om tot in sy arms te spring. Maar om te spring, moet sy glo haar pa gaan sy woord hou en haar vang as sy spring.

Geloof is om te spring omdat ek weet en gekies het om te glo my Pappa in die hemel gaan doen wat Hy gesê het!

Ons weet dat ons God se kinders is, wat Hy “aangeneem het” omdat ons Jesus aangeneem het in geloof as ons Verlosser en Here, sê en belowe Johannes 1:12.

Omdat ek glo en weet dat dit wat God sê en belowe, vas staan, kies ek om in geloof die tree te gee wat ek in die gewone lewe moet gee.

Voordat ons nie gekies het en daardie tree in die geloof geneem het nie, glo ons nog nie...

Sodra ons daardie tree gegee het, het ons al die geloof wat daar is en wat nodig is. Al wat verder kan gebeur, is dat ons geloof sterker kan word deurdat ons leer om in meer en meer situasies God op sy Woord te neem en op grond daarvan die geloofstreë te begin gee, sodat God sy beloftes aan ons kan nakom.

Toe jy God op Sy woord geneem het en in Jesus geglo het, het Hy jou Sy aangenome kind gemaak en daarmee vir jou ‘n nuwe lewe gegee.

Hierdie nuwe lewe is soos ‘n nuwe woonplek wat Hy vir jou gegee het. Voor die tyd was jy, as nasaat van Adam, een van die duisende “bergies” op die straat. Wat geleef het uit alles wat julle op die asgate van die wêreld opgetel het.

In werklikheid was dit niks anders nie as ‘n stryd om oorlewing waar net die sterkstes bo-uit gekom het. Ons moes presteer om te bly lewe.

Maar nou, as God se aangenome kinders, het Hy ons van die asgate na Sy paleis toe geneem. Daarom leef ons nou as mense met ‘n hemelse Pa wat ook die Koning van alle konings is, wat vir ons sorg.

Omdat ons kinders van die Koning van alle konings is, hoef ons nie meer te veg om oorlewing nie. Vir die eerste keer kan ons konsentreer op dit waarvoor ons in werklikheid oorspronklik geskep en bedoel was om te doen hier op aarde, eerder as om heeltyd te probeer bewys dat ons iets beteken deur wat ons doen.

Om hierdie nuwe lewe te lewe, noem Jesus “om die Koninkryk van God binne te gaan”.

Die Koninkryk van God is ‘n term wat die Bybel gebruik om te beskryf waar God as Koning en Here regeer.

Ons het nou Sy aangenome kinders geword. En as kinders van die Koning, is ons nou vir die eerste keer vry om te wees wat ons oorspronklik bedoel is om te wees, naamlik om in die hier en nou, ambassadeur, bestuurder, administrateur van God se Koninkryk hier op aarde te wees.

Volgende keer gesels ek verder oor wat dit dan beteken om God se bestuurder hier op aarde te wees.