Dag 29 – Die Heilige Gees is ons Helper en ons Onderwyser

Heilige Gees is ons Helper Heilige Gees is ons Helper

 

Heilige Gees, sê my wat ek hier moet doen!

Ek wil jou herinner aan iets wat die Here vir ons die afgelope tyd oor en oor gesê het, naamlik dat God self in ons kom woon het.

Dit is seker een van die belangrikste of selfs dié belangrikste geskenk wat iemand van God kry omdat hy of sy glo dat Jesus aan die kruis Sy Bloed gegee het ook vir jou.

Daarom kom die Here in ʼn Bybel-gedeelte soos Gal. 5:16 tot 25 en sê ons moet nou die Heilige Gees toelaat om ons hele lewe te beheer. Lees dit ʼn bietjie hardop en kyk of jy dit in jou eie woorde kan oorsê.

Besef jy dat om toe te laat dat die Heilige Gees “jou lewe beheer” prakties beteken dat jy na Hom sal luister as Hy praat en dan sal gaan doen wat Hy sê.

Ja, dat jy gereeld vir Hom sal sê: Heilige Gees, help my asseblief en sê vir my wat ek hier moet doen!

En dat jy dan sal hoor hoe Hy met jou praat en jou sal lei!

Hoe meer jy op die manier met Hom gaan praat en na Sy stem gaan luister, hoe meer gaan jy ontdek dit wat Jesus oor Hom gesê het, naamlik dat Hy werklik jou “Helper”, “Onderwyser” en “Vriend” wil wees.

Neem jou nou Bybel en lees hardop wat daar in 1 Kor. 2:9 tot 12 oor Hom staan.

Jy kan selfs hierdie gedeelte ook weer in ʼn vertaling soos die Amplified Bible of The Voice lees. Probeer om dan dit wat die Here hier vir jou sê in jou eie woorde oor te sê.

Praat met die Here hieroor.