Print this page

Ja, al is die “kerk” van vandag flenters, beteken dit nie dat ons kan dink ons het “kerk” nie nodig nie!

kerk is mense kerk is mense

 

Ek het genoeg die afgelope tyd vir jou geskryf oor hoe flenters dit wat ons “kerk” noem vandag is!

Juis omdat dit wat ons gewoond is om “kerk” te noem, so radikaal verskil van wat Koning Jesus in Sy Woord, die Bybel, oor Sy mense en oor wat in die Grieks “ekklesia” genoem word sê, gebruik ek so min moontlik die woord “kerk” om God se mense en dit wat Hy “ekklesia” noem, te beskryf.

Ek loop oral mense raak wat in die lig van die feit dat die “kerk” van vandag so flenters is, of omdat hulle as gevolg van hierdie “flenter kerk” met sy “flenter mense en flenter leiers”, êrens langs die pad so seer gekry het of so teleurgestel is, dat hulle besluit het dat hulle en hulle gesin nie meer “die kerk” nodig het of nie nodig het om êrens deel te wees van ʼn plaaslike geloofsfamilie of gemeente nie.

As jy dalk een van daardie mense is wat so dink of so voel, dan wil ek jou in groot liefde, maar met ʼn beslistheid vra: Hoe kan jy steeds so dink in die lig van alles wat ek vir jou in die afgelope meer as 36 weke, ja, 36 weke, uit die Woord van die Koning gewys het oor wat Hy self oor die “ekklesia” te sê het?

Daarom moet ons hard en duidelik vir mekaar sê dat as die Koning dit of dat sê, kan en moet elkeen van ons wat werklik deel is van die ware ekklesia en wat waarlik Sy volgelinge is, maar net ja en amen daarop sê en moet ons onmiddellik opstaan en presies gaan doen wat Hy ons opdrag gegee het om te doen.

Hier is nie ruimte vir redekawel nie. Al het jy wat ook al langs die pad belewe en ervaar en selfs seer gekry, kan niks hiervan jou genoeg rede gee om nie te gaan doen wat Koning Jesus hieroor gesê het nie.

Neem nou maar net byvoorbeeld wat Jesus as die Koning vir ons daar in Hebreërs 10:24 en 25 sê. Dan behoort dit ons almal aan te spoor om êrens in ons plaaslike gemeenskap en omgewing, ander volgelinge van Jesus op te spoor en met hulle verhoudinge te begin bou. Want tussen hierdie mense is die mense wat God bedoel het om jou en jou geliefdes se “geloofsfamilie” te wees.

Luister wat sê jou Koning oor hulle:

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

Daar is mos niks onduidelik in wat hier staan nie. Jy moet net opstaan en hierdie woord, soos al die ander, prakties begin gehoorsaam.

Related items