Print this page

Wees eengesind onder mekaar

eensgesind eensgesind

 

Romeine 15:5-6 ”En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”

Lees nou ook in Johannes 17: 20-21 wat sê hoe "Christus Jesus dit wil hê".

”Ek bid egter nie net vir hulle [die elf dissipels] nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Kom ek vra vir jou ʼn paar vrae om jou te help om presies te hoor wat die hart van ons Koning en Here is as Hy sê dat ons hier in die binnekring, in ons naby-familie van families”, veral eensgesind onder mekaar sal wees.

• Wat tref jou in hierdie woorde van Jesus, so by die eerste lees daarvan?
• Waarom, dink jy, is dit vir Jesus so belangrik dat daar eenheid tussen Sy volgelinge sal wees?
• Deur die eeue was een van die Bose se mees effektiewe wapens teen die Christendom om verdeeldheid te saai. Wat gebeur as daar verdeeldheid onder Christene in ’n gemeente of familie van gelowiges is?
• Wat is die verskil tussen eensgesind en eenders? Is daar ook 'n verskil tussen eensgesind en eendersdenkend?

Kom ek haal nog drie teksgedeeltes aan hieroor om ons verder te help om ʼn bietjie dieper te delf in hierdie waarheid.

Romeine 14:19: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Filippense 2:2: “Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”

Efesiërs 4:3: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”

• Hoe help hierdie tekste jou om “eensgesindheid” beter te verstaan?
• Wat is nodig dat daar werklik eensgesindheid tussen gelowiges sal wees?
• Wat is die verband tussen ons verhouding met die drie-enige God en die eensgesindheid onder ons as gelowiges, veral daar in ons naby-familie van families?

Miskien het die Heilige Gees jou oortuig van iets wat nie lekker is tussen jou en iemand in jou naby-familie van families nie.

Bely dit voor die Here en gaan doen dan ook teenoor daardie een waarvan die Here jou oortuig.