Print this page

Wanneer die Koninkryk van die Hemel hier op aarde deurbreek

Koninkryk breek deur Koninkryk breek deur

 

Om hierdie vraag prakties te probeer beantwoord, gaan ek vandag leen wat ek by ʼn gewone sakeman, Dave Hodgins, uit Australië geleer het.

Hy het vir my ʼn “nuwe wynsak” uit die sakewêreld gegee om die “nuwe wyn”-waarhede te akkommodeer van die goeie nuus oor die Koninkryk van die hemel wat hier op aarde in die markplek deurbreek.

Hy begin by Jesus as 13-jarige seun, wat in die Joodse wêreld gereken is as ʼn “volwasse man”.

Onthou jy hoe Hy vir sy aardse Ma, Maria, wat na ʼn paar dae se soek na Hom, Hom uiteindelik tussen die priesters, Fariseërs en ander tempelpersoneel kry.
Sy vra Hom toe hoe Hy sommer net so kon wegraak terwyl Hy goed weet dat hulle op pad huis toe was.

Dan hoor ons Jesus antwoord: Maar Ma, Ek moet met My Vader se dinge van nou af besig wees! (En dit is nou my taal dié.)

Met ander woorde, sê Jesus vir Maria: Dit waarmee My Vader in die Hemel nou, op hierdie stadium, besig is, dit is die dinge waarmee Ek ook nou moet begin besig raak as ʼn volwasse man!

Jesus het geweet dat met Sy koms na planeet aarde, as die nuwe Koning, het die Koninkryk van die Hemel hier op aarde begin deurbreek.

Daarom is alles wat Jesus doen, alles wat Hy sê en alles wat Hy bedien aan mense, ʼn stukkie van die deurbreek of ʼn waar-word van hierdie dinamiese, bonatuurlike, nuwe skeppingsgebeure wat hier aan die gebeur is. Elke ding wat Hy doen en alles wat Hy sê, pas êrens in hierdie waar-word, hierdie deurbreek van hierdie nuwe werklikheid in.

Hy was 24/7 in diens van Sy Vader se besigheid, wat ons sommer “Koninkryk Onbeperk” kan noem.

Kom ek illustreer dit met ʼn gebeure uit Jesus se lewe.

Ek sê dat Jesus besig was met waarmee Sy Vader besig was, naamlik die deurbreek van “Koninkryk Onbeperk”. En Hy was hiermee besig op die voorstoep van die Hel, daar in Palestina, waar die vyand besig was om mense te besteel en dood te maak.

Onthou, die wêreld waarin Jesus gebore is, was hierdie wrede en gewelddadige wêreld. Negentig persent van die Jode in Sy tyd is letterlik beroof deur die priesters en daarom, geweldig arm. Kinders was honger en sterwend. En verder, was daar hierdie jarelange droogte wat geheers het, want God kon nie seën wat aan die gebeur was nie.

Mense kon nie eers hulle tempel-taks meer betaal nie. Al wat hulle kon doen, was om geld te leen by die priesters om die voorgeskrewe Bybelse offers te kan koop, maar teen geweldige pryse.

Dan het die priesters boonop, as sekuriteit, hulle plase en ander eiendom gevat, sodat, as hulle volgende jaar nie hulle lening kon terugbetaal nie, het dit die priesters s’n geword het.

Daarna het die priesters hulle gedwing om hulle eie lande te bewerk teen ʼn minimum loon. Hulle het verder vir hulle die minimum kos gegee om te eet, maar nie genoeg om ook vir hulle kinders te gee nie. Daarom moes party ouers hulle kinders verkoop sodat hulle iets te ete kon hê. Die eindresultaat was hierdie kultuur van seks-handel wat hande uitgeruk het in daardie dae. (Dit is dan ook een van die redes waarom Jesus so gefokus het op kinders in Sy bediening van God se Koninkryk).

Hier het jy dus ʼn hele nasie gehad wat slawe was van die priesters.

Dan was daar nog boonop die Romeine en die Romeinse owerheid, met al hulle onderdrukking en geweld! G’n wonder nie dat opposisie-faksies oral ontstaan en teenstand oral uitgebreek het. Met, as gevolg hiervan, die Romeinse owerheid wat met tipiese geweld oral mense verbrand, gekruisig en doodgemaak het.

So, in 7 n.C., moes Jesus heelwaarskynlik staan en toekyk (want die Romeine het al die inwoners van Nasaret en omgewing gedwing om te kyk hoe dit gebeur), hoe hulle 2000 volwasse manne, as gevolg van so ʼn opstand, gevat het en net daar voor almal gekruisig het!

