Moet ons almal Jerusalem toe trek?

Op die wolke Op die wolke

Sjoe, vandag gaan ek so ʼn bietjie aan ʼn paar “heilige oortuigings” van ʼn paar mense skud!

Terwyl ons besig is om oor die Koninkryk van God en die nuwe seisoen waarin ons is, praat, kan ons nie huiwer om ook hieroor te gesels nie.

Ek weet daar is gelowiges onder ons wat vir Israel, die land en sy mense, baie lief is. Dit is ook reg so, want hulle is deel van ʼn hele mensdom wat God so lief gehad het dat Hy Sy Seun se lewe gegee het sodat Hy hulle kan en mag red en verlos.

Sag. 4:4

Maar ek weet ook dat daar van hierdie gelowiges is wat heeltemal oortuig is dat God wil hê hulle moet Israel toe sak en pak trek! Om daar êrens, indien moontlik, naby Jerusalem en die Olyfberg te kan woon. Want, sê hulle vir jou, het God dan nie self in Sy Woord, daar in Sagaria 4:4 profeties die volgende gesê nie:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”

Van hulle sal selfs vir jou ook wil herinner aan die woorde van die twee manne in wit klere, daar in Handelinge 1:11, wat net nadat Jesus van die Olyfberg af “vertrek het” tydens Sy Hemelvaart, die volgende gesê het:

“Dié sê toe vir hulle: ‘Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.’”

Ek dink jy verstaan onmiddellik hoe hierdie “goedbedoelende gelowiges” hierdie vers wil verstaan en interpreteer! Ja, dat Hy net so (dus weer op die Olyfberg) gaan “terugkeer” as Hy weer kom aan die einde.

My vraag is of ons hierdie woorde, wat immers profeties in albei hierdie gedeeltes in die Woord was, so kan verstaan?

Laat ek dadelik sê: As iemand geroepe voel om onder die Jode ambassadeur van die Koninkryk van die Hemel hier op aarde te wees, maak dit vir my heeltemal sin as jy en jou gesin sak en pak dalk Israel toe trek as deel van julle opdrag.

Maar as jy dit doen omdat jy oortuig is dat ons almal dit moet doen om in die laaste dae “eerste daar te wees om Hom te sien”, moet jy weer ʼn bietjie mooi gaan dink oor hierdie vers in Sagaria 4. Gaan lees sommer ook die res van Sag. 4 om die konteks van hierdie vers ook mooi te verstaan.

Openbaring 1:7

Dink dan ook na oor wat daar in Openbaring 1:7 in die verband staan:

“Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!”

Gesels hieroor met die Here in jou gebedsgesprek met Hom.