Te midde al die duisternis, sien ons God se hand

Mighty Men Mighty Men

Was die Wêreldwye "MIghty Men"-byeenkoms oor die internet nie 'n belewenis nie!

Ek sê vir so baie mense dat ek glo dat die Herlewing wat die Here my in daardie visioen in April 1997 gewys het, hier rondom ons in Suid-Afrika maar ook wêreldwyd reeds duidelik aan die gebeur is!

Dit is wat ek Saterdag weer tydens hierdie uitsending so duidelik gesien het!

Dit wat God in Joël 2 oor laat profeteer het, en wat op 31 Mei 32 nC, op Pinksterdag, daar in Jerusalem, in vervulling getree het, is hier rondom ons, ook in hierdie dae met die oploop na die viering van Pinksterdag 2020, weer besig om oor en oor te gebeur!

Wil jy nie waag om saam met my die gebed wat ek sedert 2016 profeties proklameer, saam met my bid nie?

Bid asseblief saam met my:

Kom, Gees van God, kom uit die Weste, die Ooste, die Suide en die Noorde, kom bring lewe in hierdie begraafplaas rondom ons! Bring lewe in my eie lewe! Bring lewe in hierdie gesin en familie van my! Bring lewe in my huwelik en in my verhoudingslewe! Bring lewe in my gemeenskap, hier waar ek woon en lewe elke dag!

Gees van God, bring lewe in hierdie land van ons! Bring lewe in my besigheid en in my werk! Bring lewe daar waar ek skool gaan of studeer! Bring lewe in die ekonomie! Gees van God, kom waai deur ons regering en verander diegene wat U aangestel het in posisies van outoriteit!

Bring nuwe lewe! Bring lewe waar daar tans dood heers! Bring genesing waar daar tans siekte heers!

Pappa-Vader, Koning Jesus, Heilige Gees, laat ons U heerlikheid as die Enigste Ware God sien en ervaar oor die hele wêreld vandag!

In Jesus se Naam bid ons dit! Amen!

As jy weer die heruitsending van Saterdag se gebeure wil sien, hier is die skakel daarheen:

Mighty Men Global 2020-video

Ek stuur dit vandag, op Sondag, 24 Mei 2020, uit na elkeen van julle.

Maak tyd om saam met jou geliefdes daarna te kyk.

Kom ons gebruik dit as 'n manier om rondom die Woord, dwarsoor die wêreld, byeen te kom as gelowiges, om te hoor wat God self aan Sy mense wil sê!

Voor ons lê 'n nuwe seisoen!

Kom ons stap hierdie nuwe seisoen in met 'n Woord van die Lewende God wat brand in ons gees!