Bemoedig en bedien mekaar

Bedien mekaar Bedien mekaar

 

Kom ons lees 2 Korintiërs 1:3-6 saam en luister mooi na wat die Here God self vir ons hierdeur wil sê.

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.”

Wat spesifiek het jou getref terwyl jy hierdie verse lees? Wat hoor jy van die Here?

Het jy gesien hoe werk die ketting van bemoediging. Wat sê dit vir jou?

Waarom dink jy, is dit so belangrik dat ons mekaar sal bemoedig?

Is bemoediging net nodig wanneer iemand swaar kry of dalk deur ʼn moeilike tyd gaan?

Hoekom is dit vir party van ons moeiliker om ander te bemoedig as wat dit vir ons is om kritiek te lewer?

Dink ʼn bietjie terug. Was daar nou onlangs iemand wat jou werklik onverwags kom bemoedig het? Hoe het dit gevoel?

Het jy dalk vandag bemoediging nodig in jou eie lewe?

Hoekom waag jy nie om vir die Here te vra om jou vanuit Sy Woord te bemoedig nie? Vat dan die Bybel en gaan lees daardie verse wat in jou gees opkom, of blaai ʼn bietjie na daardie gedeeltes toe wat die Here nog altyd gebruik het om jou te bemoedig.

En as die Here jou bemoedig het, vra vir Hom of daar iemand is wat Hy graag wil bemoedig en spesifiek jou voor wil gebruik.

Kom ons dink ʼn bietjie na oor hoe die Heilige Gees ons kan gebruik om mense met die gawes van die Gees te bedien.

Kom ons lees Romeine 12:7 en 8 en dink sommer wat dit beteken om iemand deur hierdie spesifieke gawes te bedien:

“As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Hoe lyk dit om iemand te bedien met die gawes waarvan 1 Kor. 12:8 tot 10 praat?

“Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees.

Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê.”

Kom ons sluit hierdie gedeelte af deur te dink hoe word iemand bedien en bemoedig as die Here vir my ʼn profetiese woord vir hulle gee?

Onthou dit wat 1 Kor. 14 en spesifiek vers 3 vir ons sê, naamlik dat die een gawe wat die Here elkeen van ons in wil gebruik, is die gawe van profesie. Want sê vers 3, deur hierdie gawe wil die Here mense “bemoedig, versterk en vertroos”.

Kies vandag om te glo dat die Here ook jou kan gebruik in die gawe van profesie. Vra vir die Here om jou baie sensitief te maak vir Sy stem sodat jy duidelik sal hoor wanneer Hy jou wil gebruik en wat Hy deur jou aan daardie persoon wil sê.