Meld jou aan om een van God se medewerkers te wees

Gaan Gaan

 

Ons is nog steeds met Lukas 10 besig.

Hierdie keer wil ek saam met jou dink oor die eerste paar verse van daardie hoofstuk, waarin Jesus die volgende sê:

“Hy het vir hulle gesê: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.

'Gaan nou!’”

Wanneer ek en jy Mat. 28:18 tot 20 werklik verstaan, weet ons dat dit nie net ʼn GROOT OPDRAG is aan die minder as een persent “voltydse sendelinge in die offisiële sendingvelde van die wêreld” nie.

Want, in die lig van alles wat ons reeds met mekaar gedeel het, is daar eintlik glad nie so ʼn onderskeiding tussen “gewone gelowiges” en diegene wat sogenaamd “voltydse sendelinge” is nie.

As gelowige volgelinge van Jesus staan ons hier in Lukas 10 saam met die 72 gelowige volgelinge van Jesus en hoor ons Hom ook met ons praat in vers 2 en 3.

Kyk ʼn bietjie rondom jou... daar by die werk... of die universiteit... of op die plaas... of daar in die woonbuurt waar jy woon. Sien jy die “nasies” daarrondom jou raak?

Hoor jy hoe Jesus ook vir jou vra: Sien jy hulle? Sien jy die ryp oes op die land? Sien jy al die mense wat gereed is vir die goeie nuus van die Evangelie oor die Koninkryk van God wat aarde toe gekom het? Breek jou hart ook daaroor, soos Myne, vra Jesus ook vir jou en my?

“Gaan dan!”

Staan dan op en sê soos Jesaja daar in Jes. 6:8 gesê het, toe God kom gevra het: Wie sal ons stuur en wie sal vir ons gaan? Staan dan saam met Jesaja op en sê: Hier is ek, Here? Stuur My!

Of soos Petrus gesê het daar in Johannes 21:15-17 toe die Here Jesus vir hom gevra: “’Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?’

‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’

Hy sê toe vir hom: ‘Laat my lammers wei.’

Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?’

‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’

Hy sê toe vir hom: ‘Pas my skape op.’

Jesus vra hom die derde keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief?’

Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: ‘Het jy My lief?,’ en hy antwoord Hom: ‘Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.’

Hy sê toe vir hom: ‘Laat my skape wei.’”

So vra Koning Jesus vandag vir my en jou: Het jy my werklik lief? En indien ons “Ja”, sê, dan sê Hy vir ons ook, soos hier in Lukas 10: Gaan dan! Of, soos daar in Matt. 28:19: Gaan dan na al die nasies toe en maak hulle My dissipels, doop hulle en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

As jy vir Hom “Ja” gesê het dat jy Hom werklik liefhet en werklik glo dat Hy die nuwe Koning is, is dit soos daardie “ja” wat jy op jou troudag vir jou huweliksmaat gesê het, dat jy hom/haar vir altyd sal liefhê en vir altyd by hulle sal bly.

Daarom vra ek vandag nog ʼn keer vir jou: Het jy werklik vir Koning Jesus lief? Meer as al die ander hier?

Staan dan op en gaan dan na “jou gemeente” toe waarheen die Here jou beroep het, daar by jou huis, in jou woonbuurt, in jou besigheid, of op jou plaas, of in die skool waar jy skool gee, of waar jy op skool is! Gaan dan na hulle toe en maak hulle Sy dissipels!