Print this page

Julle moet leer om mekaar lief te hê

Wêreldwye Ekklesia Wêreldwye Ekklesia

Jesus het self vir ons gesê wat tussen gelowige volgelinge, wat deel geword het van die ekklesia of familie van Jesus, moet gebeur as hulle bymekaar kom of met mekaar besig is.

Luister wat sê Hy hieroor in Joh. 13:34,35:

“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Ek wil in my eie woorde probeer beskryf wat daar tussen gelowiges moet begin gebeur wat deel geword het van die familie van Jesus:

Ons moet leer wat dit werklik beteken om mekaar lief te hê as ons werklik ʼn familie van families van Jesus vir mekaar wil wees.

Om te leer om mekaar lief te kry en mekaar lief te hê, behels baie meer as wat die meeste van ons so met die eerste opslag besef.

Ja, dit beteken werklik om te leer… om mekaar lief te kry. Dit gaan nie sommer net gebeur nie. Liefde gebeur nie sommer net en dan is dit vir altyd daar nie.

Daar moet hard gewerk word en tyd gemaak word om iemand te leer ken en te leer aanvaar met al hulle dinge en verskille.

En dan moet daar gepraat word… oor alles en nog wat. Ernstige dinge en lawwe dinge. Gewone dinge en diep, geestelike dinge.

Ons kan soveel leer deur maar net te gaan kyk hoe Jesus vir drie jaar hier op aarde Sy klompie volgelinge geleer het en iets laat ervaar het van wat dit beteken om “Sy mens-familie” hier op aarde te wees, en dat Hy hulle elkeen se familie is.

Gaan kyk ook hoe dit daar in Handelinge, in die eerste gemeentes, in die ekklesia gebeur het. Gaan kyk hoeveel tyd hulle met mekaar saam deurgebring het en wat alles daar tussen hulle gebeur het.

Lees byvoorbeeld in Handelinge 2: 41-47:

“Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.

Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

(Net tussen hakkies: Het jy gesien dat hulle nie iemand na die byeenkomste van die ekklesia uitgenooi het nie? Mense het net deel geword en na die byeenkomste van die ekklesia gekom as hulle klaar tot bekering gekom het en die “normale geestelike geboorte” beleef het in hulle eie lewens.)

Kom ons lees wat in Handelinge 4:32-35 staan:

“Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.

Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.

Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”

Hoor jy? Om te leer om mekaar lief te hê, is baie prakties!

Volgende keer gesels ons verder hieroor as ons gesels oor die sogenaamde “mekaar” tekse in die Bybel.

Related items