Dag 26 – Deur die Bloed van Jesus het jy nou tempel geword van God die Gees

Tempel van die Gees Tempel van die Gees

Die Gees van God woon in my lyf!

Ja, jy is en bly ʼn gewone mens na jou bekering, met ʼn gewone fisies-chemiese liggaam en met die tipiese menslike behoeftes en begeertes.

Tog het daar ook wat dit betref, iets merkwaardig gebeur daar waar ons nie werklik dit kan sien en selfs kan meet nie.

Om vir ons iets hiervan te laat begryp, kom God in Sy Woord, in ʼn gedeelte soos 1 Kor. 6:12 tot 20, en verduidelik dit vir ons in ʼn taal wat ons almal kan verstaan.

Neem jou Bybel (daardie een of twee vertalings wat jy lees), en lees hierdie gedeelte hardop vir jouself.

Probeer dan om in jou gewone alledaagse taal, sonder om te “godsdienstig” te wees, te sê wat jy hoor die Here vir jou hier sê oor hoe jy moet reageer as jou liggaam honger is en kos wil hê, of as daar ʼn behoefte is om jou fisiese seksuele drange te bevredig.

Lees ook dit wat daar in Rom. 8:9 staan en probeer dan hierdie gedeelte in die lig daarvan in jou eie woorde oorsê.

Ja, ek weet dat sommige half skrikkerig en ongemaklik is as jy skielik gevra word om hier rondom die Bybel, in God se teenwoordigheid, oor dinge soos kos en seks en jou liggaam en sy drange te moet praat.

Maar deur die Bloed van Jesus, in die lig van dit wat Hy vir jou gedoen het aan die kruis, is daar nie meer ʼn onderskeid tussen die gewoon-menslike en dit wat ons gewoonlik “geestelike” of “meer heilige dinge” noem nie.

Dit wat Jesus Christus vir ons gedoen het, wat ons met die term “die Bloed van Jesus” saamvat, het dit alles verander. Het hierdie soort onderskeid en “verdeling” vir eens en altyd verander!

Nou is dit soos 1 Kor. 10:31 sê: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

Praat ʼn bietjie hieroor met die Vader in jou gebed-gesprek met Hom.