Nuusbrief

Nuusbrief (115)

Friday, 22 October 2021 16:49

Wees eengesind onder mekaar

 

Romeine 15:5-6 ”En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”

Lees nou ook in Johannes 17: 20-21 wat sê hoe "Christus Jesus dit wil hê".

”Ek bid egter nie net vir hulle [die elf dissipels] nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Kom ek vra vir jou ʼn paar vrae om jou te help om presies te hoor wat die hart van ons Koning en Here is as Hy sê dat ons hier in die binnekring, in ons naby-familie van families”, veral eensgesind onder mekaar sal wees.

• Wat tref jou in hierdie woorde van Jesus, so by die eerste lees daarvan?
• Waarom, dink jy, is dit vir Jesus so belangrik dat daar eenheid tussen Sy volgelinge sal wees?
• Deur die eeue was een van die Bose se mees effektiewe wapens teen die Christendom om verdeeldheid te saai. Wat gebeur as daar verdeeldheid onder Christene in ’n gemeente of familie van gelowiges is?
• Wat is die verskil tussen eensgesind en eenders? Is daar ook 'n verskil tussen eensgesind en eendersdenkend?

Kom ek haal nog drie teksgedeeltes aan hieroor om ons verder te help om ʼn bietjie dieper te delf in hierdie waarheid.

Romeine 14:19: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Filippense 2:2: “Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”

Efesiërs 4:3: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”

• Hoe help hierdie tekste jou om “eensgesindheid” beter te verstaan?
• Wat is nodig dat daar werklik eensgesindheid tussen gelowiges sal wees?
• Wat is die verband tussen ons verhouding met die drie-enige God en die eensgesindheid onder ons as gelowiges, veral daar in ons naby-familie van families?

Miskien het die Heilige Gees jou oortuig van iets wat nie lekker is tussen jou en iemand in jou naby-familie van families nie.

Bely dit voor die Here en gaan doen dan ook teenoor daardie een waarvan die Here jou oortuig.

Friday, 15 October 2021 10:25

Verder oor van hierdie “mekaar” tekste

 

Luister net na wat hier in Fillipense 2:1 tot 4 staan en wees sensitief vir wat die Heilige Gees self vir jou in hierdie verband wil sê oor jou verhoudinge met jou naby-familie van families.

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

Dra mekaar se belange op die hart!

Ek dink dit begin gebeur as ons deur die Here se genade, ʼn geleentheid kry om as’t ware vir 24 uur in mekaar se skoene te loop. Of as ons begin om moeite te doen om fyn na mekaar se lekker en se seer te luister om werklik daardie een se hartsbehoeftes en begeertes “raak’ te hoor of te soek totdat ek dit kry.

Het jy al ooit probeer om jouself te plaas in die skoene van sê byvoorbeeld, die geestelike leiers of leierspaar wat die Here daar in julle familie van families gebruik om julle soveel kere te bedien as julle seer het of hulp nodig het?

Wat dink jy het hulle nodig? Waarvoor sal hulle vra as hulle durf waag om werklik honderd persent eerlik te wees?

Is jy bereid om God se hande en voete en God se mond en hart te wees wat alles in jou vermoë gaan doen om daardie behoefte of begeerte op die een of ander wyse, al is dit net naastenby, te bedien?

Beleef mense rondom jou werklik dat jy daar is vir hulle? Vier-en-twintig uur van elke dag, sewe dae ʼn week?

Beleef hulle iets van Jesus en die Heilige Gees se troos, liefde, aansporing, meegevoel en meelewing op ʼn emosionele vlak van jou kant af?

Een van die wonderlike en maklikste maniere om werklik daar te wees vir ʼn gelowige broer of suster, is om vir hulle te bid, daar by hulle, waar hulle jou kan hoor en jou hand op hulle skouer kan voel. Maar ook daar waar jy vir hulle by die huis gaan bid as jy belowe het jy sal!

Onthou, daar is groot krag in gebed. Ons roep immers die Here God en Koning van hierdie wêreld nader om te kom help!

ʼn Wêreld kan verander as ons opreg vir mekaar begin bid.

Ek praat vandag met jou as volgeling van Jesus in die lig van wat die lewende God sê in Sy Woord. Met ander woorde, dit wat ons hier vir mekaar sê is nie onderhandelbaar of iets waaroor jy met my kan stry of verskil nie.

Dit is of reg of verkeerd in jou lewe. Dit is of so of dit is nie so nie, en in die lig daarvan staan jy verantwoordelik teenoor ons God self.

