Ons word wakker in ʼn hele nuwe wêreld!

nuwe wyn nuwe wyn

 

Dit hoor ons die afgelope tyd oral rondom ons. Party van ons voel goed oor die stelling en ander is baie agterdogtig daaroor, want dit klink soos die stem van sinistere magte wat agter die skerms besig is met sinistere dinge.

Wat sal jy sê as ek vandag vir jou sê: Ek glo dat God se Gees hierdie Grendeltyd gebruik het om “nuwe wyn” aan ons te bedien, wat roep na “nuwe wynsakke”?

Kom ons dink ʼn slaggie weer ʼn bietjie oor hierdie terme, “nuwe wyn” en “nuwe wynsakke” na.

Luister na wat die Gees van God vir jou sê terwyl jy hardop die woorde van Koning Jesus daar in Lukas 5:30 tot 39 lees.

Lukas 5:30-39

As jy dalk nog ʼn Bybelvertaling byderhand het, lees dieselfde gedeelte ook daaruit. Probeer dan om dit in jou eie woorde oor te sê.

Wat dink jy, sê die Here hier vir jou oor jou eie lewe en oor die pad wat Hy tans met jou stap?

Niks van wat God se Gees aan ons uit die Woord wys is regtig “nuut” nie!

Die meeste daarvan, in die gedeelte wat ons die “Nuwe Testament” noem, is reeds op die een of ander wyse êrens in een van die gedeeltes van hierdie Nuwe Testament, wat van 49 tot 70 n.C. onder die inspirasie van die Heilige Gees, neergeskryf is.

Tog, wys die Pinkster-Gees, die Gees van die Heilige God, dit vars en nuut aan ons en die res van die Ekklesia oor die wêreld.

Sommige van ons staan dan totaal oorbluf dat ons dit nie reeds jare gelede raakgesien het nie. Ons het immers hierdie gedeeltes al soveel kere gelees en gedink ons weet wat hier staan.

Kom ek wees baie prakties en verduidelik dit in terme wat jy sal verstaan.

Alhoewel ek ʼn dominee in die NG Kerk was, met ten minste 3 teologiese grade agter my naam, was ek in 1992 en 1993 totaal verstom om te ontdek dat die deel van die Kerk van die Here Jesus waarin ons opgegroei en die Here leer ken het, nie ten minstens reeds in die tyd van die Reformasie, in 1517, nie reeds gehoor het nie wat soveel ander gelowiges oor die wêreld ontdek het baie uitdruklik hier in die Bybel staan nie!

Dit was asof ons dit of nie raakgelees nie, of net voortgegaan om dit te interpreteer in die lig van wat ons geleer en gehoor het in die deel van die kerk waarin ons was. En dit, ten spyte van wat in die Bybel uitdruklik daaroor gestaan het!

Dit was asof ons net botweg geweier het om te glo dat ons ouers en voorouers, ja, sover terug tot by die Reformatore soos ʼn Luther en ʼn Calvyn, regtig nie die Bybel reg gelees en reg verstaan het nie.

Ek onthou hoe totaal verstom ek in Switserland in 1988 met ʼn dokument in my hand gestaan het, wat vir my gesê het dat Martin Luther en Calvyn voor hulle siel geweet het dat die Bybel net een doop ken en dat net gelowiges gedoop is in die Nuwe Testamentiese tye!

Tog het hulle, omdat hulle te bang was dat Jan alleman op straat nie ook dit sou kon absorbeer nie, dit verswyg toe hulle die boodskap van die reformasie aan mense moes verkondig!

Daarom het hulle, as ʼn deel van die boodskap van die Reformasie, steeds die leuen oor die sogenaamde “doop van suigelinge”, soos hulle in die Roomse Kerk geleer het al die jare, bly verkondig! En daarom het ek, as ʼn NG dominee, met al my teologiese grade en al, steeds groot oortuiging, babas “gedoop”.

Daar in Switserland het ek, in hierdie dokument, ontdek hoe Martin Luther en die ander leiers van die Reformasie, ten spyte van wat hulle geweet het in die Bybel oor die doop staan, nog steeds, kan jy glo, honderde duisende ander gelowige broers en susters wat met hulle hieroor sou verskil en hulle laat doop het as gelowiges, laat vervolg en selfs doodgemaak omdat hulle gewaag het om hulle te laat doop as gelowiges!

Wat ʼn tragiese stuk geskiedenis is dit nie hierdie nie!

Kan ek vir jou ʼn baie persoonlike vraag vra: Is jy werklik oop genoeg sodat God se Gees jou van die waarheid kan oortuig oor dit wat werklik in die Bybel as Woord van God staan?