Print this page

Help mekaar om op die pad en die voetspoor van die geloof te bly

Bedien mekaar Bedien mekaar

 

Soos ek al baie keer hier tussen ons gesê het, daar waar ons saam is met mede-gelowiges, en veral daar in ons naby-familie van families, veral waar ons saam kuier aan tafel, moet ons bewus daarvan wees dat dit in die Vroeë gemeentes, soos waarvan Handelinge ons vertel, die plek waar gelowiges mekaar bedien het, veral daar aan die tafel was.

Daarom het ek in plaas van dit “meetings” te noem in Engels, dit sommer “m-eatings” begin noem, want dit was lering en bediening wat so tussen al die eet en drinke gebeur het!

Hoor hoe doen Paulus dit daar in 2 Tim. 3:14 tot 17 terwyl hy met die jong Timoteus gesels.

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Sien, hierdie bediening van mekaar hoef nie so ʼn swaar en prekerige ding te wees nie. Nee, dit kan maar net ons geloofstorie wees wat ons daar vir mekaar vertel, waaruit ander soveel kan leer.

Maar luister ook na hierdie twee ander gedeeltes wat hieroor handel.

Romeine 15:14: “My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help.”

Galasiërs 6:1,2 sê: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Almal van ons het mos al ʼn pad gestap en het soveel om te vertel van wat ons langs die pad geleer het.

As jy al in een of ander valstrik van die vyand beland het, hoef ʼn broer of ʼn suster, wat jy sien op pad is ook daarheen, dit nie ook te doen nie. Spaar hulle asseblief die ellende en vertel hulle jou storie!

Natuurlik vra dit ook van elkeen van ons ʼn nederigheid en ʼn leerbare gees. Luister na mekaar.

En onthou, as en wanneer die ekklesia byeen is, of dit nou in ʼn restaurant is of op kantoor is, of sommer net daar langs die etenstafel is, ons Koning belowe: Waar twee of drie van julle bymekaar is, is Ek self daar by en tussen julle!

Ons Here en Koning praat op baie maniere met ons. Luister dus mooi of jy nie Sy stem hoor wanneer jou broer of suster daar in die groep hulle geloofstorie vertel nie!

En as jy dan hoor hoe die lewende God self met jou op die manier praat, gee tog ag, maak erns met daardie woord en besluit hoe jy baie prakties gehoor kan gee aan dit wat jy gehoor het God vir jou op die manier gesê het.

Related items