Met dit gesê, kom ons trek die Bybelse lyne in die verband vir mekaar.

As volgeling van Jesus het die Here jou deur die Gees êrens heen gelei en daar in ʼn bepaalde gemeenskap neergesit, binne ʼn klomp verhoudinge met mense.

Vandag gaan ons veral aandag gee aan jou verhoudinge met ander volgelinge van Jesus.

Omdat niemand van ons bedoel is om “lone rangers” te wees nie, pas elkeen van ons êrens in die groter, wêreldwye Liggaam van Jesus, of Ekklesia met ʼn hoofletter. Maar dan pas ons ook êrens, lokaal, in die gemeenskap waarin ons woon en werk, naby en bereikbaar, sodat ons Bybelse liefdesverhoudinge kan hê met ʼn groep mense wat ek ons “naby-ekklesia” kan noem, of sommer net ons lokale “familie van families”.

Dit maak nie saak hoe groot hierdie groep mense is nie en ook nie waar hulle woon nie. Wat belangrik is, is dat dit ʼn groep gelowige volgelinge is teenoor wie jy honderd persent ge-commit is, en wat ook honderd persent ge-commit het tot jou, om werklik mekaar se “familie van families” te wees.

Dit is veral hier, in hierdie binnekring, waar alles oor gesonde, Bybelse verhoudinge met mekaar gaan. Dit is hier waar ons veral kans kry om hierdie “mekaar” tekse, hierdie Bybelse liefhê van mekaar, te oefen en self te ervaar.

Omdat hierdie soort “liefhê van mekaar” nie net lippetaal kan en mag wees nie, gaan ek in die res van hierdie stukkie skrywe, en in die skrywes wat kom, die “mekaar liefhê” prakties dissekteer sodat daar geen misverstand kan wees oor wat dit daar in julle binnekring beteken nie.

Wanneer Paulus, onder die inspirasie van God die Gees, iets oor hoe die Ekklesia werk, wil oordra, gebruik hy die beeld van die liggaam om die Ekklesia te beskryf.

Waar dit egter gaan oor die atmosfeer en die emosionele klimaat wat daar moet heers, word die prentjie van ons verhouding teenoor mekaar as dié van “familie van mekaar” gebruik. En dit is in hierdie verband wat al die mekaar-tekse dan gebruik word om iets van die praktiese liefde tussen ons in verdere detail te beskryf.

Van hierdie “Mekaar-tekste” kyk ons nou na die volgende:

Rom. 12:9,10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”

Hier word veral twee dinge oor hierdie liefde tussen ons gesê:

• Wees opreg en hartlik vir mekaar lief soos wat broers en susters binne ʼn gesin of familie mekaar behoort lief te hê. (Ander tekse wat jy hieroor ook kan lees is Kol. 3:14 en 1 Joh. 4:11-12)

• Bewys eerbied teenoor mekaar. As ek en jy weet dat ons albei êrens presies inpas in ʼn groter plan van die God en Koning van hierdie wêreld, met die presiese “s-h-a-p-e” wat ons nodig het om te kan doen wat ons moet doen, dan sal ons mekaar saggies en met groot eerbied en respek hanteer. (S- staan vir “spiritual gifts”; h – staan vir “heart” of passie; a – staan vir “abilities” of vermoëns; p – staan vir “personality” of die presiese “jy” wat God in detail aanmekaar gesit het daar in jou moeder se skoot; e – staan vir “experiences” of die ervaringe, seer of lekker, wat jy langs die lewenspad tot hier beleef het, wat God nou wil gebruik as deel van jou unieke getuienis of storie aan die mense om jou)

 

In soveel gedeeltes in God se Woord, sê die Here self vir ons dat die “liefde” waarvan Jesus praat wat tussen medegelowiges in die ekklesia moet wees, baie prakties moet raak en beslis nie net lippetaal moet wees nie.

Oor die eeue het gelowiges die sogenaamde “mekaar” tekste in die Nuwe Testament gebruik as praktiese beskrywings van wat dit dan beteken om mekaar te leer lief kry en lief te hê binne die familie van families in die ekklesia.

Kom ek noem hulle vir jou hier op.

