Dag 30 en 31 - Dit het Hy vir ons gedoen deur Sy Bloed

Sy liggaam en Sy bloed Sy liggaam en Sy bloed

Dag 30 – Die Heilige Gees kom en leer ons wat die Bloed van Jesus werklik vir ons beteken

Die belangrikste manier hoe die Heilige Gees met ons praat, is deur die Bybel.

Die Bybel is immers die “Woord van God”! En die Heilige Gees is God self.

Daarom, as God self, as die Heilige Gees, met ons wil praat, gaan Hy veral deur die Bybel met ons praat.

Dit is logies, nè?!

Nou ja, kom ons vat weer vandag die Bybel en lees hardop die volgende Bybelgedeelte om te hoor wat die Here vandag vir ons wil sê.

Kolossense 2:13 tot 15.

In hierdie verse “openbaar” (= wys vir ons iets wat ons nie self sou kon uitdink nie en wat werklik in God se hart en gedagtes was met dit wat gebeur het) die Heilige Gees aan ons wat die hart en gedagtes van ons Hemelse Pappa-Vader was hiermee.

Hy kom letterlik en trek die gordyn oop sodat ons kan sien waarom dit nodig was vir hierdie dinge om te gebeur en wat Pappa-Vader se plan daarmee was.

Vandag help die Heilige Gees ons om te verstaan dat dit wat aan die kruis gebeur het, toe die Bloed van Jesus vir ons sonde gevloei het en Jesus namens en vir ons die straf ten volle betaal het vir ons sonde, soveel wonderlike ander dinge ook gebeur het!

Kom ek teken dit vir jou soos ʼn hofsaak wat aan die gang is.

Ek en jy is die kriminele wat aangekla word.

Regoor ons staan die vyand, satan self, en in sy hande het hy hierdie lang rol beskuldigings oor sonde en sondige keuses wat ons in ons lewe tot hier gemaak het.

En alles daarvan is waar!

Daarom is die uitslag van hierdie verhoor eenvoudig en voorspelbaar: Dit is waar: ons is skuldig en verdien die dood!

Daarom hoor ons ook hoe die vyand vir die Here God wat as Regter daar sit, sê: Maar U kan nie hulle gebede verhoor nie en kan ook nie aan hulle al daardie wonderlike dinge wat in Sy hart vir Sy kinders is, skenk nie!

Ons hoor hoe hy vir die Regter sê: U is immers nie net Liefdevolle Vader nie. U is ook ʼn Regverdige, Heilige Regter, wat sonde nie voor U oë kan verdra nie. Daarom moet U hulloe sonde straf met die dood!

Daarom kom die Heilige Gees as ons Helper en Advokaat en herinner ons (en die Vader) aan dit wat Jesus daar aan die kruis, deur Sy Bloed, Sy dood en dit wat Hy daar in die doderyk vir ons gedoen het.

Dan sien ons hoe “deur die oë van die Heilige Gees” hoe Jesus daardie dik rol beskuldigings uit die hande van die vyand neem en oor elke bladsy van daardie beskuldigings kom skryf Jesus as’t ware in Sy bloed: Reeds betaal! Reeds vergewe!

En net omdat ons gekies het om te glo dat Jesus ook Sy lewe en bloed vir ons gegee het.

Dan draai Jesus na die vyand, Satan, toe en herinner hom dat hy daar by die kruis deur Jesus volledig verslaan is. Hy is nie meer heerser en koning oor ons nie. Ons behoort nie meer aan hom nie en ons is ook nie meer sy slawe nie. Ons behoort nou aan ʼn Nuwe Koning, Jesus Christus!

Alles, alles, alles, wat ons is en het, behoort aan Hom as ons Here en Koning!
Ons behoort nou volledig aan Jesus!

Dag 31 – Die brood en die beker herinner ons aan alles wat Jesus deur Sy Bloed vir ons gedoen het

Vandag wil ek hê jy moet saam met my, daar waar jy alleen of dalk saam met geliefdes is, saam die brood en die beker gebruik (dit wat ons gewoonlik “nagmaal” noem).

(Ja, jy kan dit ook gebruik wanneer jy by die huis is, of alleen, of saam met jou geliefdes is! Jy het nie ʼn dominee of ʼn pastoor nodig om dit aan jou te bedien nie!)

Jesus het eintlik gesê ons moet dit so dikwels moontlik gebruik.

Besluit wat jy wil gebruik as “brood” en as “beker”. En sit dit sommer daar by jou/julle neer om nou-nou te gebruik.

Vat dan die Bybel en lees 1 Kor. 11:23 tot 26 hardop.

(Jy kan die gedeelte selfs ook in nog ʼn ander Bybelvertaling lees.)

Wat hoor jy sê die Here alles vir jou deur dit wat in hierdie verse geskryf staan?

Jy het mos nou die afgelope tyd baie dinge uit die mond van die Here gehoor oor wat die Bloed van Jesus, wat vir jou gevloei het, beteken.

Gebruik dit alles om so volledig moontlik vir jouself, in jou eie woorde, te sê aan wat herinner die Here jou, deur die Heilige Gees en deur Sy Woord wanneer jy die brood en die beker gebruik.

Gebruik dan die brood en beker (en bedien ook ander daar by jou, as jy nie alleen is nie).

Praat daarna met die Here.