Ons is besig om wakker te word in ʼn heel nuwe wêreld!

Heilige Gees Heilige Gees

Profeties beleef ek die Here wil ons bedag daarop maak dat ʼn nuwe wêreld hier rondom ons besig is om deur te breek. Dit is ʼn nuwe era, nuwe seisoen, hierdie!

Ja, alhoewel daar baie dinge rondom ons gebeur wat die gevolg is van die vyand se handewerk, is ons God en Vader in Christus Jesus, in totaliteit in die detail daarvan betrokke en in beheer!

Moet daarom nie toelaat dat vrees, angs, of ʼn gevoel van hulpeloosheid en selfs magteloosheid jou oorval nie!

Sê vir jouself hardop: My God en Vader is totaal in beheer! Sy Plan is besig om hier uit te speel! Ek is nie uitgelewer aan demoniese magte nie! Ek is niemand se speelbal nie! Ek is ʼn kind van die lewende God! Ek is geroep as Ambassadeur van die Koninkryk van die Hemel wat ook hier besig is om voor my oë te realiseer!

Raak dan stil genoeg dat Hy vir jou van Sy planne kan vertel en dat Hy vir jou presies kan wys waar jy in alles inpas. Laat Hom toe om jou hart in lyn te bring met Sy hart en Sy planne vir nou.

Hierdie is nie ʼn tyd wat jy moet vasklou aan ou prentjies en ou maniere van dink nie! Hierdie is ʼn tyd wat ons oop moet wees daarvoor dat Sy Gees vir ons nuwe strategieë en nuwe paradigmas gaan wys!

Ja, as jy dit nog nie agtergekom het nie: Hy het reeds in die Ekklesia, in Sy Kerk, daarmee begin!

Reeds in Sy Ekklesia, onder Sy Mense, het Hy vir ons ʼn nuwe bloudruk en strategiese plan van aksie gegee vir families en hoe ons almal, ja, almal van ons, elke dag in bediening staan!

“Of ons nou eet of drink of wat ons ook al doen, doen ons alles tot Sy eer!” Tot Sy eer en in Sy diens!

Ek sien hoe Hy voor ons ʼn Nuwe Handboek vir die nuwe era en seisoen neergesit het!

Eintlik is dit nie werklik “n Nuwe Handboek” nie! Dit is eintlik maar net die “Oorspronklike Handboek”!

Die Here is eintlik maar net besig om ons terug te neem na Sy oorspronklike ontwerp en Sy oorspronklike plan en bedoeling van alles, van die Ekklesia, die familie en gesin, en van wat bediening werklik beteken, ens.

Die Here is dus besig om ons terug te roep na Sy oorspronklike plan.

Ek weet nie van jou nie, maar daarom was hierdie tyd van afsondering vir my ʼn bietjie soos ʼn tyd van detoks, waarin ek weer na alles in my lewe moes bekyk en weer moes kies wat is waar en wat nie; wat is van belang en wat nie; maar ook wat is deel van God se wil en woord vir my en ander se lewens.

Onthou jy, aan die begin van hierdie jaar, toe ons die Here vertrou het vir ʼn profetiese woord vir die nuwe seisoen wat voorlê, het die Here onder andere vir ons gesê dat Hy vir ons ʼn nuwe prentjie gaan wys van die Ekklesia. En wat gebeur toe? Ons almal word terug gedwing na ons huise toe, na ons familie toe, wat immers die basiese boublok is van God se prentjie van die Ekklesia!

Ja, ons word teruggedwing om, soos daar in die begin, in die Handelinge-gemeente, weer in huise bymekaar te kom as gelowiges, want ons word verhoed om soos in die verlede, in groter groepe, in geboue wat spesiaal daarvoor gebou is oor die jare, wat ons, kan jy glo, “kerke” noem, bymekaar te kom!

So word ons gedwing om daar in die kleine, in ons families, vir mekaar lief te hê en vir mekaar verantwoordelikheid te neem en te sorg!

Vir my as geestelike leier was dit merkwaardig om te sien hoe die eens slapende reus, die Ekklesia, “gewone” gelowiges, boere, tieners, onderwysers, dokters, sakemanne en -vroue, mekaar op sosiale media begin bedien het en begin standpunt inneem het.

1 Pet 2:9-12

Voor my oë het ek 1 Petrus 2:9 tot 12 sien uitspeel.

_“Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. _

_Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. _

_Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. _

Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Kom ons neem dit vandag as God se Woord aan my en jou. Kom ons lees dit hardop vir onsself en probeer in ons eie woorde oorsê wat ons hoor.

Raak dan stil voor die Here in gebed, en luister mooi of Hy nie nog iets spesifiek vir jou wil sê nie. Praat dan verder met Hom daaroor en oor die ander dinge wat nog in jou hart is.