Bewys eerbied teenoor mekaar – Rom. 12:10

Wees eensgesind onder mekaar – Rom. 12:16; 1 Pet. 3:8

Aanvaar mekaar onvoorwaardelik – Rom. 15:7

Onderrig mekaar – Rom. 15:14

Gebruik die gawes van die Gees om mekaar te bedien – 1 Kor. 12:7; 1 Pet. 4:10

Deel met mekaar wat julle het – 2 Kor. 8:13-15

Groet mekaar – 2 Kor. 13:12

Dien mekaar in liefde – Gal. 5:13

Dra mekaar se laste – Gal. 6:2

Wees goed vir mekaar – Ef. 4:32; 1 Tess. 5:15

Vergewe mekaar – Ef. 4:32

Sien om na mekaar se belange – Fil. 2:3-4

Wees geduldig met mekaar – Kol. 3:13

Wees lief vir mekaar – Kol. 3:14; 1 Joh. 4:11-12

Leer en onderrig mekaar – Kol. 3:16
Moedig mekaar aan – 1 Tess. 5:11; Heb. 10:25

Versterk mekaar – 1 Tess. 5:11

Lewe in vrede met mekaar – 1 Tess. 5:13

Moedig mekaar tot liefde en goeie werke aan – Heb. 10:24

Bely julle sondes teenoor mekaar – Jak. 5:16

Bid vir mekaar – Jak. 5:16

Wees gasvry teenoor mekaar – 1 Pet. 4:9

Ek wil vir die Gees van God die geleentheid gee om self met jou hieroor te praat.

Wanneer jy ʼn rukkie stil voor die Here kan wees, neem jou Bybel en lees elkeen van hierdie verse hardop vir jouself. Dink dan na oor jou verhouding as gelowige volgeling van Jesus teenoor ander gelowiges, die daar rondom jou, maar ook diegene wat God in jou lewe gebruik. Vra vir God die Gees om jou prakties te wys hoe jy vandag en in die volgende dae gehoorsaam kan wees en kan gaan doen wat jy gehoor het by jou Here en Koning in jou verhouding met medegelowiges.

Ek belowe dat ek het dieselfde hier aan my kant reeds gedoen terwyl ek hierdie gedeelte vir jou skryf. Wow, en watter vars woord was dit nie vir my om weer so gekonsentreerd God se woord te hoor oor wat dit werklik beteken om ander lief te hê nie!

Sunday, 26 September 2021 16:47

Waar twee of drie van julle bymekaar is…

 

Ek wil hierdie gedeelte oor al die mekaar-tekse begin met die belangrikste van hulle almal naamlik Matteus 18:20:

“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”

Ek lees vanoggend net weer hoe God die Gees Petrus daar in 1 Petrus, hoofstuk 1, inspireer om in woorde te beskryf wie ek en jy as gelowige volgelinge van Jesus Christus werklik is.

Hoor net van die uitdrukkings wat Petrus gebruik om dit te probeer raak-sê in mense-woorde (en ek gaan dit uit THE VOICE aanhaal):

“God’s chosen people living as aliens scattered among the unbelievers”

“...who have been selected and destined by God the Father and made holy by God the Spirit that you may be obedient to Jesus the Anointed and purified by the sprinkling of His blood.”

“Because He has raised Jesus the Anointed from death, through His great mercy we have been reborn into a living hope— reborn for an eternal inheritance, held in reserve in heaven, that will never fade or fail.”

“Through faith, God’s power is standing watch, protecting you for a salvation that you will see completely at the end of things.”

“Suffering tests your faith which is more valuable than gold”

“Although you haven’t seen Jesus, you still love Him. Although you don’t yet see Him, you do believe in Him and celebrate with a joy that is glorious and beyond words. You are receiving the salvation of your souls as the result of your faith.”

En so kan ek aangaan en aangaan!

Wat ek dus vir jou wil sê is dat as ons praat van die ekklesia, hierdie familie van families van gelowige, gehoorsame volgelinge van Jesus, praat ons van ʼn besonder begenadigde groep mense!

In hulle, in hulle lywe en gees, woon ʼn Lewende God, Jesus Christus die nuwe Koning op aarde, deur Sy Gees.

En, sê hierdie Jesus vir ons daar in Mat. 18, as julle bymekaar is, twee of drie of meer, is Hy as ons Koning en Here, as God die Seun, op ʼn besondere manier teenwoordig...

Om ons te bedien deur die gawes van die Gees.

Om met ons te praat.

Om ons sommer net lief te hê sodat ons Sy liefde as ʼn tasbare werklikheid deur Sy hande en voete, ons gelowige broers en susters wat daar saam met ons is, te laat belewe.

Om ons te laat ervaar Hy by en in ons is en ons so verseker kan weet dat ons nooit alleen is nie.