Natuurlik het al hierdie dinge Jesus en Sy lewe beïnvloed.

Daarom het Hy, in Sy bediening, net soos Johannes die Doper, as deel van die koms van die Koninkryk hier op aarde, ook die politieke leiers en owerheid van Sy tyd aangespreek. En het Hy ook begin om hierdie houvas wat hulle gehad het op mense, te breek.

Maar nie met die tipiese geweld van Sy tyd nie. Maar deur ʼn ander kultuur en ʼn ander werklikheid met ʼn ander boodskap te bedien aan mense.

Daarom hoor ons Hom sê: Bekeer julle, julle slange! Verander julle manier van dinge doen en julle lewens! Stop met die korrupsie! Stop met die doodmaak van julle eie mense!

Daarom het Hy ook Hom toegespits op die belastinggaarders!

Nadat Hy die kettings van korrupsie daar begin breek het, het Hy begin om mense VERNIET gesond te maak.

Dit was ʼn geweldige ding in Sy tyd, want as jy wou gesond word of gesond verklaar word, moes jy na die tempel toe gaan. Daar het hulle jou laat betaal! Omdat niemand geld gehad het nie, was ʼn hele nasie siek, fisies en geestelik. En hier was Jesus besig om mense gesond te maak na gees en liggaam. Daarna stuur Hy hulle tempel toe, om daar vir die priesters te gaan wys dat hulle gesond was.

Ja, Hy het selfs hulle sondes vergewe, VERNIET, en hulle gedoop as teken hiervan.

Toe begin Hy om die duisende te voed; weereens, alles VERNIET!

Vir dié wat nog ʼn bietjie kos gehad het, soos ʼn paar broodjies en ʼn paar vissies, leer Hy hoe God se ekonomie en vrygewigheid werk!

Nadat almal daar gevoed was, was selfs dit wat oorgebly het, honderde persente meer as dit wat aanvanklik “bestee” en gegee is!

Toe gaan Jesus, in die laaste week van Sy aardse lewe op aarde, en begin die “tempelsisteem” af te breek, wat die hart was van hierdie hele korrupte stelsel, waar mense eenvoudig van alles beroof is.

Deur wat Hy daardie dag daar gedoen het, het Jesus daardie korrupte “banksisteem” met die omgooi van die tafels (wat letterlik “banke” genoem is), bankrot verklaar! (Dit is wat Lukas daar in hoofstuk 19 oor hierdie gebeure sê!)

En dan, as Sy finale aksie, sien ons Sy kruisiging, begrafnis, en dan Sy opstanding wat die deurbreek van die Koninkryk van die hemel soos ʼn geboorte uitbeeld.

Hierna begin die mense (die dissipels) hieroor opgewonde praat, want skielik het hulle verstaan: Hulle het die eerste tekens van die nuwe skepping, met al die geboortepyne wat daarmee gepaard gaan, gesien en beleef!

In die hart van hierdie gebeure, vertel Mat. 27 vir ons, hoor ons, finaal, die gordyn tussen die Heilige en Allerheilige in die Tempel van bo na onder skeur!

Skielik was die priesters sonder werk!

Hiermee is die finale ketting gebreek! Nou was daar nie meer rede waarom enigiemand na die tempel toe hoef te gaan nie. Omdat daar nie meer ʼn gordyn tussen die Heilige en Allerheiligste was nie, kon enigiemand nou direk na die Hemelse Vader toe gaan!

Verstaan jy nou waarom ons nie, as deel van ʼn boodskap oor die Koninkryk, mense kan verander deur van hulle godsdienstige, Christelike “kerk-gangers” te maak nie!

Nee, ons moet hulle dieselfde boodskap van die Koninkryk gee wat ons by Jesus geleer het en dan moet ons hulle terugstuur na die markplein. Daar moet hulle dan gaan doen wat Jesus ons geleer het, want net dit verander ʼn gemeenskap en net dit verander ʼn kultuur en manier van doen.

Dit is waarom Jesus se boodskap was: Gaan en maak mense My dissipels, doop hulle… en leer hulle om alles gehoorsaam te doen wat Ek vir julle geleer het om te gaan doen. Ek is by julle, om julle te seën, en om My seën deur julle oral te bedien! En asseblief, heeltyd, hou aan om te lewe onder die skaduwee en beskerming van daardie seën en genade, en moet nie daaronder uit weg stap nie!

Related items