DEEL 3 - PROFETIESE WOORD VIR 2022 EN VOLGENDE JARE

Hand uitsteek Hand uitsteek

 

Die boodskap van die Koninkryk red ons

Die meeste van ons besef nie eers meer hoe ons belieg en bedrieg en besteel is die afgelope jaar of twee nie.

Sien, ons het geleer om te oorleef midde dit. Ons het geleer om dit te aanvaar as “die nuwe normaal”! Ons het selfs begin om vir ons ʼn nuwe sisteem te ontwikkel sodat ons midde dit kan oorleef.

Die Here wil vandag met jou uit ten minste twee gedeeltes praat.

Vat jou Bybel en gaan luister wat Hy self vir jou wil sê uit 2 Kon. 4:8-37 (veral vers 16).

Gaan lees dan ook Hand 3:1-10 (veral vers 4,5).

Asseblief, doen dit eers en hoor wat die Here self uit Sy Woord vir jou wil sê.

Kom dan en lees verder wat Hy vir my in die verband gesê het om vir jou te sê.

Sien veral raak hoe hierdie bedelaar so gewoond geraak het aan “handouts” en om te bedel, dat hy daar langs die tempel nie eers meer opgekyk het nie.
Om regtig arm te wees en te glo dat jy niks het en nooit genoeg sal hê nie, leer jou om ʼn sisteem te ontwikkel wat jou kan help om net van dag tot dag te oorleef.

Dit leer jou dinge wat ryk en welgestelde mense nooit sal weet nie.

Soos: Waar om gehelp te word. Waar om te kry wat jy nodig het. Hoe om te kry wat jy nodig het.

Dit maak ook dat jy kan verval in hierdie totale magtelose negatiwiteit en sinisme. Jy verloor alle hoop dat dit dalk môre kan beter gaan. Dat daar dalk môre ʼn wonderwerk kan gebeur.

Dit maak ook dat sommige van ons verval in ʼn negatiewe radikalisme of ekstremisme. Veral as iemand jou kon oortuig dat dit wat nou hier tussen ons gebeur, reeds hier en hier in die Woord van God, in die Bybel, staan! Dit maak dan van hierdie mense gevaarlike mense, want ʼn mens wat alle hoop verloor het en nog boonop glo dit moet so wees, ja, dat God gesê het dit moet so wees, is soos ʼn tierkat in ʼn hoek, met sy rug teen die muur.

Weet jy wie is die mense met wie ek empatie het?

Dit is daardie mense wat jare en jare geswoeg en gesweet het aan wat hulle glo God vir hulle gesê het, en nou, na soveel jare, nog nie dit gesien realiseer het nie. Ja, wat in die proses ook al hulle hoop verloor het en voel hulle het alles verloor in die proses.

Daarom het hulle, in ʼn poging om net te oorleef, vir hulleself ʼn sisteem ontwikkel.

Die tragedie is egter dat hulle nie besef dat hulle belieg en bedrieg en besteel is nie!

Daarom het hulle radikale Bybelse vernuwing nodig.

Hulle het nodig om uit God se eie mond, by Hom self, te hoor wat werklik die waarheid is.

Hulle het nodig om dit wat hulle dink, voel, glo en begin doen het, weer krities, in die lig van die waarheid van die Woord, in die lig van die waarheid van die boodskap oor die Koninkryk, weer nuut te ondersoek en te re-evalueer.

Hulle moet, soos dele van die gereformeerde kerkfamilie hier in Suid-Afrika tans, en soos alle dele van die pinkster en charismatiese “kerke” tans, na jare van breinspoeling met leuens en onwaarhede, weer terug reformeer en terugkeer na die waarheid van God se Woord.

Daarom mag en kan ek en jy nie die mikrofoon nou al neersit nie! Daarom moet ons die tyd uitkoop om die waarheid wat die Here aan ons geleer het, ook aan ons kinders en die volgende geslagte te leer.

Ons mag nie toelaat dat hulle vasgevang word in ʼn fantasie-wêreld en ʼn wêreld van euforia nie.