Hoef ek aan te gaan om in gewone Afrikaans vir jou iets te sê oor hoekom dit so belangrik is om saam met ʼn familie van families gelowige, gehoorsame volgelinge van Jesus so gereeld as wat moontlik is, byeen te kom en saam te kuier?!

Laat elkeen wat ore het, hoor!

 

In die lig van wat ek die afgelope tyd in die weeklikse nuusbriefie, NOG ʼn SLUKKIE NUWE WYN, met julle gedeel het oor die Ekklesia as FAMILIE VAN FAMILIES IN JESUS, het ons Here en Koning my aandag veral op Sy Woord in Heb. 10:24,25 gevestig:

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

In die afgelope meer as 500 dae van afsondering tydens GRENDELTYD a.g.v. CoVid, het ons almal so bewus geword van die noodsaak om gereeld byeen te kom met lede van ONS FAMILIE VAN FAMILIES met wie ons regtig ʼn naby-pad in die geloof stap.

Daarom het ek en my geliefde vroutjie die volgende briefie aan die sowat 10 tot 15 mense hier in ons direkte omgewing geskryf om die volgende saam met ons te oorweeg:

Sou jy en jou geliefde/s graag deel wou wees van so ʼn ekklesia van gelowiges wat werklik daar vir mekaar gaan wees as NABY-FAMILIE-IN-JESUS? Dit beteken nie dat ons mekaar se drumpels gaan deurtrap nie, maar dat ons wel gereeld gaan tyd maak om bymekaar te kom en doelbewus moeite gaan maak om daar vir mekaar te wees om mekaar baie prakties LIEF TE HÊ soos wat die Here dit aan ons voorhou in Sy Woord. (Hierdie is dus nie ʼn geleentheid waarheen ons “vreemdes” of “ander “ gaan heen uitnooi nie. Hierdie is ons “veilige en sagte plek” waar ons mekaar gaan bedien en gaan versorg. As ons voel iemand anders kort bediening, dan reël ons ander geleenthede om dit te kan doen.)

Watter dag en tyd, en hoeveel keer per maand, voel julle, moet so ʼn groepie normaalweg bymekaar kom? Moet ons eenmaal per week, of eenmaal elke twee weke, of selfs so min soos eenmaal per maand bymekaar kom? Watter dag en tyd voel jy, sal julle pas? (As julle meeste aande van die week beskikbaar is, sê dan asb. so.)

Sommige tye gaan ons hiervan afwyk in die lig van uitreike of bedieningsgeleenthede wat ons saam gaan beplan en waar van ons of almal van ons by betrokke gaan wees. Ons kan bv. saam beplan aan ʼn groter samekoms van gelowiges, sê eenmaal of meer per maand, op ʼn Sondagoggend wanneer die meeste mense los is, of saam beplan aan ʼn bediening- en toerustingsnaweek of uitreike elke kwartaal of twee keer ʼn jaar.
Tot sover my briefie. (Sien jy, ek is self baie ernstig besig om nuut na te dink oor hoe die prentjie lyk van ʼn Bybelse ekklesia waarvan ek graag deel wil wees!)

Dit het my terug Skrif toe gedwing en dit is wat ek ontdek het oor die prentjie van die byeenkom van “die ekklesia”, rondom Jesus, en in die vroeë gemeentes in Handelinge (en ek gaan nie probeer om volledig te wees nie, maar tog van die belangrikste vir jou hier kursories neerskryf):

Waar die ekklesia byeen was en die tekens van die brood en die beker saamgebruik is – en dit was so dikwels as moontlik – was die bedoeling altyd dat dit net gelowiges is wat daar byeen was, soos toe Jesus dit saam met Sy dissipels gebruik het in Joh. 13, en in die lig van wat daar in 1 Kor. 11 in die verband staan.

Daar was ook die spontane byeen-wees van gelowiges deur die week, rondom die etenstafel – tipies soos die Joodse gesinne dit destyds gedoen het. Ons sien ook Jesus dit doen met Sy dissipels, en ook waar hulle by gesinne soos dié van Lasarus, Martha en Maria byeen was, maar ook soos dit daar in Handelinge 2 en 4 gebeur het.

Dan sien ek ook hoe gelowiges in groter groepe, soms op Sondae, maar ook ander tye, bymekaar gekom het, waar byvoorbeeld die briewe van ʼn Paulus gelees is, of waar Paulus byvoorbeeld met die ouderlinge in Efese gepraat het – soos daar in Handelinge 20.

Dan sien ons ook hoe gelowiges mekaar bedien en selfs uitstuur by die byeen-wees van die ekklesia, soos daar in Hand. 13:1 tot 3 gebeur het, waar Paulus en Barnabas deur die Gees van God uitgestuur word na die nie-Joodse wêreld.

