Die Heilige Gees sal julle in die volle waarheid lei, het Jesus gesê

Jesus vervul die Wet Jesus vervul die Wet

 

Hy gaan vir julle dinge leer, het Jesus vir Sy volgelinge wat drie jaar saam met Hom dag en nag was, gesê. Dit waarvoor julle nog nie gereed is nie, gaan die Heilige Gees self vir julle na Sy koms leer.

As ʼn mens ʼn bietjie nadink oor presies wat Jesus hier vir Sy dissipels gesê het, kan ʼn mens die volgende dinge as deel hiervan reken:

• So, moes Jesus se volgelinge en die dissipels, na die kruisiging en opstanding van Jesus, deur die Heilige Gees oortuig word oor wat dit beteken dat Jesus “alles” wat in die Ou Testament en in die Tora gestaan het, “vervul” en “hulle volle betekenis laat kry het”.

• So, moes hulle ontdek dat die Heilige Gees nou “hulle nuwe wet” geword het. Ja, dat Hy selfs vir hulle gaan wys wat God se hart werklik met elkeen van die wette was wat ons gewoonlik die Tien Gebooie/Woorde noem. Byvoorbeeld, dat in die lig van wat Jesus vir ons kom doen het op aarde, nie net een dag in die week vir ons as Sy volgelinge ʼn Sabbat, of rusdag tot Sy eer is nie. Nee, in die lig van wat Jesus vir ons kom doen het, het elke dag van die week, en elke dag van die res van ons lewe deel geword van ons Sabbat of rusdag wat ons tot eer van God in die rus wat Jesus vir ons gebring het, wil lewe.

• God se Gees moes ʼn Petrus kom leer dat ons nie meer mense kan onderskei as “rein” en “onrein” deur te kyk na of hulle deel was van die Joodse volk of van ʼn ander volk was nie. Nee, omdat Jesus Christus vir alle mense gesterf het, kyk ons nou na mense met daardie oë.

• Hierdie selfde Gees leer ons dat die God wat ons aanbid en dien, nie in geboue van enige aard woon en is nie. Nee, deur die inwoning van die Gees, woon die lewende God, as Pappa-Vader, Koning Jesus en Heilige Gees, nou self in elkeen van Sy gelowige mense. En waar hulle instap en waar hulle bymekaarkom, is Sy tempel en Sy woning. Daarom was hulle nie baie ontsteld toe hulle verbied is om in die tempel in Jerusalem en in Joodse sinagoges bymekaar te kom as gelowiges nie. Inteendeel, hulle het besef, dat hulle “daar moes uit” terwille van die waarheid en as deel van hulle verlossing en nuwe lewe as volgelinge van Jesus.

• Iets wat vir sommige van hulle moeiliker was om te aanvaar, was toe die Heilige Gees hulle geleer het dat om sekere kosse te vermy wat in die Tora vir hulle verbied was. Onthou jy die gesprek tussen Petrus en God die Gees daar in Handelinge 10 daar op die dak terwyl hy besig was om te bid? Gaan lees dit ʼn bietjie weer.

• God se Gees het hulle dinge geleer wat nie altyd so maklik was om te aanvaar nie. Ja, dat as hulle steeds sekere seremonies en feeste gaan vier soos die res van hulle Joodse broers en susters, hulle dit wat Christus Jesus gedoen het aan die kruis, as’t ware as van nul en gener waarde verklaar.

• So moes hulle leer dat om jou of jou seuntjie uit godsdienstige redes te besny, soos wat die Tora geleer het, en as jy die Joodse Feeste en al die dae wat as Heilige dae of Spesiale Sabbatte gevier is, en jy doen dit soos die tipiese Jood, is jy eintlik besig om dit wat aan die kruis gebeur het en wat Christus Jesus vir jou gedoen het, van nul en gener waarde maak!

Ja, selfs in Sy lewe hier op aarde, in daardie drie jaar van Sy openbare bediening, het Jesus self telkemale vir mense op allerlei wyses gesê: “Ek is die nuwe Koning. En My woord en My inkleding van selfs die Tien gebooie is nou julle nuwe wette.

Daarom het Jesus Homself die Here van die Sabbat genoem.

Daarom het Sy definisie van wat “egbreek” was, nou vir Sy volgelinge gegeld.

Hulle was selfs geskok om te ontdek dat Hy die Finale Lam was wat geslag sou word op die Pasga, omdat Hy in elke sin van die woord die volkome vervulling van daardie Ou Testamentiese Tora-fees was.

Net so was die Uitstorting van die Heilige Gees op die dag van die Joodse Pinksterfees, die laaste dag wat volgelinge van Jesus ooit weer hierdie Joodse Fees hoef te vier, want ook hierdie Ou Testamentiese fees is hiermee in totaliteit volkome vervul.