Print this page

Vergewe mekaar

Vergewe mekaar Vergewe mekaar

 

Ja, almal van ons weet dit staan in die Bybel, maar tog bly dit vir die meeste van ons in een of twee gevalle in ons eie lewe bitter moeilik om te doen.

Miskien het dit te make met wat ons verstaan wat hierdie woorde, “vergewe mekaar”, beteken.

Hoe verstaan jy die woord “VERGEWE”?

Wat is vir jou die moeilikste om te vergewe?

Met dit in die ope, kom ons luister wat sê die Here in Sy Woord vir ons hieroor.
Lees Kol 3:13-15.

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.”

Luister ʼn bietjie na wat die oorsprong van die woord “vergewe” is: “The modern sense of "to give up desire or power to punish" is from use of the compound as a Germanic loan-translation of L. perdonare (cf. O.S. fargeban, Du. vergeven, Ger. vergeben, Goth. Fragiban).”

Is dit wat “om iemand te vergewe” ook vir jou beteken?

Wat dink jy, het geduld en vergifnis met mekaar te doen?

Waarom staan daar “soos die Here julle vergewe HET”?

Wanneer HET Hy jou vergewe? En hoe HET die Here jou vergewe?

In hierdie gedeelte word daar ook gepraat van wanneer “die een iets teen die ander” kan hê. Wanneer is jy geneig om iets teen iemand ander te hou?

Wat gebeur met jou as jy iemand nie vergewe nie?

Moet die persoon wat verkeerd opgetree het, eers om verskoning of vergifnis vra voor dit nodig is om hom/haar te vergewe?

Ja, ek weet ek vra aanmekaar net vrae en sê nie wat ek self hieroor dink nie.

Die rede waarom ek dit hierdie keer doen, is omdat dit niks van jou kos om heeltyd net te lees wat ek dink oor ʼn teks of ʼn stukkie Woord nie.

Maar met vergiffenis, glo ek, het ons te make met iets wat die verskil tussen lewe en dood in jou lewe kan beteken. Om iemand nie te vergewe nie, is soos om jouself elke dag met gif in te spuit en stadig maar seker self daaraan dood te gaan.

Terwyl ons hieroor praat, onthou ook sommer dit wat jy bid as jy die “Ons Vader”-gebed bid: “Onse Vader… Vergewe ons ons sonde soos ons ook dié vergewe wat teen ons gesondig het.”

Wil jy nie saam met die Heilige Gees in diepte jou hart en herinneringe ondersoek nie en as daar iets is om teenoor iemand in die verband reg te maak, kies dan om dit vandag reg te maak.

Al beteken dit dat jy vir iemand ʼn kort briefie moet skryf of dalk selfs ʼn telefoonoproep moet maak.