Ons sien ook waar Jesus die ekklesia, en dus gelowige volgelinge, baie pertinent uitstuur na gemeenskappe wat hulle nie ken nie, maar ook van hulle selfs terugstuur na waar hulle woon en werk om daar die boodskap van die Koninkryk te gaan verkondig. Kyk die bekende Lukas 9 en veral Lukas 10, maar ook waar mense soos Levi, en die verloste duiwelbesetene, teruggestuur word na waar hulle werk of waar mense hulle ken om daar getuie te gaan wees.

Het dit jou ook opgeval dat Jesus nie op een dorp ʼn reuse gemeente of kerk “geplant” het nie? Ja, selfs in Handelinge, in stede soos Jerusalem, en later Korinte en Rome, lees ons van die gelowiges wat oral oor die stad in kleiner, families van families byeengekom het, meestal apart en informeel, en net af en toe, in groter getalle. Maar nooit was daar sprake van dat hierdie groepe of groepies verskillende, aparte “kerke” met hulle eie name en strukture sou wees nie!

Dan sien ons ook groepies gelowiges, of ekklesia, wat baie gefokus byeengekom het, soos ʼn klomp persone wat Paulus geïdentifiseer het as toekomstige lede van die vyfvoudige bediening, wat hy vir lang tye weekliks opgelei en toegerus het met die oog hierop – kyk Handelinge 19:9, in die skool van ’n sekere Tiránnus.

So sien ek ook vir Jesus baie pertinent 12 manne kies wat Hom as Sy familie van families gaan volg en in wie se lewe Hy vir 3 jaar baie gefokus gaan inbou en geestelik gaan belê en hulle toerus met die oog op die koms van die Koninkryk van God. En selfs, tussen hierdie 12, was daar ʼn kern-korps van drie manne in wie se lewe Hy veral betrokke was en wie Hy saamgeneem het kairos-tye.

ʼn Baie interessante bymekaar-kom en saam-wees as ekklesia, was vir my Paulus en Akwila en sy vrou, Priscilla, se verhouding en hulle saam-stap as FAMILIE VAN FAMILIES in Jesus. Ons lees byvoorbeeld daarvan in Handelinge 18. Akwila en Priscilla was net soos Paulus, “tentmakers”, of in die konstruksie-bedryf (as ons dit modern sou beskryf). Maar hulle was ook die mense wat Paulus gehelp het om ʼn geweldige deurbraak te maak in sy bediening in die stad, Korinte, deur vir homself ʼn staanplek te kry in die markplek, wat uiteindelik ʼn radikale verandering in die hele bedieningswyse van Paulus sou veroorsaak.

Hiermee dink ek, het ek vir jou genoeg stof vir nadenke gegee.

Gaan dink ʼn bietjie na oor waar jy “inskakel” in die Ekklesia van Jesus, en hoe dit daar lyk en dinge daar gedoen word. Vra dan ʼn slag vir jou baie krities af of dit enigsins klop met wat ons in die Skrif in die verband lees.

Volgende keer gaan ons, soos ek laas belowe het, gesels oor wat die Bybel sê oor hoe ons mekaar moet liefhê as ons gesels oor die sogenaamde “mekaar” tekse in die Bybel.

Saturday, 11 September 2021 09:21

Julle moet leer om mekaar lief te hê

Jesus het self vir ons gesê wat tussen gelowige volgelinge, wat deel geword het van die ekklesia of familie van Jesus, moet gebeur as hulle bymekaar kom of met mekaar besig is.

Luister wat sê Hy hieroor in Joh. 13:34,35:

“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Ek wil in my eie woorde probeer beskryf wat daar tussen gelowiges moet begin gebeur wat deel geword het van die familie van Jesus:

Ons moet leer wat dit werklik beteken om mekaar lief te hê as ons werklik ʼn familie van families van Jesus vir mekaar wil wees.

Om te leer om mekaar lief te kry en mekaar lief te hê, behels baie meer as wat die meeste van ons so met die eerste opslag besef.

Ja, dit beteken werklik om te leer… om mekaar lief te kry. Dit gaan nie sommer net gebeur nie. Liefde gebeur nie sommer net en dan is dit vir altyd daar nie.

Daar moet hard gewerk word en tyd gemaak word om iemand te leer ken en te leer aanvaar met al hulle dinge en verskille.

