So lyk die laaste 6 “woorde” of “gebooie” deur die bril wat die Gees ons gee

Law of the Spirit Law of the Spirit

 

Laaskeer het ons gesels oor die eerste 4 woorde of "gebooie" deur die bril van die Gees.

Kom ons gesels vandag oor dit wat God se Gees vir ons self sê deur die laaste 6 "woorde" of "gebooie".

Dit is God wat ons vir ons ʼn pa en ʼn ma gegee het, en ons onder baie ander gesagfigure se gesag geplaas het, met die opdrag dat hulle ons moet leer wat Jesus vir hulle geleer het. Hy gaan hulle verantwoordelik hou of hulle die verantwoordelikheid teenoor ons nagekom het. Hy gaan ook ons verantwoordelik hou of ons hulle geëer en gerespekteer het as die mense wat God in gesagsposisies oor ons aangestel het.

Met God die Gees in ons, ontdek ons dat alle lewe kosbaar is in Sy oë en dat net Hy self sê het oor lewe en dood.

Met God die Gees in ons wat ons lei, leer ons dat die huwelik tussen een man en een vrou vir God heilig en goed is, en dat ons binne daardie grense mekaar kan liefhê en kan een word, na gees, siel en liggaam.

Met Sy Gees in ons, leer Hy ons om Pappa-Vader te vertrou om in totaliteit vir ons te sorg. Ons hoef niks te steel of te vat wat nie aan ons behoort nie. Sy Gees gaan ons lei om ses dae ʼn week hard te werk terwyl ons Hom vertrou, dat daar uiteindelik genoeg sal wees om ons geliefdes te bedien met wat hulle nodig het, maar ook dat daar genoeg sal wees om ander se nood ook daarmee te bedien. Sodat ook hulle nie nodig het by ander te steel om te hê wat hulle nodig het nie.

God die Gees, as ons nuwe Wet in ons, gaan ons daagliks leer om ander mense se persoon hoog te ag en net van hulle goed te praat. Daarom gaan ons kies om op te staan en te veg vir waarheid en vir wat reg is, en om geen leuens en halwe waarheid uit ons mond te laat kom nie. Ons weet immers dat wanneer ons ou vlees in beheer is, is ons doof vir die Gees se leiding en stem in ons lewe.

Onder die leiding van God se Gees, gaan ons ʼn nuwe vergenoegdheid en vrede beleef, want ons weet Pappa-Vader is in totaliteit in beheer van ons hele lewe. Ja, ook vir vandag! Daarom kies ons ook vandag om te glo dat hierdie God wat ons leer ken het in die Bybel, ʼn goeie Pappa-Vader is. Ons het Hom leer ken en leer liefkry. Daarom maak ons elke dag tyd om op Hom te wag sodat Hy ons kan wys wat Sy perfekte wil vir ons lewe is. Daarom wag ons op Hom, of dit nou is oor watter man of vrou Hy vir my bedoel het vir die huwelik, en of dit nou is oor wat en hoeveel Hy my mee gaan vertrou in geld en goed hier op aarde. Onder die leiding en beheer van die Gees leer ek om nee te sê vir my ou vlees wat net heeltyd meer en van alles van ander wil hê.