Alles het in plek geval

Die Gekruisigde Jesus Die Gekruisigde Jesus

 

Drie-uur daardie middag, Woensdag, 9 April 32 n.C., 3 ure voordat die Pasga (of Joodse Pesach) daardie aand, wat op die Woensdag van daardie betrokke jaar sou val, in elke Joodse huis gevier sou word, hoor ons hoe Jesus daar aan die kruis in die Grieks sou sê: Tetelestai!

ʼn Bietjie meer as drie jaar vantevore het Johannes die Doper Hom onder die inspirasie van die Gees geïdentifiseer as die Lam wat sou kom om deur Sy bloed ons van ons sonde te kom verlos.

Daarmee hoor ons God wat mens geword het, die Een wat Johannes onder die inspirasie van die Gees, in die Johannes-Evangelie, die Woord noem, sê: Dit is afgehandel! Alles is klaar! Alles kom hiermee in vervulling! Alles val hiermee in plek wat voor die grondlegging van die wêreld reeds beplan is!

Kom ek probeer dit oopbreek soos wat ʼn mens ʼn ryp granaat oopbreek en die rooi heerlikheid stukkie vir stukkie, korrel vir korrel, in jou mond sit sodat jy toe-oog die lekker daarvan kan geniet!

Daar aan die kruis sien ons tot watter uiterste ʼn Heilige God, Liefdevolle Vader en Skepper moet gaan om dit moontlik te maak om ʼn vervalle, sondige, stukkende mensdom genadig te mag wees.

Ja, Hy het hulle so liefgehad (Joh. 3:16-18) dat, as deel van Sy Verlossing- en Herskeppingsplan, om alles weer oor en nuut te maak, Hy Sy eie Seun, self God, mens moes laat word, om die Verlosser te wees waarvan die engele die skaapwagters vertel het. (Luk. 2:11)

Soos die eerste skepping tot stand gekom het toe God woord gespreek het, so sê Johannes onder die inspirasie van die Gees, het Hy weer Woord gespreek, in die koms en menswording van Jesus, die Christus, soos God hoeveel kere deur die Wet en die profete belowe en gewys het (soos padtekens oral langs die pad).

Bekeer julle want die Koninkryk het naby, hier tussen julle gekom, hoor ons Jesus ter aanvang van Sy bediening hier op aarde sê. (Mat. 4:17)

Een moes kom om finaal die slang se kop te kom vermorsel en so die een aan wie die eerste Adam sy Godgegewe outoriteit as heersers hier op aarde in ongehoorsaamheid en ongeloof verkwansel het, “om soos God te wees”, van die troon af te stoot en finaal te oorwin. (Kol. 2:13-15)

Ja, die Lam was die nuwe Koning, met wie se koms ʼn nuwe skepping of eintlik, ʼn Her-skepping, ʼn nuwe Hemel en ʼn nuwe Aarde, met ʼn nuwe Geslag Adam-mense, met Sy Woord profeties tot lewe geroep het: Tetelestai!

Daar in die begin moes God ʼn ongelowige, ʼn verlore heiden, uit die woestyn (waarin die mensdom verlore rond gedwaal het), gaan roep om na Kanaän, ʼn nuwe land, of nuwe tuin van Eden te gaan, ʼn land van melk en heuning. Daar sou God weer ʼn nuwe Boom van Lewe kom plant.

Daar in ʼn dorpie, Bethlehem, moes Hy, die Verlosser en beloofte Messias, gebore word uit die moederskoot van ʼn maagd uit die geslag van Dawid, uit hierdie nuwe volk, Israel, wat God gekies het as deel van Sy Verlossings- en Herskeppingsplan.

Oral langs die pad, terwyl God self hierdie nuwe volk wat Hy tot stand gebring het, gelei het, terwyl Hy oral langs die pad padwysers en monumente laat oprig het om hulle in detail te vertel en te onderrig oor Sy Plan.

Vir ʼn Moses het Hy self die detailplanne van ʼn vervoerbare Tabernakel, as Sy aardse woning, gegee saam met detail riglyne vir hulle lewe op pad, die Tora.

Later sou dit na verdere ontplooiing en soos wat alles mettertyd in plek geval het, blyk “tugmeester” (Gal. 3:10-29) na die komende Christus en Verlosser wees. Om so elke mens bewus te maak van hulle sonde en hoe nodig elke mens hierdie Beloofde Lam van God nodig het om hulle sonde eens en vir altyd finaal op Hom te neem en met Sy lewe eens en vir altyd finaal die skuld voor klaar te betaal.

Jesus self het vertel hoe alles mettertyd in plek sou val.

Reeds daar in Mat. 5:18 gebruik Jesus die Griekse woord, plerosai, om te vertel hoe Hy, met Sy koms en dit wat Hy hier op aarde moes kom doen, alles hulle volle betekenis laat kry het. Ja, ook die Tora en alles wat God deur die profete oor die eeue aan die mens en Sy skepping kom sê het oor Sy Plan.