En dan moet daar gepraat word… oor alles en nog wat. Ernstige dinge en lawwe dinge. Gewone dinge en diep, geestelike dinge.

Ons kan soveel leer deur maar net te gaan kyk hoe Jesus vir drie jaar hier op aarde Sy klompie volgelinge geleer het en iets laat ervaar het van wat dit beteken om “Sy mens-familie” hier op aarde te wees, en dat Hy hulle elkeen se familie is.

Gaan kyk ook hoe dit daar in Handelinge, in die eerste gemeentes, in die ekklesia gebeur het. Gaan kyk hoeveel tyd hulle met mekaar saam deurgebring het en wat alles daar tussen hulle gebeur het.

Lees byvoorbeeld in Handelinge 2: 41-47:

“Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.

Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

(Net tussen hakkies: Het jy gesien dat hulle nie iemand na die byeenkomste van die ekklesia uitgenooi het nie? Mense het net deel geword en na die byeenkomste van die ekklesia gekom as hulle klaar tot bekering gekom het en die “normale geestelike geboorte” beleef het in hulle eie lewens.)

Kom ons lees wat in Handelinge 4:32-35 staan:

“Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.

Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.

Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”

Hoor jy? Om te leer om mekaar lief te hê, is baie prakties!

Volgende keer gesels ons verder hieroor as ons gesels oor die sogenaamde “mekaar” tekse in die Bybel.

 

Een van die mooiste sê-goed oor wat dit beteken om ʼn kind van die Koning van alle konings te wees, is die volgende:

Hy het ons wat bergies was, daar tussen die asgate waar ons probeer oorleef het, gaan uit-red, maar nou moet Hy die gemors en stank van die asgate uit ons uit kry!

Of: Hy het ons uit Egipte uit gered, maar nou moet Hy Egipte uit ons uit kry!

Sien, dit is waarom Hebreërs sê: Sonder heiligmaking gaan niemand God sien nie!

Of waaroor Romeine 12:2 en 2 Kor. 10:3 tot 5 praat.

God se Gees moet elkeen wat deel geword het van die Ekklesia, stelselmatig detoks van al die gemors en gif wat ons vir soveel jare ingekry het en wat nou ons “siel”, ons denke, ons emosie-wêreld en ons wil besoedel en vergiftig het.

In die taal van Efesiërs 4:22-24:

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

Weet jy waar gaan dit gebeur?

Op twee plekke:

Daar waar jy met God se Woord, die Bybel, elke dag, lank genoeg stil word en luister na wat God self vir jou daardeur wil sê en as jy dan gaan doen wat jy moet doen om gehoor te gee aan wat Hy vir jou gesê het.

Maar ook daar waar jy tussen ander familielede in die ekklesia tyd deurbring en leer om eerlik en oop te wees, terwyl Jesus tussen julle, deur Sy Woord en Sy Gees, jou en hulle leer wat dit regtig beteken om Hom lief te hê en te gehoorsaam bo alles, maar ook hoe om mekaar en jouself lief te hê.

Ek is so bang jy hoor nie mooi wat ek hier vir jou sê nie. Daarom wil ek ʼn bietjie tot stilstand ruk om jou te dwing om ʼn slag nuut te dink hieroor.

So, wees sterk, gordel vas en luister mooi wat ek nou gaan sê:

Ek het ontdek dat die byeenkoms van gelowiges, daar waar ons as familie van Jesus bymekaar is, in die eersteplek, bo alles, ʼn plek moet wees waar net gelowige volgelinge van Jesus byeen moet wees.

Dit is nie die plek waarheen ons ongelowiges moet uitnooi nie. Dit is net vir ons bedoel.

Is jy nou wakker?

Dit moet die sagte plek wees waar dit veilig vir ons as weergebore mense is om te val of waar ons kan kom lê as ons seer gekry het.

Dit moet die plek wees waar ons eerlik kan wees en waar ons kan vertel van ons innerlike worstelinge en pyn. En waar ons kan beleef hoe ander ons liefhet en versorg ten spyte hiervan.

Die byeenkoms van die ekklesia is in die eersteplek bedoel waar ons Jesus kan ontdek as Immanuel, God by en tussen ons.

Volgende keer gesels ek in meer detail oor hoe ons mekaar kan help verander daar in die byeenkoms van die ekklesia.

Weet jy wanneer gaan ander mense bewus raak van hierdie “ander”, “vreemde”, “nuwe mens-spesie” wat hier op aarde tussen hulle rondloop?

Nee, dit gaan nie plaasvind as jy hulle “kerk toe” vat nie!

