Lukas 10 se bediening-strategie

Lukas 10 Lukas 10

As Jesus aan die einde van Sy aardse bediening 70 van Sy volgelinge uitstuur na die dorpe waarheen Hy op pad is, gee Hy aan hulle hierdie volgende bediening-strategie:

“As julle in ‘n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’

As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom.

Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon.

As julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit.

Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ “(Luk. 10:5-9)

Deesdae is hierdie bediening-strategie wat Jesus hier aan die 70 gee, oor die wêreld, een van die mees effektiewe metodes waarmee gemeenskappe met die goeie nuus van die Koninkryk geïnfiltreer en mettertyd getransformeer word.

ʼn Mens kan dit so opsom:

1. Seën hulle

– Begin om daardie betrokke gemeenskap se strate deur te stap terwyl jy God se seën op elke huis en elke besigheid in daardie gemeenskap af bid! Onthou jy is ʼn ambassadeur van die Koninkryk van die hemel wat na hierdie betrokke gemeenskap gestuur is. Begin dus om hulle te bedien deur eers met die Koning van alle konings oor hulle te gesels en daar in Sy voorhowe vir elkeen van hulle te bid. Bid dat die hemele oor hulle sal oopgaan en dat God se seën, genade, genesing en oorvloed op allerlei wyses op hulle sal neer-reën. Sodat hulle nie anders kan as om daarvan bewus te word nie.

2. Kuier by hulle

– Begin dan om oral waar God se Gees jou heen lei in die gemeenskap, by mense te kuier, saam met hulle te eet en te drink, en so deel te word van hulle lewens deur tyd saam met hulle te spandeer. So kan hulle jou ook persoonlik leer ken en leer om jou te vertrou. En wees heeltyd sensitief vir God se Gees se stem wat vir jou die “man van vrede” gaan wys.

Dit is daardie man of vrou of tiener of kind, wat lankal, onbewustelik deur God se werking aangeraak is en honger gemaak is van God se waarhede, God se vrede, God se genade en God se genesing. En uiteindelik, weet jy, gaan daardie persoon jou innooi in sy of haar gesin/familie/werksfamilie, waar God op ʼn besondere manier hulle later weer wil gebruik as toegang en deur tot die wyer gemeenskap rondom hulle.

3. Bedien hulle

– En wanneer die dag aanbreek wat hulle jou genoeg vertrou om aan jou van hulle nood en behoeftes te openbaar, wees sensitief vir God se Gees se stem om te hoor hoe Hy jou as God se tuinslang, wil gebruik om daardie nood en behoeftes te bedien. Dan sal jy sien hoe die gawes van die Gees mense daar begin bedien dat hulle die liefde en genesing van God daar voor hulle oë sal sien werk en beleef. Hulle sal, soos 1 Kor. 14 sê, dan aan mekaar sê: God self is hier!

4. Getuig dan eers

– Dit is dan die tyd om die goeie nuus van die Koninkryk aan almal daar te verkondig. Sê vir hulle: Die Koninkryk van God het na julle toe gekom om ook hier dinge te verander.

Kyk ons na die bediening van Jesus, sien ons hoe Hy self hierdie selfde strategie gebruik het om die Koninkryk van God aan mense te bedien.

Ons sien en hoor hoeveel keer het Hy met Sy Vader oor mense gepraat. Dan sien ons ook hoe Hy saam met hulle gekuier het, om uiteindelik daardie man of vrou van vrede, en hulle mense, te bedien waar dit nodig was. Om dan ook so aan hulle te bedien dat die Koninkryk van die hemel ook hier deurgebreek het.

So sien ons die rivier van God tussen die nasies deurvloei, en soos wat dit vloei, raak dit die nasies aan en verander alles.

So sien en beleef mense die heerlikheid van die enigste, ware God tussen hulle.

En sê hulle vir mekaar: God is self hier!