Print this page

Hoe dissipel ons nasies?

Dit is so ʼn belangrike vraag dat ek jou weer aan Jesus se bedieningstrategie daar in Lukas 10 wil herinner.

Ons moet die nasies dissipel soos Jesus dit vir Sy dissipels geleer het om te doen. Soos wat Hy vir hulle daar in Lukas 10:4-12 uitgespel het.

Het jy gesien dat Jesus eintlik vir ons vier stappe gee wat ons tree vir tree moet gee, daar waar ons elke dag lewe en werk, waarheen die Here ons gestuur het?

Kom ons kyk kortliks weer na hierdie vier stappe.

Seën hulle!

Met ander woorde, seën en bedien hulle met God se vrede (shalom) elke dag, deur elke dag vir hulle te bid en met jou Hemelse Vader te praat oor hulle, voordat jy werk toe gaan of na hulle toe gaan. Vra dat God hulle sal seën met die keur van Sy seëninge.

Bid elke oggend eers vir jouself en jou gesin, en dan vir elkeen van daardie mense en seën hulle dan in Jesus se Naam.

Kuier elke dag saam met hulle.

Of dit nou by hulle of by jou huis is; of by die werk is; en of dit nou op die sportveld is.

Kuier ontspanne saam met hulle en eet saam met hulle.

Word so deel van hulle lewe deur tyd saam met hulle te spandeer sodat hulle jou kan leer ken en leer vertrou.

Bedien hulle.

In die tyd wat julle saam kuier, vertrou die Here om vir jou hulle spesifieke nood en behoeftes te wys.

Dit sal beteken dat jy heeltyd baie sensitief moet bly vir die Gees van God se stem in jou. En as jy gehoor het dat Hy met jou oor hulle nood en behoeftes praat, wees dan net gehoorsaam en word God se tuinslang sodat Sy gawes van die Gees, of liefde in een of ander vorm, of genesing in een of ander vorm, of Woord van God in een of ander vorm, deur jou kan begin vloei.

Eers dan, getuig dan.

Vertel vir hulle sonder om dit prekerig te doen, van die goeie nuus van die Koninkryk.

Vertel vir hulle stories uit jou eie lewe wat getuig dat die Here God en Sy Koninkryk hier tussen ons op aarde oral deurbreek om ook hier dinge te verander.

Jesus het die Koninkryk van God na mense toe gebring, hulle behoeftes bedien en, nadat Hy hulle aandag so op Hom gevestig het en hulle begin dankie sê het vir wat gebeur het, vertel Hy hulle dan verder wat dit werklik is wat ʼn mens se lewe gesond en betekenisvol kan maak.

Onthou heeltyd Jesus se belofte aan ons terwyl ons hiermee besig is.
Hy het belowe: “Ek is by julle!”

Ons is dus nie alleen hierin nie.

Sy uitnodiging aan ons is om Sy “medewerkers” te wees, en met Hom hande te vat hierin.