Kom ek “skok” jou met ʼn paar interessante statistieke. Minder as tien persent mense leer ken Jesus as Verlosser en Here “in die kerk” en in “kerklike byeenkomste”!

Tussen tagtig en negentig persent van mense ontdek die God van die Bybel, en Jesus as Opgestane Verlosser en Here, daar waar hulle in die gewone lewe, by die werk, op universiteit, of op skool, op die sportveld en in die openbare lewe, te make kry met iemand wat in sy wandel en handel duidelik “anders” is! En die rede waarom hy of sy so “anders is”, is omdat hulle deel is van hierdie nuwe “mens-spesie”, God se familie hier op aarde, die ekklesia.

Ja, in ons huise en by-mekaar-komste as ekklesia, oefen ons en leer en ervaar ons wat dit werklik behels en kos om “familie van God” te wees.

Dan moet ons uitgaan, buite toe, daar op die voorstoep van die hel, in die gewone lewe en markplein, om daar God se hande en voete te wees. Daar gaan ons sien en beleef hoe ander mense deur God se Gees “weer gebore word” en deel word van die Ekklesia, en ons hulle doop met water en hande oplê sodat Jesus as die Doper met die Gees, hulle kan doop met Sy Gees.

Die lewe van die Ekklesia, waar hulle in die Naam van die Koning en in diens van die Koninkryk van die hemel, alles en almal rondom hulle met hulle totaal anderse lewenswyse en gesindheid behandel en bestuur (“regeer”), daar op die voorstoep van die hel, gaan daar mense “aansteek” met lewe uit die Hemel.

Een van die beste Bybelse begrippe in die Grieks wat ek ontdek het wat dit beskryf, is die begrip “oikonomos”.

Ons sien dit in Skrifgedeeltes soos in Luk. 12:42, Luk. 16:1 e.v. en Tit. 1:7.

Daar word die Griekse woord “oikonomos” gebruik wat die Strongs woordelys as “steward, governor, manager of a household or householdaffairs” beskryf, “to whom the head or proprietor has instructed the management of his affairs, the care of receipts and expenditures, and the duty of dealing out the proper portion to every servant and even to the children not yet of age.”

Ek en jy moet dus namens God, verantwoordelike uitdelers en besteders word van God se genade aan mense. Daarvoor het Hy aan ons die Evangelieboodskap gegee, maar ook sy Gees in ons, wat aan ons bonatuurlike gawes gee om mense op die regte tyd met die regte porsies van hierdie genade te bedien.

As Sy aangenome kinders, wil God hê ons moet Sy oikonomosse word. Maar dit is ‘n geloofskeuse wat ons as aangenome kinders van God moet neem.

Ons moet besluit of ons gaan glo dat ons Sy aangenome kinders is, en of dit sin en betekenis aan ons lewe gaan gee. Of ons kan as Sy aangenome kinders, maar steeds probeer om op die ou manier, soos tipiese “bergie”-nasate van Adam, te leef. Wat lewensin soek in wat jy elke dag suksesvol regkry.

Elke ouer wat ten minste twee kinders het, kan jou vertel hoe verskillend hulle die gesin beleef.

Vir die een is dit ‘n vreugde om saam met die gesin dinge te doen. Terwyl die ander een net botweg weier. Beide geniet die voorreg om kinders te wees in hierdie ouerhuis, maar hulle houding teenoor hulle ouers is verskillend.

Verstaan mooi, alhoewel hulle houdings verskil, kanselleer dit nie hulle “reg” om kinders van daardie ouers te wees nie. Hulle gesindhede beïnvloed wel die wyse waarop hulle lewe in daardie huis, en hulle verhouding met hulle ouers.

Weet jy waar wil die Here ons manier van dink oor ons “kindskap” en “oikonomos-wees” verander?

Daar tussen mense wat soos ons familie van Jesus is.

Volgende keer gesels ons verder hieroor.

Ja, die Ekklesia word oral in die Nuwe Testament God se familie genoem, God se “nuwe familie van seuns en dogters”.

As jy dus ʼn beskrywing soek van wie ons as die nuwe mens-spesie van God hier op aarde moet wees en wat ons onsself moet noem, dan kan ons nie ʼn beter naam of term gebruik as “familie van God, en van Jesus” nie.

Dit beskryf dan ook presies waaraan mense ons as lede van hierdie Ekklesia sal herken. Naamlik dat ons werklik “familie van mekaar” is, al is dit net die bloed van Jesus wat ons “familie” van mekaar maak. Ja, dan sal mense ons herken as deel van die Ekklesia, aan die manier hoe ons mekaar liefhet soos wat Jesus ons liefgehad het. (Joh. 13:34,35)

Alles in die Ekklesia gaan dus oor verhoudings.