Ons moet hulle leer dat daar dae gaan wees wat ons voel ons is in Disneyland, maar dan gaan daar ook dae wees wat ons nie uit die bed wil opstaan nie.

Ons mag nie vir ons kinders alles probeer gee wat ons nie gehad het as kinders nie, want dan leer hulle nie dat sekere dinge net kom en gebeur as ons aanhou en aanhou, vasbyt, hard werk en swaarkry nie.

Ons mag nie toelaat dat hulle helde net die Koreaanse sanggroepe soos BTG en andere is nie.

Vir die wat nie weet nie, die meerderheid van die Koreaanse en Japanese populasie het ʼn genetiese mutasie wat meebring dat hulle nie bakterië vorm onder hulle arms nie en dus ook minder het van die sweetklier wat die tipiese sweet reuk by ander van ons veroorsaak. Daarom dra hulle ook nie reukweerders soos die meeste van ons nie.

Nee, ons kinders en kleinkinders, en die sogenaamde “benadeeldes”, moet leer dat sekere dinge, goeie dinge, nie sommer net uit die hemel gaan val of vir hulle gegee gaan word nie. Nee, dit gaan sweet en harde werk kos.

Daarom het die mense van ons tyd weer geloofshelde soos die van Heb. 11 nodig.

Wat vasgebyt het tot die einde, maar nooit gekry het waarvoor hulle gestrewe en vasgebyt het nie.

Tog het hulle nooit opgehou vasbyt nie, want in hulle was daar ʼn geloof, ʼn verwagting, wat nooit opgehou het nie. Hulle het geweet dat die dinge waarop hulle hoop, gaan gebeur, want God het dit gesê en belowe! Met ander woorde, al gebeur dit nie in hulle lewe nie, gaan dit een of ander tyd daarna gebeur, want God het dit gesê!

Daarom, leer jou kinders en kleinkinders, en die sogenaamde “benadeeldes” rondom jou, gehoorsaamheid!

Leer hulle dat daar sekere reëls is! (Ag, en maak tog seker dat dit sinvolle reëls is; maak of breek-, lewe of dood-reëls is.)

Leer hulle dat daar reg en verkeerd is.

Leer hulle tog ook wat ons finale toets vir reg of verkeerd is.

Ja, dat dit nie is wat hulle op Google lees of wat die een of ander TV- of popster gesê het nie!

Nee, dit is wat die Lewende God sê wat waar of wat leuen is.

Asseblief, liewe gelowige broer of suster, reg of verkeerd is ook beslis nie wat hierdie of daardie prediker of profeet of kerk sê nie!

Asseblief, leer jou kinders om die Bybel vir hulle self te begin lees. Die lewende God wil self met hulle praat. Hulle moet leer om die Bybel met ʼn verwagting te lees en om self God se stem te hoor.

Leer hulle om te onderskei tussen wat blote godsdienstigheid is en wat bloot rituele of tradisie is. Leer hulle dat tradisie bloot maar net ʼn manier is hoe ons dinge doen. Daarom moet hulle leer om uit God se mond te hoor en om te leer onderskei wat werklik is wat die lewende God self vir ons leer die waarheid en reg en lewe is.

Leer vir hulle om net tevrede te wees met bonatuurlike openbaring! Leer hulle om self by God te hoor en Sy stem te hoor.

Niks anders moet hulle tevrede stel nie. Hulle mag nie nooit ophou voor hulle by Hom self gehoor het nie.

Sien, as mense so gewoond geraak het aan aalmoese en net genoeg om te kan oorleef, dan dink hulle dat as jy genoeg geld het of genoeg brood het, of genoeg geld in die bank het, dat jy genoeg het.

Sien, as mense kruipel, of siek, of werklik arm is, dan weet hulle nie eers dat daar meer kan wees in die lewe as net geld of brood nie.

Dan weet hulle nie eers dat ʼn mens God kan vertrou vir meer as dit nie. (Soos daardie bedelaar in Hand. 5)

Sien, daardie jong vrou en daardie jong man moet leer dat geen ander mens (al is hulle ook hoe aantreklik of wonderlik!) ooit die stukkendheid en die armoede en negatiwiteit in jou gees kan heelmaak of vul nie.

