Print this page

Die Heilige Gees is God die Gees, en die Gees van die Vader en die Seun

Die Heilige Gees Die Heilige Gees

Die Heilige Gees is God die Gees, en die Gees van die Vader en die Seun

Ek wil nou nie hier vir jou ʼn ellelange verduideliking gee oor alles wat in die Bybel oor die Heilige Gees gesê word nie.

Ek wil darem, in die konteks waaroor ons besig is om te praat, vir jou sê dat die Heilige Gees God self is wat in ons kom woon het. (1 Kor. 3:16)

Die Heilige Gees is die Gees van die Vader en die Seun wat nou in ons is. (Rom. 8:11; 1 Kor. 2:16)

Deur die Heilige Gees wat nou in ons lywe kom woon het as gelowige volgelinge van Jesus, woon ons Koning Jesus self in ons. (Joh. 16:13-16)

Daarom kan Hy nou, as ons Nuwe Koning, self ons lei deur Sy stem. (Joh. 10:3-5)

Die belangrikste manier hoe Hy ons lei deur Sy stem, is om met ons deur die Woord, die Bybel, te praat.

Daarin wys Jesus Christus, as ons nuwe Koning, onder andere, vir ons presies wat Sy hart met elke stukkie van die wet/tora in die Ou Testament was.

Ja, kom wys Hy self vir ons wat Hy daar in Matt. 5:17,18 bedoel het toe Hy gesê het:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.

Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.”

So gaan Koning Jesus ons self, deur Sy Gees wat in ons woon, lei en wys hoe elke gedeelte van die wet in die Ou Testament uiteindelik ʼn vinger is wat wys na Hom en dit wat Hy vir ons, in ons plek, volledig kom doen en kom vervul het.

Hiermee saam, gaan God se Gees wat nou in ons lywe woon, as ons Nuwe Wet in ons, om self vir ons te wys, hier van binne af, wat God se perfekte wil en grense vir reg en verkeerd, vir goed en sleg, is. Ja, Hy gaan ons leer wat lewe en dit in oorvloed in ons lewe kan bewerk, en wat dinge letterlik dood aan ons gaan bedien.

Daarom kom God die Gees en gee ons as’t ware ʼn nuwe bril om met Jesus se oë en met God se hart daarna te kyk en daarna te luister.

Kom ek illustreer dit vir jou deur met hierdie nuwe bril van die Gees, ook na die Tien wette, of Tien Gebooie, te kyk.

Ek wil hierdie skrywe vandag afsluit deur vir jou te wys hoe lyk die eerste vier “gebooie” of “woorde” van die Tien Gebooie dan deur hierdie nuwe bril.

God die Gees leer ons hier van binne af dat Hy as Pappa-Vader, Koning Jesus en Heilige Gees, steeds die enigste Ware God is wat deur mense aanbid moet word, en dat mense Hom net kan leer ken in en deur Jesus Christus as Verlosser en Here in geloof te aanvaar.

Daarom mag daar geen ander god of goed wees wat Sy plek of sê in ons lewe inneem nie.

Daarom bly Sy Naam heilig, want Hy is die Heilige God. Daarom bly ons bid dat Sy Naam ook hier op aarde in alles wat hier gebeur en wat gedoen word, geheilig en geëer sal word.

Maar daarom is Sy plan nog altyd dat geen mens bedoel is om sewe dae ʼn week te werk soos ʼn slaaf nie. As ons Christus Jesus as Verlosser en Here geleer ken het, glo ons ook dat God ons Pappa-Vader is wat vir ons en al ons behoeftes sal sorg, as ons Sy Koninkryk en Sy wil in alles bo alles in ons lewe soek. Daarom kan ons hierdie ritme van ses dae werk, en een dag rus, in ons lewe inbou, want dit is hoe God dit bedoel het. Ons weet ook dat ons Hom in alles wat ons doen en sê, elke dag van die week, sal eer en Sy wil daarin sal soek. Daarom is elke dag (sê Hebreërs 4), vir ons soos ʼn Sabbat, ʼn heilige dag, waarin ons die Heilige God wil eer en dien en aanbid.

Volgende keer gesels ons oor die laaste 6 woorde.

Related items