Waar hierdie nuwe soort liefdesverhoudinge plaasvind, is dit die bewys dat ons hier te make het met nuwe, weer-gebore mense, met die Lewe, Gees en Jesus self in hulle en tussen hulle.

Weet jy wat het ek ontdek? Ek het ontdek dat ek eers werklik vry was om ander lief te hê soos ek myself liefhet, toe ek besef het wie ek werklik as “nuwe weer-gebore” mens en kind van die lewende God was!

Kom ek probeer dit ʼn bietjie “nuut”, as “nuwe wyn”, hier aan jou bedien.

Om ‘n merk in hierdie wêreld te maak, hoef ek nie altyd die beste te wees nie. Ek maak my merk in hierdie lewe deur net kind van God te wees. My lewe is ‘n sukses omdat ek God se kind is.

Die oomblik wanneer ek hierdie Bybelse woord vasgegryp het as “my waarheid”, en as my “Happy and safe place”, maak dit ‘n mens werklik vry om te lewe!

Om werklik te glo die God van hemel en aarde is in Jesus Christus my Vader, my Pappa in die Hemel, is dit die begin van ʼn nuwe manier van lewe. Is dit die begin van hierdie nuwe lewe as een van die Ekklesia, een van God se nuwe mens-spesie hier op aarde!

Dink saam met my aan ‘n dogtertjie wat bo-op ‘n muur staan. Haar pa nooi haar uit om tot in sy arms te spring. Maar om te spring, moet sy glo haar pa gaan sy woord hou en haar vang as sy spring.

Geloof is om te spring omdat ek weet en gekies het om te glo my Pappa in die hemel gaan doen wat Hy gesê het!

Ons weet dat ons God se kinders is, wat Hy “aangeneem het” omdat ons Jesus aangeneem het in geloof as ons Verlosser en Here, sê en belowe Johannes 1:12.

Omdat ek glo en weet dat dit wat God sê en belowe, vas staan, kies ek om in geloof die tree te gee wat ek in die gewone lewe moet gee.

Voordat ons nie gekies het en daardie tree in die geloof geneem het nie, glo ons nog nie...

Sodra ons daardie tree gegee het, het ons al die geloof wat daar is en wat nodig is. Al wat verder kan gebeur, is dat ons geloof sterker kan word deurdat ons leer om in meer en meer situasies God op sy Woord te neem en op grond daarvan die geloofstreë te begin gee, sodat God sy beloftes aan ons kan nakom.

Toe jy God op Sy woord geneem het en in Jesus geglo het, het Hy jou Sy aangenome kind gemaak en daarmee vir jou ‘n nuwe lewe gegee.

Hierdie nuwe lewe is soos ‘n nuwe woonplek wat Hy vir jou gegee het. Voor die tyd was jy, as nasaat van Adam, een van die duisende “bergies” op die straat. Wat geleef het uit alles wat julle op die asgate van die wêreld opgetel het.

In werklikheid was dit niks anders nie as ‘n stryd om oorlewing waar net die sterkstes bo-uit gekom het. Ons moes presteer om te bly lewe.

Maar nou, as God se aangenome kinders, het Hy ons van die asgate na Sy paleis toe geneem. Daarom leef ons nou as mense met ‘n hemelse Pa wat ook die Koning van alle konings is, wat vir ons sorg.

Omdat ons kinders van die Koning van alle konings is, hoef ons nie meer te veg om oorlewing nie. Vir die eerste keer kan ons konsentreer op dit waarvoor ons in werklikheid oorspronklik geskep en bedoel was om te doen hier op aarde, eerder as om heeltyd te probeer bewys dat ons iets beteken deur wat ons doen.

Om hierdie nuwe lewe te lewe, noem Jesus “om die Koninkryk van God binne te gaan”.

Die Koninkryk van God is ‘n term wat die Bybel gebruik om te beskryf waar God as Koning en Here regeer.

Ons het nou Sy aangenome kinders geword. En as kinders van die Koning, is ons nou vir die eerste keer vry om te wees wat ons oorspronklik bedoel is om te wees, naamlik om in die hier en nou, ambassadeur, bestuurder, administrateur van God se Koninkryk hier op aarde te wees.

Volgende keer gesels ek verder oor wat dit dan beteken om God se bestuurder hier op aarde te wees.

Page 1 of 9