Mense moet leer dat geen verhouding of huwelik ooit dit kan reg maak nie.
Nee, jy moet leer om God vir meer as dit te vertrou!

Gemeentes en kerke moet leer dat om net groter en groter te word en groter en groter geboue te bou, of beter musiekgroepe te kan hê, of die beste predikers te kan hê, nie werklik in God se oë sukses is nie.

Nee, Hy gaan eerder vir julle vra: Het julle van die nasies My dissipels gemaak? En, het julle vir hulle geleer om alles onvoorwaardelik te gehoorsaam wat Ek julle geleer het? Het julle mekaar lief soos wat Ek julle liefhet?

Jy moet sakemanne en vroue leer dat die lewe nie net werk-en-werk is nie.
Dat sukses meer is as ʼn bloeiende, groeiende en suksesvolle besigheid wat genoeg geld maak en wins oplewer.

Ja, dat wat God beskryf as sukses in die besigheid, baie meer is as dit.

Ja, as jy steeds op die mense wat vir jou werk, trap en hulle soos slawe behandel, dan moet jy leer dat daar nog soveel meer is wat in jou en jou besigheid moet gebeur, voor God dit gaan beskryf as suksesvol.

Regerings moet leer dat jy nie kan dink dat as jy vir almal huise gegee het en genoeg toelaes gegee het, en as almal ewe veel geld het, of werk het, dat jy werklik armoede uitgewis het en dat jy ʼn suksesvolle regering is nie.

Daar is soveel meer as dit.

Sien, as jy werklik die boodskap van die Koninkryk van God begin verstaan, en begin verstaan wie jy in Jesus Christus en in Sy Koninkryk is en het, en watter outoriteit jy in die Naam van Jesus Christus het, dan gaan die wêreld rondom jou en die mense rondom jou, dit weet en begin verander!

Dan gaan die impak wat jy op mense het, begin verander!

Sien, daar is iets in die Naam van Jesus Christus, die Koning! Daar is krag in daardie Naam! Daar gebeur dinge as ons begin optree en bid en praat in daardie Naam!

Want om in daardie Naam te begin optree, moet jy by die Een met daardie Naam, gehoor het wat Sy wil is vir daardie situasie! Wat Hy wil doen en wil sê in daardie situasie!

Want daar gaan niks gebeur as jy nie presies in lyn is met Sy hart en Sy wil nie!

Hy is immers die Koning en dit is Sy Koninkryk wat hier moet deurbreek en realiseer! Dit is Sy wil wat hier moet geskied!

Sien, as die Koninkryk daar deurbreek, gaan jou lewe verander, gaan jou huwelik verander, gaan jou geldsake verander, gaan jou besigheid verander, gaan dit waarvoor jy jou lewe en jou tyd gee, verander.

Staan op en begin hierin loop!

Ja, ek weet dit is nie vir jou maklik om dit te doen as jy gewoond geraak het aan die “nuwe normaal” nie!

As jy werklik bonatuurlike openbaring ontvang het, van wat God se wil en hart is in hierdie situasie, as jy by God self gehoor het, dan sal jy nie tevrede daarmee wees om een sekonde langer in hierdie situasie of toestand of verhouding te bly wat jy, midde jou staat van oorlewing, as die “nuwe normaal” begin aanvaar het nie.

Dan sal jy toelaat dat ek jou aan die hand gryp en jou optrek en uittrek uit daardie situasie!

Dan sal jy daardie een vir wie die Here jou ʼn woord gegee het, vir wie die Here jou gevra het om voor te bid, by die hand gryp en hulle met verwagting, met geloof en met vertroue, optrek uit daardie situasie.

Dan sal jy, soos Jesus, vir mense uit Jesaja 61 begin voorlees en sê: Die Here het my gesalf en opdrag gegee om …

Behalwe as jy dit kan aanhaal, maak My Woord oop, sê die Here vandag vir jou, en lees alles wat Ek deur Jesaja profeties in die verband vir jou in Jes. 61 wou sê!