Dag 32 – Die Bloed van Jesus is soos om die regte klere aan te trek by die deur

gered gered

Ons het die afgelope tyd uit die Here se eie mond soveel wonderlike beloftes gehoor oor wat alles in die stoorkamer van die Hemel gereed staan vir elkeen wat glo dat die bloed van Jesus ook vir jou gevloei het.

Die bekendste verse in die Bybel, daar in Johannes 3:16 tot 18, sê presies dit. Neem jou Bybel en lees daardie verse hardop. Probeer dan om presies wat daar staan, in jou eie woorde oor te sê.

Ek hoop jy het “raak gehoor” dat hierdie beloftes net geld “vir dié wat dit glo”!

Met ander woorde, al het Jesus gely en is Hy gekruisig... Al het Sy bloed gevloei en het Hy Sy lewe gegee en gesterf vir sondaars... Al het Hy drie dae in die graf deurgebring en opgestaan uit die dood...

Dit geld net vir diegene wat dit glo!

Net vir diegene wat glo word dit ʼn sleutel wat die stoorkamers van die hemel oopsluit!

Dit is wat jy gaan hoor uit die Here se mond vandag as jy die volgende gedeelte hardop lees. Lees dit en probeer dit dan in jou eie woorde oorsê.

Die gedeelte is Matteus 22:1 tot 14.

Dink aan die uitnodiging na die bruilof toe, soos wanneer die wonderlike Evangelieboodskap oor wat Jesus vir ons kom doen het (en wat Sy Bloed wat gevloei het alles beteken).

ʼn Klomp mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.

ʼn Klomp ander, goeies en slegtes, hoor op die een of ander manier dit en gaan na die feesmaal toe.

Maar slegs dié wat hulle ou klere by die deur uitgetrek het, en die bruilofskleed aangetrek het, word uiteindelik toegelaat (“uitverkies”) om te bly en “gered”.

Met ander woorde, al het die bloed van Jesus vir die sonde van die mensdom gevloei en het Hy die volle straf daarvoor gedra, slegs diegene wat dit glo word gered. Slegs diegene wat “tot bekering kom, hulle laat doop in water en gedoop word met die Gees” is dié wat “gered word”!

Want hulle het die bruilofskleed aangetrek.

Slegs diegene wat in geloof God gevra het om hulle ou lewe te vergewe en te bedek met die bloed van Jesus, en wat daarvan weggedraai het, en die kleed van Jesus aangetrek het, slegs hulle is welkom by die bruilofsfees van die Lam. Slegs hulle is “uitverkies”.

Ek teken altyd hierdie prentjie vir mense wat vir my uitvra oor wat dit beteken om “uitverkies te wees”. Dan sê ek vir hulle: Om die Evangelie of goeie nuus oor Jesus aan mense te vertel en om hulle dan uit te nooi om “te glo” dat Hy dit ook vir jou gedoen het, is soos om dan deur ʼn deur te stap van waar jy eers dood was, en nou lewe jy. As jy dan terugkyk, nadat jy deur die deur gestap het, sien jy daar staan bokant die deur staan: "Jy is uitverkies!”

Praat hieroor met die Here in gebed.