Die koninkryk vir Israel en die Koninkryk van die hemel

Koninkryk Koninkryk

 

Ek wil jou ʼn bietjie uitdaag vandag om God se Gees toe te laat om ʼn bietjie nuut na te dink oor Israel en die Jode in die lig van wat ons alles al uit God se mond gehoor het oor die Koninkryk van die hemel.

Kom ons maak die Bybel as Woord van die Lewende God oop en lees weer daardie bekende gedeelte in Handelinge 1, verse 1 tot 8, waar ons altwee die terme kry.

Lees Hand. 1:1 tot 8

Het jy gesien dat Jesus self niks oor Israel en die Jode gesê het nie?

Het jy verder raakgesien dat Hy eintlik gesê dat alhoewel hulle in Jerusalem sekere dinge beleef het en selfs nog gaan beleef, gaan dit net die plek wees waar hulle roeping en sending gaan begin. Dit gaan nie die eindpunt daarvan wees nie.

Miskien moet jy net hierdie sinnetjie weer ʼn slag lees! Stem jy saam hiermee? Indien jy nie saam stem nie, lees ʼn bietjie verder.

Die res van die verhaal van Handelinge, binne die konteks van die res van die Nuwe Testament, vertel vir ons die verhaal van hoe God Sy mense van Jerusalem af uitstuur om oor die hele wêreld ambassadeurs te wees van die goeie nuus dat die Koninkryk van die hemel besig is om sigbaar te word in alle dele van die wêreld.

ʼn Nuwe seisoen het aangebreek. Alhoewel Israel en die Jode die Moeder was waaruit die Kind van Openbaring 12, die beloofde Messias, gebore moes word, was dit omdat God iets baie groter en iets meer as net Israel en die Jode liefgehad het.

God het ʼn hele wêreld, met al sy verskillende stamme en volke lief.

Natuurlik beteken dit nie dat God ooit Sy beloftes en Sy pad en geskiedenis met hierdie volk en hierdie klein landjie, Israel, sal of wil vergeet nie.

Daarom vra God ons as Sy nuwe volk uit al die volkere, die Ekklesia of Kerk van die Here Jesus, om nooit vir Israel, die Jode en hierdie land te vergeet nie. Gaan lees maar weer Romeine 9 en 10.

Dink dan terug aan daardie gebeure na Pinksterdag, 31 Mei 32 n.C., daar in Jerusalem.

Meer as 3000 plus mense kom op daardie dag tot bekering en word deel van die Ekklesia, die Kerk van Jesus Christus, God se volk, hier op aarde. Hierdie 3000 plus is mense uit alle volke en tale wat juis daar in Jerusalem vir die viering van die Joodse Pinksterfees was.

Onder normale omstandighede, soos alle vorige jare nadat hulle die groot Joodse feeste bygewoon het, sou hulle teruggegaan het na waar hulle vandaan gekom het, na hulle huise en hulle werk. Daardie jaar, 32 n.C., en op daardie dag, 31 Mei, gebeur daar iets met hulle wat hulle lewens so sou verander dat niks daarna dieselfde sou wees nie.

Hulle ontmoet elkeen persoonlik Jesus Christus as Here en Koning. Die Een wat gekruisig is op die 9de April 32 n.C., die oggend voor die Pasga-maal die aand gevier sou word. Hulle geloofsoë gaan oop vir die Goeie Nuus dat Hy werklik die beloofde Messias en Koning is met wie se dood en opstanding ʼn nuwe seisoen sou aanbreek van God se besig-wees met die hele wêreld.

Ja, ook God se besig-wees met Israel, die Jode, Jerusalem en die res van die land, Israel, sou radikaal verander en deel word van iets baie groter, naamlik die Koninkryk van die Hemel wat hier op aarde oral tussen alle volke en tale en nasies sou deurbreek.

Gaan dink ʼn bietjie hieroor na en praat met die Here hieroor.